Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoeveel haat, vrees asem ons elke dag in?
Esté Gross

‘Dit laat ’n mens wonder hoeveel plastiek ons inasem,” sê Melanie Bergmann, ’n mariene bioloog en medeleier van die North West Passage-navorsingsprojek, in die artikel “Plastiek in see-ys ‘soos ’n vuishou in die maag’ ” (Beeld, 16.08) oor die klein stukkies plastiek wat deur wind en weer na die Arktiese gebied gewaai is en daar in stukke ys uitgeboor is.

Dit is ’n Incovenient Truth* oor wat ons elke dag onwetend inasem. Veral met die internasionale dag van vrede wat Saterdag gevier word. Die VN se tema vanjaar is “klimaat-aksie vir vrede”. En dit maak sin. As die wêreld al hoe warmer word, maak ons dit warmer vir mekaar . . .

Bergmann wonder hoeveel plastiek ons inkry. Ék wonder weer hoeveel haat en vrees ons elke dag inasem.

In Suid-Afrika is daar ’n hele paar benoude katte wat op warm sinkplate benoude spronge maak. Hulle gee ons gruweldade, wreedheid, verwyt en vrees vir ontbyt.

Klein plastiekdeeltjies wat ons elke dag inasem.

Ons het ’n klimaat-aksie van ’n ander aard nodig voordat ons probeer om die wêreld van ons eie besoedeling te red.

Die rommel van gewelddadigheid moet eers opgeruim word.

En Suid-Afrika se voorstoep is jare laas gevee.

Die besem word vermis. Niemand weet waar hy is nie en of hy eens werklik kan vee nie.

En te midde van ’n woedestorm wat vuur drup, is die dak so vol gate dat daar nie genoeg emmers is om al die kole op te vang nie. Vir vrede om te vloei moet die ou herfsblare wat die geute verstop, verwyder word.

Die besem word vermis. Niemand weet waar hy is nie en of hy eens werklik kan vee nie.

Te midde van die storm in ons huis met dowwe ligte wat kort-kort afgaan, is ’n helder koplig nodig om die lekplekke in die dak in die donkerte te herstel.

Ook hande wat bereid is om vuil te word – en vreeslose flitse om die lig in die donker hoeke te skyn.

Wees ook versigtig oor by wie en watter koffie jy drink in dié storm. Takt is die rede waarom ’n koffiebeker ’n oor het – dit is om te verhoed dat die inhoud jou brand. Daar is ’n paar oorlose bekers in omloop.

Die korrels van verdraaide narratiewe word kwaadwillig geroer en wil soos die plastiekdeeltjies nie oplos nie. Dit skep ’n kunsmatige, maar gevaarlike orkaan.

Danie Niehaus sing in sy lied “Vir Wat?”: Wanneer gaan die mens leer, /jy besoedel nie die grond waarop jy teer? /Want kyk die see is groen en die bome is kaal, /wie kry die skuld en wie betaal vir wat?

  • Die osoonlaag van verdraagsaamheid is gevaarlik dun. Dit is tyd om haat en wanhoop te verban. Dit is al hoe ons die klimaatsverandering kan bestry. Net dalk kan bewolkte weer later na sonnige weer draai. * Verwysing na oud-visepres. Al Gore van Amerika se 2006-dokkie oor klimaatsverandering.
Meer oor:  Esté Gross  |  Plastiek  |  Vrees  |  Rommel  |  Haat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.