Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hof se houding self rassisties?

Veel is die laaste tyd gesê en geskryf oor die gelykheidshof se uitspraak dat die vertoon van die ou Republiekvlag in die meeste gevalle op haatspraak neerkom. Vandag wil ek dit vanuit ’n ander rigting bekyk.

Een van die eienskappe van ’n volwasse demokrasie is die manier waarop hy met sy minderhede omgaan.

Leopold Scholtz

Die begrip minderheid kan natuurlik op ’n duisend verskillende maniere vertolk word – dit kan gaan om die aanhangers van ’n minderheidsparty, mense van ’n ander seksuele aard, sprekers van ’n minderheidstaal, etniese minderhede, noem maar op.

’n Volwasse demokrasie gaan volwasse om met sulke minderhede. Hy laat lede van sulke minderhede toe om hulself te wees, mits hulle uiteraard nie die openbare orde aantas of die landswette oortree nie.

Byvoorbeeld: As gay mans in die privaatheid van hul woning ’n seksuele verhouding wil aanknoop, mág hulle. Tensy hulle flagrante openbare onsedelikheid pleeg – maar dit geld eweseer vir heteroseksuele verhoudings.

Dieselfde geld vir Afrikaners en ander Afrikaanssprekendes wat hulself nie as Afrikaners beskou nie. Die Grondwet gee álle burgers die vryheid van assosiasie en gelyke regte aan nege tale, waarvan Afrikaans een is. Maar Afrikaans het nou eenmaal met die ballas van die geskiedenis te make.

Apartheid en rassediskriminasie en die ontkenning van ander rasse se menswaardigheid in die praktyk, is hoofsaaklik in Afrikaans bedryf en verdedig. En dus het die taal vir baie mense ’n onaangename geur. Net so is apartheid in die naam van die ou Republiekvlag bedryf, wat dus ook vir baie mense ’n onaangename konnotasie het.

Van alle groepe moet juis die Afrikaners begrip hiervoor hê, al beteken begrip nie noodwendig goedkeuring nie.

Die hof het met sy uitspraak getoon dat hy ’n belangrike aspek van die demokrasie – die toegeeflike omgang met minderhede – nie verstaan nie.

Op die hoogtepunt van die vlagstryd in die 1920’s het die leier van die Vrystaatse Nasionale Party, dr. N.J. van der Merwe, in die Volksraad vertel hoe die vertoon van die Union Jack vir hom die onreg van die Engelse konsentrasiekampe in sy jeug opgeroep het.

Maar hy het ingesien dat die Suid-Afrikaanse Engelssprekendes nou eenmaal ’n emosionele band met die Union Jack het. Dus het hy sy verset teen die inkorporering van dié vlag in die Unievlag (later bekend as die Republiekvlag) ter wille van versoening laat vaar.

Net so moet die huidige Afrikaners begrip toon vir die seer van ander rasse wanneer hulle oor die Republiekvlag praat. Die geheim van die demokrasie is immers dat jy jou in die leefwêreld van ander groepe moet kan inleef. Maar dit werk na albei kante toe.

Ek, ’n Afrikaner, het grootgeword in die skaduwee van die Republiekvlag en heg dus emosionele waarde daaraan. Maar, net soos Van der Merwe, aanvaar ek dat ander mense met ’n ander agtergrond anders na die saak kyk.

Daarvoor moet ek begrip hê, en gevolglik aanvaar ek die huidige vlag volmondig as mýne. Terselfdertyd kan ek verwag dat hulle ook begrip vir mý gevoel oor die Republiekvlag moet hê.

Dat die gelykheidshof nou die vertoon van die Republiekvlag byna outomaties tot haatspraak verhef, is nie alleen ’n verkragting van die demokrasie nie. Wat die hof vir my sê, is dat my gevoelens vanselfsprekend rassisties en vol haat is. As woorde iets beteken, is die hof se houding self rassisties.

Omdat die Republiekvlag ’n onaangename konnotasie vir ander rasse het, sou ek toegee dat dit onverstandig is om dit sonder meer in die openbaar rond te swaai. Maar onverstandigheid is nie dieselfde as haatspraak nie.

Die hof het met sy uitspraak getoon dat hy ’n belangrike aspek van die demokrasie – die toegeeflike omgang met minderhede – nie verstaan nie.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Rassisties  |  Hof  |  Haatspraak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.