Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Holruggeryde uitdrukkings raak nou lank in die tand

Hy is nou siek en sat vir clichés en glo banale herhalings moet met wortel en tak uitgeroei word, skryf Rhynie Greeff.

Rhynie Greeff. Skets: Frans Jacobs

Cliché is ’n selfstandige naamwoord wat beteken ’n afgesaagde en oorgebruikte uitdrukking.

“Dit is ’n cliché dat die meeste clichés waar is, maar dan, soos met die meeste clichés, is daardie cliché onwaar,” skryf Steven Frank in The Pen Commandments.

Ek kan myself elke dag 110 persent bloedig vererg vir clichés wat aan die einde van die dag soos paddastoele uit die grond skiet. Op hierdie oomblik van tyd (’n omslagtigheid vir die woord nou) weet ek steeds net so min van hoekom ons clichés gebruik as van waar Dawid die wortels gegrawe het.

Nee, banale herhalings moet met wortel en tak uitgeroei word. Daarom pak ek nou die bul by die horings. Kom ons dink buite die boks, gryp die tier by die stert en vermy futlose frases soos die plaag. Kom ons speel ons kaarte reg vir ’n lig aan die einde van die tonnel om letterlik seker te maak verslete gesegdes is so dood soos ’n dodo.

Ek wil nou nie snaaks wees nie (bespeur die cliché), maar hoekom begin mense so dikwels ’n sin met die woorde “om eerlik te wees”? Is hulle oneerlik op ander tye?

Wat beteken dit as jy met die verkeerde voet uit die bed klim? Ek wil nie my geykte voet in my mond sit nie, maar ek dink dit is jou linkervoet. Outydse bygelowiges het geglo dit was slegte geluk as jou linkervoet die grond eerste raak omdat die son in die weste ondergaan en dit die simbool van die dood was.

In Latyn was sinistra die woord vir links wat sinister geword het. Gaan vertel dit vir suksesvolle linkerskoppers soos Dan Carter en Jonny Wilkinson.

Droë pitkos vir afgesaagde denke

Wie’t gesê links is sinister? Dan Carter, die voormalige All Black-losskakel, lê aan pale toe. Foto: Argief

Baie mense sê dink vir jouself. Dink vir jouself? Vir wie anders dink jy daar tussen jou ore?

Mense voer aan dis wat dit is en alles gebeur om ’n rede. Huh? Watter goeie rede kan daar wees vir die verkragting van ’n kind of iemand met ’n geestelike afwyking?

Hier is nog ’n kwelvraag: Hoe kan die liefde blind wees? Is fyn onderklere en hoëhakskoene dan Braille? Of tas ek nou in die donker?

Baie mense se breinjuweel is dat liefde onvoorwaardelik is. Ja dit kan wees, maar net as almal hul kant bring. Die liefde is mos ’n tweerigtingstraat, nie ’n eenrigting-doodloopstraat nie. Onvoorwaardelik? Ag ja, my man mishandel my, maar ek is só lief vir die rowwe blikskottel. Ag, Boetie is ons effense ondeunde seun, en ja, hy het met ’n masjiengeweer ’n klompie mense in ’n aanbiddingsplek nou die dag ongevraag hemel toe gestuur, maar ons bly só lief vir die stoutertjie.

O Ahmed? Ja, alhoewel hy daardie vliegtuig in ’n wolkekrabber vasgevlieg het, bly ek lief vir hom.

Teenoorgesteldes trek mekaar aan? Gaapwekkende snert. Baie paartjies lyk soos spieëlbeelde van mekaar. Skamelgeklede, pneumatiese meisies is ongelooflik effektiewe swaartekragpunte wanneer hulle hulself met hul selfone fotografeer. Klein deurtrekkertjies is groot trekpleisters.

En dan is daar die uitdrukking dat die tyd sal tel. Hoe? Een-twee-drie, hier is nog ’n oorgebruikte anglisismetjie. Is tyd regtig die beste heelmeester? Ja miskien, maar op jou sterfbed is tyd die vernietigende meester wat jou bloed laat stol.

Gepraat van bloed, wat van die alledaagse gesegde dat bloed dikker as water is? Ek verstaan die idee van familiebande, maar eie familie maak dikwels lekker droog en ander mense raak dan meer ondersteunend. Kinders sal hul ouers afskryf en omgekeerd. Ek wil nou nie ablusieblokstories praat nie maar rioolslyk is dikker as bloed en ek sien baie familierioolslyk. En dan verkies ek water.

Tussen die lyne?

Toe was daar nie veel tussen die lyne te lees nie . . .

Daar word gesê jy moet tussen die lyne lees. Hoekom? Tussen die lyne is daar net gapings. En tog het baie mense in ’n onlangse samesweringsboek oor Bird-eiland geglo hulle lees waarhede tussen die lyne. Jacques Pauw het vandeesmaand finaal bevind daar was geen getuies of feite vir die lesers tussen die lyne nie. Nee wat, die skrif is aan die gemeenplaasde muur vir hierdie gelees tussen lyne.

As jy jou lyne wil natmaak, is daar baie visse in die see. Verklaar dit hoekom iemand soos ’n holruggeryde vis drink? Die beroemde komediant W.C Fields, ’n strawwe drinker, het homself egter van die vis-cliché gedistansieer toe hy sê hy drink nie water nie, want visse piepie daarin. En dis nie ’n cliché nie. Wel, nog nie tot dusver nie.

Gepraat van water, hoekom is die gras altyd groener aan die anderkant? Hoe kan daar altyd meer water aan die anderkant wees? Die skrywer Erma Bombeck het hierdie saai gedagte op sy rug gedraai met haar boek The Grass is Always Greener Over the Septic Tank.

Ons leef met gevare en is herhaaldelik tussen die geykte duiwel en die stereotipiese diepblou see, maar ons glo optimisties dat elke wolk ’n silwer randjie het. Elke wolk? Beslis nie wanneer die wolk aan die anderkant of oor die septiese tenk sous nie.

Holrugpraatjies oor geld vier hoogty (ja afgesaag vier, nie vyf nie). Iemand sal sê dat geld nie op sy of haar rug groei nie en dat geld die wortel van alle kwaad is, maar in die politiek word geldstereotipes soms intens gery.

Die cliché van witmonopoliekapitaal

Andile Mngxitama, leier van die BLF, verwys gereeld na witmonopoliekapitaal as die oorsaak van Suid-Afrika se meeste probleme. Foto: Argief

Elke herhaaldelike verwysing na witmonopoliekapitaal deur sekere ANC-leiers, die BLF en die EFF is maar net vir my clichégewys die bewys dat hulle die pot mis sit. Jammer Julius, jammer Andile, ek het ekonomie gestudeer en ek het al geskryf dat daar nie iets kan wees soos witmonopoliekapitaal nie. Ook nie swartmonopoliekapitaal of bruinmonopoliekapitaal nie, want daar is nie eens iets soos gewone monopoliekapitaal nie.

’n Monopolie is die eksklusiewe beheer van handel in ’n produk of diens. Nie van die middel om dit te maak nie. En kapitaal? Dis soos arbeid en ondernemerskap een van die nie-eksklusiewe middele wat gebruik word om ’n produk of diens te produseer.

Dit sou idioties wees om te beweer daar is monopolie-arbeid of ’n Elon Musk-monopolie-entrepreneurskap. Dis net so dom om te sê kapitaal is eksklusief, want kapitaal kom van die buiteland en binnelands van die staat, private sektor en arbeiders se pensioenfondse byvoorbeeld. Die EFF het sekerlik ook kapitaal êrens in ’n balansstaat. As Suid-Afrika droogmaak, vlug sy kapitaal buiteland toe waar dit meer gemaklik is. Suid-Afrika kan nie eens sy eie kapitaal eksklusief monopoliseer nie. Hoe kan wit mense dit doen?

Ons is maar soos koeie wat dieselfde saai mondvol herhalings herkou.

Die een ding wat wel hier gemonopoliseer word, is sekere politici se breinbevrore rassistiese handel in die woordgebruik van witmonopoliekapitaal.

Ons is maar soos koeie wat dieselfde saai mondvol herhalings herkou. Of soos bulle wat onoorspronklik daarop aandring dat ’n vrou se plek in die huis is.

Dis hoe dit is.

En die res is geskiedenis – my laaste lewelose pêrel van afgesaagdheid waarmee ek net sê ek het geen benul oor enigiets verder nie.

* Dr. Greeff is ’n strategiese konsultant en voormalige diplomaat. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.