Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hond skaars, kat ’n ander storie

Die eet van hond en kat word nou verbied in ’n Chinese stad soos Shenzen, terwyl daar met die koronapandemie opnuut gekyk word na dié land se houding teenoor dierelewe, skryf Eben Human.

Terug met ’n draffie in die strate van Shenzen. Die inwoners van dié Chinese stad is van 27 Januarie drie weke lank ingeperk.Foto: JOHAN VAN DER WALT

Die oud-Johannesburger Johann van der Walt en sy vrou, Xiaoyi, woon sedert 2018 in Shenzen.

Hul gemeenskaplike belangstelling in fotografie het uiteindelik in ’n verhouding ontwikkel. Ons was ook al saam op ’n Namakwalandse blommetoer.

“Daar is nog geen klinkklare bewys wat die oorsaak van die virus was nie, maar daar word steeds vermoed dat dit in Wuhan in ’n varsproduktemark (’n sogenaamde wet market) ontstaan het,” sê Van der Walt.

Hy wys daarop dat die spesifieke mark ook allerhande wild en wildprodukte verkoop.

Die nuus van Shenzen se verbod op die verkoop en eet van hond- en katvleis is taamlik wyd op die internet gepubliseer.

Van der Walt sê dit is op 27 Maart die eerste keer deur Reuters gepubliseer en dit lyk beslis nie na ’n Aprilgek-grap nie.

Die Suid-Afrikaner wys daarop dat die verbod op 1 Mei in werking tree.

“My gebrek aan die lees van Chinees maak dit ongelukkig moeilik om ’n oorspronklike persverklaring in dié verband op te spoor.”

Die verbod op die eet van katte en honde is ’n goeie ding, maar heel moontlik meer van ’n gebaar as wat dit ’n werklike impak gaan maak, meen Van der Walt.

“Shenzen is ’n moderne wêreldstad en die gewone stadsinwoners eet in elk geval meer moderne kos. Veral honde is ook ’n baie geliefde troeteldier hier by ons.

“My gevoel is dat omtrent een in elke 20 huishoudings ’n hond as troeteldier het.”

Katte is egter ’n ander storie. Die oud-Gautenger meen hulle is moeiliker om in woonstelle te versorg.

“Ek het nog nie een restaurant hier gesien wat adverteer dat hulle kat of hond op die spyskaart het nie.”

In ander dele van China kan dit egter ’n ander storie wees, sê Van der Walt.

“Verlede jaar toe ek en Xiaoyi weggebreek het na Guiyang in die Guizhou-provinsie, (dit is suidwes van die Hubei-provinsie, waar Wuhan geleë is) het ons een oggend na ’n restaurant gesoek vir ontbyt.

“Hier het Xiaoyi my gewys dat een van die restaurante ‘hond’ op die spyskaart in die venster adverteer.

My vrou se familie kom oorspronklik van Wuhan.

“My vrou was daarna baie bekommerd en het by elke restaurant spesifiek seker gemaak daar is nie so iets op die spyskaart nie.”

Volgens Van der Walt is dit in afgeleë gebiede dus nog ’n probleem.

“Ek dink egter nie dit is ’n alledaagse praktyk in die moderne stede nie. Al die foto’s wat ’n mens op die internet sien, is van die omstrede stad Yulin in die Guangxi-provinsie, op die grens met Viëtnam.

Die lietsjie-en-hondevleis-fees word elke jaar in Yulin aangebied. Gaan kyk maar op die internet, maar wees gewaarsku, dit is nie ligte leesstof nie, sê Van der Walt.

Hoewel Wuhan sowat 1 000 km vanaf Shenzen is, was hulle reeds in die eerste paar dae van 2020 deeglik bewus van die virus.

“My vrou se familie kom oorspronklik van Wuhan. Hulle woon al sedert die vroeë 1980’s in die Guangdong-provinsie (waar Shenzen is).

“Die familiebande is sterk en ons het ook verlede jaar in Julie in Wuhan gekuier.

“In Januarie het ons met groot kommer nuus van die familie in Wuhan gevolg. Reeds in die tweede week van Januarie het die Wuhan-gesin hulle begin isoleer.”

Hierna moes Van der Walt en sy vrou ook vinnig reageer. Hulle wou nog haar verjaardag vier met ’n fliek en ete, maar het besluit dit is nie ’n goeie idee nie.

Teen 19 Januarie het hulle besef hulle kan nie meer vrylik beweeg nie. Hulle het kos gaan koop. Van 27 Januarie was hul amptelik vir drie weke ingeperk. Wat dinge in Shenzen moeilik gemaak het, is dat die stad se omgewing deur 15 miljoen trekarbeiders besoek word.

Wonderlik om weer vrylik te kan beweeg. Baie stadskinders van Sjenzen was beperk tot hul woonstel en het min buitelug gesien.

Hulle kom van die Hubei-provinsie. Elke woonstelblok het egter ’n kontrolepunt gehad. Daar is net een ingang waar jy moet aanmeld en jou temperatuur word geneem en saam met jou naam aangeteken.

Die Van der Walts het die hele tyd in hul woonstel gebly. Net die afval is uit die woonstel verwyder.

“Die infrastruktuur hier is egter goed. Ons kon al ons varsprodukte en kos met ons selfoon bestel vir aflewering.”

Dié bestellings het hulle beperk tot een elke vier dae.

Die bestellings is op die woonstel se grondvloer afgelewer waar daar wagte was wat dit opgepas het.

“Die isolasie was die moeite werd. In die tweede helfte van Februarie het ons gesien die nuwe infeksies begin verminder. Van 16 Maart was ons omgewing ’n laerisikogebied. Hierna kon ons meer vrylik weer rond beweeg.”

Daar is groot parke en uiteindelik kon die lewe weer na taamlik normaal terugkeer.

Wuhan is nou ’n huishoudelike naam terwyl die hele wêreld se ekonomie lam gelê is deur ’n virus.

Maar sal China uiteindelik aan die wêreld kan waarborg dat sy hantering van dieremarkte ons kan beskerm teen nog gevaarlike virusse?

  • Human is ’n vryskutskrywer.
Meer oor:  China  |  Wuhan  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.