Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoop beskaam oor staatsrede
Willie Spies

Vanaand is dit pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede.

In verlede jaar se staatsrede net ná die verkiesing het die president gedroom oor ’n nuwe, moderne stad wat iewers sou verrys, maar tot dusver was daar nog geen tyding oor waar en hoe die stad gebou gaan word nie.

Die Engelse naam vir ’n staatsrede – state of the nation address – sê meer van wat van so ’n toespraak verwag word.

Dit is by uitstek veronderstel om ’n toespraak te wees wat aan die nasie ’n oorsig gee van die stand of toestand van die land en sy mense, suksesse te vier en aksieplanne aan te kondig om die tekortkominge reg te stel.

Art. 83 van die Grondwet handel oor die amp van president as die staatshoof en hoof van die nasionale uitvoerende gesag. Die president moet die Grondwet as die hoogste reg van die land handhaaf, verdedig en eerbiedig en nasionale eenheid en alles wat die land sal laat vooruitgaan, bevorder.

Al is dit die president se rol om die Grondwet te handhaaf, te verdedig en te eerbiedig en nasionale eenheid te bevorder – kan ons verwag dat Ramaphosa vanaand sal praat oor die noodsaak om een van die wesenlike boustene van die Grondwet, naamlik die beskerming van eiendomsreg, te vernietig deur art. 25 te verander.

Grondbesit se wanbalanse

Hy gaan die land opnuut herinner aan die wanbalanse wat bestaan ten opsigte van grondbesit en hy sal uit sy pad gaan om ons wys te maak dat die enigste manier om dit reg te stel, gaan wees om grond sonder vergoeding van wit mense te neem en dit aan swart mense beskikbaar te stel.

Met die pas aangekondigde werkloosheidsyfer op die algehele hoogtepunt in die geskiedenis en ekonomiese groeisyfers op ’n historiese laagtepunt van min of meer 0%, sou ’n mens wens vir vindingryke aankondigings deur die president wat beleggersvertroue sal inboesem.

’n Mens sou verwag dat ingrypende beleidsaanpassings ten opsigte van die leeg geplunderde staatsondernemings soos Eskom, die SAL en Denel aangekondig word – beleidsaanpassings wat erkenning gee aan die noodsaak van groter deelname deur die private sektor aan energie-opwekking, die verkoop van winsgewende bedrywe teen ’n goeie prys om die immer groeiende staat-skuld te verminder, die sluiting van duur, onproduktiewe, bodemlose kontantputte en die uitkontraktering van dienste en bedrywe wat nie volhoubaar voortgesit kan word nie, aan ondernemings wat wel die vermoë en kapitaal het om dit te doen.

Strategiese staatsbates

Maar dit is waarskynliker dat Rama-phosa weer eens die nasie gaan herinner aan die feit dat die lugdiens, die kragverskaffer en die wapenvervaardiger strategiese staatsbates is wat tot elke prys aan die gang, oftewel aan die sukkel, gehou gaan word.

Wat die uitwissing van korrupsie betref, is dit bekend dat al die politici, amptenare en korrupte sakelui wat in getuienis voor die Zondo-kommissie genoem is, steeds vry rondloop.

Die afhandeling van dié kommissie se werk is nie ’n voorvereiste vir die instel van strafregtelike verrigtinge nie omdat die nasionale vervolgingsgesag onafhanklik is van die werk van presidensiële kommissies van ondersoek.

Duidelike leiding deur die uitvoerende gesag aan die nasionale vervolgingsgesag om sonder vrees haar werk te doen, sou welkom wees.

Of enige van die goed hier bo bevredigend in die staatsrede gaan aandag kry, is ’n ope vraag.

Gaan ons meer hoor oor die nuwe stad waarvan die president verlede jaar gedroom het, of gaan die burgery dalk self uitspring en stede en dorpe bou en herbou tot wat dit behoort te wees? Laasgenoemde is waarskynliker en beter.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Willie Spies  |  President  |  Staatsrede  |  Sonar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.