Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoop die rede waarom boere in Karoo vasbyt
Johan van Wyk

Om duisende blokkies vleis op stokkies te ryg is nie klein hondjie grootmaak nie. Ek sal dus dink aan die gewillige Willistonse hande wat 15 000 gemaak het wanneer ek hierdie naweek ’n sosatiestokkie aflek op dié dorp en die Strooidakkerk in die Paarl se jaarlikse, ge­samentlike fees.

Ek sal ook met ’n glimlag vir een betaal. Sommer dubbel ook, in die vaste wete dat as jy jou brood op die water werp dit ná vele dae na jou toe sal terugkeer. (Die Engelse het ’n verleidelike stertjie aangelas: Cast your bread upon the water and after many days you will get back a sandwich.)

In goeie jare in die verlede was die getal sosaties net mooi dubbel soveel – ’n volle 30 000! Kan daar ’n beter voorbeeld wees van die vernietigende uitwerking van die ergste, langdurigste droogte in menseheugenis in die noordwestelike Karoo? Of van ’n klein boeregemeenskap se vasbyt en deurdruk?

Soek jy na hoop vir Suid-Afrika? Kyk na Williston.

Danksy ’n spesiale verbintenis kyk ek met deernis na hierdie dorpie en sy mense – een van die laaste werklik klein dorpies in Suid-Afrika. My ouers is daar getroud en die plaas Sandkraal langs die Renosterrivier waar ek gebore is, was inderdaad nader aan Williston as ons tuisdorp, Calvinia.

Toe sy boerevereniging my jare gelede nooi om hulle op ’n spesiale byeenkoms te kom toespreek – iets wat ek glad nie graag doen en hoegenaamd nie in die wieg voor gelê is nie (wat ek te sê het skryf ek) – het ek Williston toe gery.

Wat ek wel weet, is dat niks en niemand hulle sal oorreed om hul geliefde Karoo te versaak nie.

Op ’n bitterlik koue wintersaand, tydens ook ’n swaar, baie droë jaar, het ek om die braaivleisvuur na hierdie mense gekyk en gewonder wat hulle, soos nou weer al langer as vyf jaar lank, laat vasbyt en pas 15 000 sosaties laat maak het om hul gemeenskap en kerk aan die gang te hou.

Wat dryf hulle? Soos Margaret Thom van Groot-Brak gelate sug wanneer vrae oor die groot vraagstukke van die lewe ter sprake kom: “I don’t know!”

Wat ek wel weet, is dat niks en niemand hulle sal oorreed om hul geliefde Karoo – wat jou naas sy bekoring en vrygewigheid in goeie jare tot op die rand van wanhoop kan bring – te versaak nie. Ek sien dit in die oë van my vriend, naamgenoot en buurman wanneer hy in die Strand kom seelug soek, Johannes van Wyk.

Hy is op die bekende plaas Gorras gebore, en boer op Rusenvrede langs die Sakrivier by Williston. Ons deel meer. Borskanker is onlangs by albei ons vroue gediagnoseer. ’n Lang, moeisame pad lê voor. Ons pak dit hoopvol aan.

Hoop, dís die rede hoekom Karooboere vasbyt. Dis oor geslagte in hulle vasgelê. Tou opgooi bly by praat. Soos wanneer ’n mofooi, wanneer sy opstaan nadat sy klaar gelam het, oor haar skouer vir haar swak lammetjie sê: “Jy moet kom, of ek los vir jou!”

jvwstop1@telkomsa.net

Meer oor:  Droogte  |  Boere  |  Karoo  |  Hoop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.