Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoop jy verjaar lekker, oom Frik du Preez

Jy verjaar vandag, oom Frik. Baie geluk! Jy is vandag 85 jaar oud, en tog sukkel ek om aan oom te dink as oud, ’n bejaarde.

Frik du Preez sal vir ’n mens altyd iewers anderkant ouderdom wees. Jý. Die een wat dinge anders op die rugbyveld kon maak.

Dana Snyman

Ek onthou hoe Huisgenoot, kort ná jou uittrede in 1971, ’n Frik du Preez-bylaag gepubliseer het. Ek was nege jaar oud, en ons het op Daniëlskuil in die Noord-Kaap gewoon, ver van als af. Die tydskrifte het eers op ’n Saterdag by ons uitgekom.

Hoe ek vroegoggend al op oom Mike Botha se kafee se trappies gesit en wag het vir die afleweringsbakkie met die tydskrifte om te kom.

Op die bylaag se voorblad sit jy op ’n perd se rug, met ’n Springbok-trui aan. Binne was ’n ander foto wat ’n mens nie kan vergeet nie – daardie foto van Wessel Oosthuizen waarop oom die All Black-skrumskakel Chris Laidlaw têkkel. Oom têkkel nie net vir Laidlaw nie, oom sit so half op Laidlaw se rug met oom se vuis teen sy agterkop, terwyl Albie Bates aan Laidlaw se bene hang. Laidlaw is daarna met harsingskudding van die veld af.

My pel Johnny Vertue wou in daardie tyd die toneel op ons grasperk laat herleef. Ons het net gesukkel om iemand te kry om die rol van Chris Laidlaw te vertolk. Op die ou end het ons die huiswerker se seuntjie oortuig om Laidlaw te wees, en ná die tyd het hy gehuil én gebloei. Hierdie land was toe net so anders as nou.

En jare later toe ontmoet ek jou en tannie Bess een middag in oom Robert Denton se losie op Loftus.

Jy is vir soveel van ons ’n voorbeeld van hoe om getrou aan jouself te bly en nie op te hou om redes te soek om te lag nie.

’n Mens moenie jou helde ontmoet nie, het ek al gedink. ’n Held stel jou net teleur. Met jou was dit anders. Later het julle my een naweek saamgenooi na ’n plaas naby Zeerust. Kleinjan het die bakkie bestuur. Kleinjan Masekoane wat by julle gewoon het vandat hy vyf jaar oud was en nou ’n suksesvolle man is.

Op pad Zeerust toe, op Koster, was ’n teken langs die pad: “Smash Panel Beaters”. Ek onthou hoe jy dit hardop lees, en hoe ons lag. Smash Panel Beaters. Hoe dit ’n soort grap tussen ons geword het. Een sê dit net, dan lag ons. Smash Panel Beaters.

Op Zeerust het ons roomys gekoop. Jy wou ’n gewone ouwêreldse wafer hê. Jy was 12 jaar oud toe jy die eerste keer ’n roomys gesien het. Op Potgietersrus. Jy het arm naby Dwaalboom in die Bosveld grootgeword.

Nou ken en eer mense oor die wêreld heen jou ná al die jare steeds. Jy is ’n onwillige held, ek weet. Jy kon dinge op ’n rubyveld anders maak, maar dit het jóú nie anders gemaak nie. Jy weet ons almal gaan een of ander tyd die Smash Panel Beaters van die lewe nodig hê.

Jy is vir soveel van ons ’n voorbeeld van hoe om getrou aan jouself te bly en nie op te hou om redes te soek om te lag nie.

Ek hoop jy verjaar lekker vandag, en jy ontvang net soveel liefde as wat jy gee. Dankie daarvoor, oom.

Meer oor:  Frik Du Preez  |  Dana Snyman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.