Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Hoop op dié scenario’s
Max du Preez

Daar is drie maniere waarop ons na die onmiddellike toekoms kan kyk: die glas is halfvol; die glas is halfleeg; en daar is ’n gat in die glas se bodem, dit help nie om dit te probeer vul nie.

(Jammer, daar is in dié stadium nie ’n scenario waar ons kan oorweeg of die glas dalk vol gaan kom nie.)

Die gebeurtenis wat tot ’n baie groot mate bepalend gaan wees, is natuurlik die ANC se verkiesingskonferensie wat oor 39 dae in Midrand gaan plaasvind.

Gaan dié konferensie hoegenaamd plaasvind of gaan dit te midde van geweld en hofgedinge uitgestel word as dit duidelik word dat pres. Jacob Zuma se kandidaat, Nkosazana Dlamini-Zuma, dalk nie gaan wen nie?

En as dit wel plaasvind, gaan sy of Cyril Ramaphosa verkies word?

Moet ons swartgallig wees omdat die president nou buite beheer is, korrupsie en staatskaping in die pylvak na die einde versnel en die staatskas verder beroof word?

Of moet ons eerder sê dit is alles dalk waar, maar wat ons werklik hoop moet gee, is dat die burgerlike samelewing op ’n ongekende manier gemobiliseer het en doeltreffend teenstand bied?

Die glas-is-halfvol-scenario is dat Ramaphosa tot ANC-president verkies gaan word, met die bekwame Naledi Pandor as sy adjunk, en dat hy in Januarie gaan sorg dat Zuma as president van die land herroep gaan word.

Die glas-is-halfvol-scenario is dat Ramaphosa tot ANC-president verkies gaan word.

Dié glas word selfs voller as Ramaphosa dan al die Zuma-Gupta-lakeie in die kabinet in die pad gaan steek en met bekwame konstitusionaliste gaan vervang.

As hy dieselfde met die topbesture van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), die Valke, die nasionale vervolgingsgesag (NVG), misdaadintelligensie en staatsveiligheid gaan doen.

En as hy, soos Pravin Gordhan destyds gedoen het, ’n alliansie tussen die regering, die sakesektor en georganiseerde arbeid op die been gaan bring om vertroue in die ekonomie te herstel.

En o ja, as hy die planne vir ’n onbekostigbare reeks Russiese kernkragsentrales finaal kelder.

En as hy sorg dat Zuma, die Gupta-broers en die rits ander sakemense wat aan die staat se voorste tepel suig, strafregtelik vervolg word.

Ek dink hy sou wel dit alles wou doen, maar dit is seker dat die gevestigde belange in die ANC, die staatsdiens en die sakesektor dit vir hom baie moeilik gaan maak.

Die halfleë glas is wanneer Dlamini-Zuma wen.

Die halfleë glas is wanneer Dlamini-Zuma wen.

Al sou sy wou, sal sy nie alles kan doen wat ek hierbo uitgestippel het nie, want die mense teen wie sy moet optree, is haar grootste ondersteuners.

Zuma gaan nie sommer toelaat dat sy hom herroep nie en hy en sy misdadige kamerade gaan aanhou steel en die Valke, die NVG en die SAID gaan bly doen wat hulle doen.

Dit voorspel ’n finale kredietafgradering, ’n heelwat swakker rand en ’n verdere ekonomiese verswakking.

Dalk is daar ’n ander scenario waar die glas halfvollerig lyk.

As die ANC, in ’n poging om ’n skeuring te voorkom, ooreenkom dat nóg Ramaphosa nóg Dlamini-Zuma president gaan word en dat hulle hul na die “eenheidskandidaat”, Zweli Mkhize, as oplossing wend.

Mkhize gaan dalk nie so aggressief die regte ding doen soos Ramaphosa nie, maar dalk het hy met sy ondersteuningsbasis in KwaZulu-Natal ’n groter kans om dit deurgevoer te kry.

As die konferensie nie plaasvind nie, is daar ’n gat in die glas se bodem: Zuma bly volledig in beheer van die ANC en die land en onstabiliteit is ons voorland.

Dan is dit a luta continua van voor af. En gelukkig het die mense van Suid-Afrika gewys hulle kán behoorlik teenstand bied.

2019, hier kom ons!

Meer oor:  Max Du Preez  |  Verkiesingskonferensie  |  Leierskap  |  Presidentskap  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.