Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoop vir land vloei weg soos boere se bloed

Ek het ’n week voor die Hartswater-moorde met ’n egpaar wat ’n plaasaanval oorleef het, gaan koffie drink. Hulle het my hoop gegee vir die land.

Oom Gert (81) en tant Joey (75) Pienaar van Dewetsdorp is net voor Kersdag in hul huis op die plaas aangeval en sou dood gewees het as hy nie in liefde én in Sesotho met die aanvallers gepraat het nie.

Die Pienaars is die boeremense van die Suid-Vrystaat wat ek van kleins ken: sout van die aarde, vredeliewend, met ’n liefde vir die grond en die land en sy mense. Oom Gert is op die plaas gebore. Hy het die plaas opgebou en kos en wol produseer.

Ek het my hande aan sy groot, sterk hande gemeet. Dis werk wat jou hande só groot maak. Ons kon oor boere, skape, beeste en trekkers gesels. En het meestal gelag. Oom Gert en tant Joey lééf vergifnis uit, want hul krag in die aanval het van die Hoër Hand gekom.

Maar met elke aanval, weet ek, tref die skok en trauma en die wreedheid van die daad jou van vooraf. Die vorige aand was juis só ’n moeilike aand, het tant Joey gesê. Sy moes bloeiend en kaalvoet hulp gaan soek, net soos tant Daleen van der Hoven (80) wat kaalvoet in -5 °C oor die grens moes terug-loop. Haar kennis van Sesotho en houding het haar lewe ook gered. Maar tussen toe en nou was daar elke dag ’n plaasaanval. Elke keer ’n geweerkolf wat teen ’n oumens se kop stukkend geslaan word; ’n mes in die arm en been; of ’n ysterpaal oor die nek.

Ek sit met my hande voor my gesig en sien hoe oom Dan en tant Breggie Brand van Hartswater veg teen die dierlike moordenaars

Ek sit met my hande voor my gesig en sien hoe oom Dan en tant Breggie Brand van Hartswater veg teen die dierlike moordenaars. Hoe hul dogter Elzabie hul vergeefs probeer red. In hulle oë, sien ek, sterf die land.

Dis wat ek probeer sê en waarsku het oor die geveg vir en teen Black Lives Matter (BLM). Geen lewe maak saak in die land nie. Maer jong mans vol woede en met géén gevoel nie kan nie meer sonder werk in townships lewe nie. Die ANC-regering se omkooptoelae is te min en daar is nie drank of sigarette nie. Die nyd wat Julius Malema verkondig, gemeng met woede dat die comrades onder Ace Magashule buit en hulle kry niks nie, is ’n giftige skokiaan.

Ek sien hoe die wit gemeenskap ál regser raak. Laaities wat nie op die Grens was en nie weet hoe jy voel as jy jou landgenoot skiet nie, wil skiet. Die naweek skiet Pieter van der Westhuizen twee rowers dood wat hul kerk instorm om gemeentelede te roof. Dis ons land opgesom tussen ’n gebed en die psalms.

Tussen die pynkrete van boere en boervroue, van verkragte vroue in townships, en die skote wat weergalm in kerke, is die stilte van pres. Cyril Ramaphosa en die ANC oor die land wat ’n slagplaas geword het die hardste.

Ek wens ek kon nog bid. Oom Gert en tant Joey se gebede en vergifnis dra my. Want hoop vloei weg soos bloed in die sand in Taung waar ’n pa, ma en dogter gesterf het. En ’n land.

Meer oor:  Charles Smith  |  Hartswater  |  Mening  |  Plaasmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.