Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hopelik het SA dié lesse geleer
Judith February
Judith February.

Die hooggeregshof in Pretoria se tersydestelling van die bevindinge van die Seriti-kommissie van ondersoek na die land se omstrede wapentransaksie is ’n oorwinning vir burgerregtegroepe wat al dekades lank ’n mate van aanspreeklikheid vra vir dié korrupsie-deurtrekte transaksie.

Oudpres. Jacob Zuma het die kommissie in 2011 aangestel om “beweringe van bedrog” te ondersoek, maar dit het bevind daar is nie bewyse daarvan nie.

Gegewe die oorvloed van kommissies van ondersoek na korrupsie en die mislukking van ons politieke stelsel, is hierdie ’n uiters belangrike uitspraak.

Dis logies dat nuwe ondersoeke en vervolgings moet volg. Maar gegewe die beperkte kapasiteit van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die oorweldigende instink om meer onlangse en skokkende voorvalle van staatskaping te vervolg, is daar twyfel hieroor.

Staatskaping laat tot ’n mate die wapentransaksie na spreekwoordelike kinderspeletjies lyk. Tog was die wapentransaksie ’n vroeë rooi vlag dat die ANC se politiek tot die mislukking van demokratiese instellings sou bydra.

Oudpres. Thabo Mbeki se kabinet het in 1999 besluit om R29,9 miljard se (onnodige) wapentuig aan te koop.

Veral die parlement het in sy oorsig-rol oor die uitvoerende gesag misluk, terwyl ander instellings daarin misluk het om die korruptes burgerlik of strafregtelik aanspreeklik te hou.

Oudpres. Thabo Mbeki se kabinet het in 1999 besluit om R29,9 miljard se (onnodige) wapentuig aan te koop. In laat 2000 het Shauket Fakie, destydse ouditeur-generaal, sekere aspekte van die transaksies ondersoek en verdere ondersoek aanbeveel.

In Oktober 2000 het die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) ná sy eie verhore oor die transaksies ook ’n verslag opgestel.

Skoor het ’n sentrale rol in die parlementêre oorsigproses. Sy sleutelfunksie is om die wetgewende gesag te verseker dat geld in ooreenstemming met die begroting bestee word.

Skoor het voorgestel dat die spesiale ondersoekeenheid (SOE), met regter Willem Heath as hoof, deel vorm van ’n ondersoekspan wat die transaksie ondersoek. Mbeki het egter die voorstel verwerp, en die destydse speaker, Frene Ginwala, het ingemeng om Skoor se werk te dwarsboom.

’n Gesamentlike ondersoekspan is toe aangestel, bestaande uit die destydse openbare beskermer, Selby Baqwa, Fakie en die destydse nasionale direkteur van openbare vervolging, Bulelani Ngcuka. Gavin Woods, Skoor se voorsitter, het hul verslag van November 2001, wat die regering verontskuldig het, as “substandaard” beskryf. Hy het drie maande later bedank uit protes teen wat as ’n toesmeerdery van moontlike korrupsie beskou is. Die ANC-LP Andrew Feinstein het ook bedank.

Skoor het nooit heeltemal herstel van hierdie manipulasie deur die parlement en die magtige uitvoerende gesag nie.

Wat die uitspraak oor die Seriti-kommissie wys, is dat kommissies van ondersoek nie sterk en doeltreffende demokratiese instellings kan vervang nie.

As die parlement en ander instellings destyds hul grondwetlike mandate vervul het, sou meer mense waarskynlik agter tralies gewees het. Die staatska-pingsprojek onder Zuma sou moontlik ook nie vrugbare grond gehad het nie. Dis moontlik een van die fundamentele lesse van post-apartheid-Suid-Afrika.

Ons demokratiese instellings, bedoel om ons samelewing te vorm, is weens politieke gevegte verswak en sukkel om onafhanklik te bly te midde van politieke druk. Instellings herstel met moeite as hulle deur politieke inmenging of swak leierskap uitgekalwe is.

Dis belangrike lesse vir die huidige parlement om te oorweeg wanneer dit die bevoegdheid van die openbare beskermer vir haar pos ondersoek, en terwyl die Zondo-kommissie sy deeglike maar noodsaaklike werk voortsit.

Meer oor:  Judith February  |  Seriti-Kommissie  |  Wapens  |  Regering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.