Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Reis saam met Jens
Hotel was ‘spookdorp’ Seeheim se redding

VRAAG:’n Vriend beveel aan dat ons met ons besoek aan die suide van Namibië vroeg volgende jaarby Seeheim ’n draai moet maak . Dit was glo op sy dag ’n plekkie vol lewe. – Maria Badenhorst, Centurion

Die Riverside-hotel is op ’n eiland in die Visrivier gebou en het in 1922 weggespoel toe 555 mm reën glo in twee dae uitgesak het.Foto: Jens Friis

ANTWOORDDeesdae is Seeheim, nes van ouds, ’n oase vir reisigers in die dorre suide van Namibië.

Jy kan hier oorslaap as jy ná die Covid-19-inperking Suid-Afrika weer mag verlaat, maar dis ’n móét om minstens iets af te sluk onder die hotel se koel sinkstoep.

Van hier kan jy dan die pad vat na Kolmanskop, Ai-Ais se warmwaterbron, die Visriviercanyon, Sossusvlei se reuse-duine, Lüderitz of Keetmanshoop se kokerboomwoud.

Dit was toe ons Lüderitz toe is dat ek vir die eerste keer van Seeheim gehoor het.

By ’n internetartikel was daar ’n foto van dié nedersetting en dié kiekie was meer as genoeg rede om daar ’n draai te maak. Op die bodem van ’n kloof het Seeheim gelê met ’n paar palmbome wat net-net bo die omringende heuwels uitsteek. So moet ’n oase in die Sahara (of dan die Namib) lyk, het ek gedink. En ’n oase was Seeheim inderdaad.

Maar ’n rêrige dorp was dit nie meer soos van ouds nie. Vanmelewe het elke trein uit die republiek hier aangedoen en was die passasiers verplig om oor te slaap.

Dit was in die dae toe Seeheim ’n belangrike spooraansluiting was vir treine uit Suid-Afrika na Suidwes-Afrika en ook na Lüderitzbucht se hawe en diamantvelde. Verder het ook boere langs die Visrivier hul tabak en groente na dié stasie gebring.

In dié begin-dae was Seeheim selfs groter as Keetmanshoop en kon dit met ’n skool, kerke en drie hotelle spog.

Die Bellville-hotel se deure was van 1905 tot 1913 oop.

Die Riverside-hotel is op ’n eiland in die Visrivier gebou en het in 1922 weggespoel.

En dan was daar die Seeheim-hotel, wat die langste sake gedoen het. Dit is in 1896 uit plaaslike klip gebou om die Schutztruppe (Duitse koloniale troepe) te huisves en is in die 1920’s in ’n hotel omgeskep. Maar toe die B2-pad tussen Keetmans en Lüderitz in 1974 geteer en verlê is, het ook dié hotel gesluit.

Boonop het Lüderitz se diamante min geword en is Walvisbaai as hawe ontwikkel. Só het Seeheim letterlik ’n spookdorp geword. Die spoorweghuise het leeg gestaan en hoewel baie erwe aan Duitsers behoort het, het niemand meer hier gewoon nie.

Vir byna ’n kwarteeu het daar niks in Seeheim gebeur nie totdat Zirkie Kloppers die Seeheim-hotel in 1996 gekoop en twee jaar later heropen het.

Meer oor:  Hotel  |  Redding  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.