Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Hou aan om vals nuus uit te lig

Daar’s niks nuuts onder die son nie, lui die ou gesegde. Dit is ook waar van ’n verskynsel wat ons dink ’n produk van die laaste paar jaar is: fopnuus, vals nuus, drognuus. Donald Trump se fake news.

Max du Preez: Sy loopbaan van 'n onversetlike "waarheid versus mag"-benadering is steeds ná kwarteeu van demokrasie 'n verhaal van waagmoed en beginselvastheid. Foto: Liza van Deventer

Ek het pas ’n verwysing na “vals nuus” deur ’n regter in ’n Suid-Afrikaanse hooggeregshof in 1941 raakgelees. Hier is die agtergrond:

Hendrik Verwoerd was redakteur van Die Transvaler voordat hy aktief by die politiek betrokke geraak het.

In 1937 het hy in ’n hoofartikel oor die “Joodse probleem” ’n kwota van hoogstens 5% Jode in die sake- en nywerheidswêreld bepleit. Die Johannesburgse koerant The Star het hom in 1941 daarvan beskuldig dat hy pro-Hitler is en nuus oor die oorlog tussen Duitsland en die geallieerde magte verdraai. Verwoerd het die koerant weens laster gedagvaar en £15 000 geëis.

Regter Phillip Millin het Verwoerd se eis van die hand gewys en verklaar: “Daar is twee ernstige gevalle bewys waar vals nuus in roekelose minagting van die waarheid of valsheid daarvan gepubliseer is; ses gevalle, minder ernstig, maar steeds duidelike vervalsings, waar nuus wat oorspronklik korrek gerapporteer is, valslik in redaksionele kommentaar verdraai is; en twee gevalle waar nuus deur misleidende opskrifte vervals is. In ag genome die getuienis is hy, dr. Verwoerd, nie daarop geregtig om te kla nie. Hy het Nazi-propa-ganda gesteun, hy het sy koerant ’n werktuig van die Nazi’s in Suid-Afrika gemaak en hy weet dit.”

Ek het dié hofuitspraak in ’n nuwe boek oor Dimitri Tsafendas, Verwoerd se moordenaar, deur Harris Douse­metzis gelees. Die titel is The Man Who Killed Apartheid. Die boek van 450 bladsye is deeglik nagevors met ’n bron wat vir elke stelling gegee word. Die skrywer volg Tsafendas se lewe van kindsdae totdat hy ’n bode in die parlement geword en Verwoerd op 6 September 1966 in sy bank in die parlement doodgesteek het.

Die voorblad van Die Burger op 8?September 1966.
Die voorblad van Die Burger op 8?September 1966.

Dousemetzis se getuienis is oorweldigend: Tsafendas was allesbehalwe geestesversteurd; hy was van sy tienerjare af ’n begeesterde kommunis en politieke aktivis wat in sy geboorteland, Mosambiek, afgedank is omdat hy ten gunste van die onafhanklikheid van Portugal was. Hy het selfs ná die Tweede Wêreldoorlog saam met die kommuniste teen die Griekse regering geveg. Hy het Verwoerd vermoor omdat hy apartheid gehaat het en gedink het sy daad kon help om dit te beëindig.

Totdat ek die boek gelees het, het ek vas geglo dat Tsafendas ’n geesteskranke sonder politieke motiewe was. Dit was wat die polisie destyds verklaar het en só het die hof ook bevind. Dit is nou duidelik dat die NP-regering nie dit bekend wou laat word dat sy leier deur ’n anti-apartheidsaktivis vermoor is nie en die polisie die verleentheid wou spaar dat hulle iemand met ’n lang geskiedenis van kommunistiese bedrywighede in verskeie lande as ’n bode in die parlement help aanstel het.

Die hele storie was vals nuus en Dousemetzis se boek is belangrik om die geskiedenisboeke reg te stel.

Sondag lees ek hoe die verslaggewer Neels Jackson verduidelik dat die gelofte wat die Voortrekkers voor die Slag van Bloedrivier in 1838 afgelê het, eintlik nooit ’n opdrag vervat het dat dié dag jaarliks as ’n Sabbatdag gevier moet word nie. Dit was ook vals nuus wat vandag nog as evangelie aanvaar word.

Die geskiedenis van die ANC en die stryd teen apartheid is ook vol gevalle waar die feite opsetlik verdraai is om die bevrydingsbeweging te verheerlik en vergrype weg te steek.

Vals nuus. Ons moenie ophou om dit uit te snuffel nie.

  • Du Preez is ’n joernalis, skrywer en politieke kommentator.
Meer oor:  Max Du Preez  |  Fopnuus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.