Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hou Ace van die Vrystaat dop
Gert Coetzee

Die “amptelike” tyding dat sommige Vrystaatse ANC-takke vir Ace Magashule, Vrystaatse premier, as ’n “kompromiskandidaat” vir die ANC-leierskap – en dus presidentskap van Suid-Afrika – voorstel, is nie ’n verrassing nie.

Julius Malema, nogal, het getwiet dat die ANC-jeugliga Magashule gaan steun. En, inderdaad, spoor die jeugliga nou die Vrystaatse inisiatief ten gunste van Magashule aan. Ook is dit geen geheim nie dat Magashule ’n man met aspirasies is. Vorige praatjies was dat hy sy oog eerder op ’n magtige party­politieke pos in die ANC het.

As ’n klassieke politieke kommissar, eerder as ’n tegnokraat, sou die pos van sekretaris-generaal hom juis soos ’n handskoen pas. Die ANC-kader in die pos is vanuit Luthuli-huis die marionette-meester wat die party se toutjies van agter die skerms trek.

Oor die gewildheid van Magashule in die ANC – in die Vrystaat en landwyd – is daar nie twyfel nie. Hy is die provinsie se eie Jacob Zuma met desondanks sy eie vurige ondersteuners.

Ingevolge ’n dekreet van die ANC se nasionale werkkomitee moet lede hulle daarvan weerhou om die name van leierskandidate te opper. Dat die name van Magashule en ander nou wel na vore kom naas dié van Cyril Ramaphosa en Nkosazana Dlamini-Zuma, die twee “voorlopers”, moet gesien word as deel van die magsmakelary, wigvorming en faksiestryd tussen die sogenaamde “kampe vir of teen Zuma”. Dit behoort so uit te kristalliseer dat die finale stryd op die 54ste nasionale konferensie einde vanjaar tussen die topkandidaat van elke kant – waarskynlik Ramaphosa en Dlamini-Zuma – sal wees. Danksy die gekonsolideerde steun van ander partye wat langs die pad “uitval” en dan met hoër louere vergoed word.

Ná oudpres. Nelson Mandela was die wedloop tussen Thabo Mbeki en Ramaphosa. Mbeki was die wenner. In 2007 was die stryd tussen hom en Jacob Zuma (met Tokyo Sexwale as die derde mededinger wat langs die pad uitgeval het). In die groot Polokwane-uitskud­dery het Zuma na bo gedryf.

Wat is die kans van Magashule, een van die NUK-lede met die langste diens?

Nou is dit Ramaphosa en Dlamini-Zuma. Met Baleka Mbete (wat haarself glo aangebied het) en Jeff Radebe wat as sterk mededingers om die kroon genoem word. Hulle sou eerder kandidate vir die adjunkpresidentskap (van die land) wees, afhangend wie die ANC-leierswedloop wen, meen ek.

Ander buiteperde, onlangs volgens Sunday Times, is oudpres. Kgalema Motlanthe, Zweli Mkhize, Gwede Mantashe, David Mabuza, Magashule, Mathews Phosa en Lindiwe Sisulu.

As sterk derde mededinger om die leierspos is my geld eerder op Mkhize (KwaZulu-Natalse oudpremier) as Mbete of Radebe.

Magashule en Mabuza (premier van Mpumalanga) is saam met Supra Mahumapelo (Noordwes) die lede van die invloedryke sogenaamde premierliga, wat hulle beywer om die magsbasis van die Zuma-regering behoue te laat bly.

Wat is die kans van Magashule, een van die NUK-lede met die langste diens?

As Dlamini-Zuma se aanslag op die leierskap vanjaar suksesvol is, is hy as een van die “koningmakers” ook ’n wenner. Watter magspos hy dan sou beklee, sou interessant en deurslag-gewend wees. Dus ’n man om dop te hou.

Hy word nie verniet “die koning van die Vrystaat” genoem nie, al was dit spottend by monde van Malema in EFF-geledere. Of noem hom die Vrystaatse Jacob Zuma met ondersteuners wat vurig in hom glo, nes Magashule en sy mense in Zuma glo. Sy bestuurstyl en aanslag herinner nogal aan dié van Zuma.

Alle Vrystaters glo nie aan Magashule nie, en meen dat sou hy die land nes die Vrystaat bestuur, sal hul ergste vrese waar word.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Mening  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.