Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hou duim vas hý word verkies

Toe die ANC in die 1990’s die vryheidstryd opgeskort en ingestem het tot vreedsame onderhandelinge om Suid-Afrika op ’n demokratiese en grondwetlike pad te plaas, was die land en die wêreld vir een van dié politieke deurbrake van die 20ste eeu oorgehaal.

Dié hoë verwagting het met die vrylating van oudpres. Nelson Mandela en ander politieke gevangenes momentum gekry. Mandela, die eens gevreesde “terroris” (vir ’n minderheid van Suid-Afrikaners) is egter as ’n vredemaker en staatsman van formaat bewys.

Saam met oudpres. F.W. de Klerk het Mandela ’n regering van nasionale eenheid onderhandel wat aanvanklik goed gewerk het. Dit het nie lank gehou nie.

Mandela is opgevolg deur oudpres. Thabo Mbeki, wat nie ’n slegte administrateur was nie, maar hy het sekere tekortkominge gehad. Sy onverskillige hantering van die land se MIV/vigs-pandemie sal hom nog lank as ’n ernstige mistasting agtervolg.

Mbeki het ’n passie vir internasionale sake en Afrika gehad en het hom daarvoor beywer om die vasteland ook op die demokratiese pad te plaas. Die wyer demokratisering van Afrika het vinnig op die hakke van dié van Suid-Afrika gevolg en Mbeki het ’n sentrale rol hierin gespeel. Hy het aktief gehelp om die Afrika-Unie (AU) op die been te bring, wat dit vir Afrika se berugte outokrate moeilik maak om te oorleef.

Afrika het deesdae meer demokrasieë as ooit tevore. Staatsgrepe, die gebruiklike manier van regimeverandering, kom weinig voor en waar dit wel gebeur, verwerp die vasteland dit.

Wat statuur betref, kan Mbeki nie in dieselfde asem as Mandela genoem word nie.

Wat statuur betref, kan Mbeki nie in dieselfde asem as Mandela genoem word nie. Maar dit geld omtrent enige ander leier in die wêreld.

Mbeki is opgevolg deur pres. Jacob Zuma. Sy termyn word beskou as oorwegend ’n ramp. Mbeki het Zuma as adjunkpresident in die pad gesteek op grond van vermoedens dat hy korrup is. Maar in 2007 het Zuma Mbeki as ANC-leier opgevolg in een van die mees dramatiese verkiesings vir dié pos in die ANC. In 2008 het hy Mbeki se vreedsame verwydering as staatshoof georkestreer.

Kommer oor Zuma en korrupsie is oor die jare as geregverdig bewys. Daar gaan selde ’n dag verby dat daar nie ’n nuwe storie oor korrupsie is waarby Zuma glo betrokke is nie. Sy verhouding met die Guptas word allerweë as intens korrup beskou.

Dié verhouding het ’n nuwe woord tot die woordeskat gevoeg: staatska­ping. Dit is die proses waardeur onverkose rolspelers deur korrupte optrede in samewerking met topregeringslui beheer neem oor die staat se beleidmaking en hulpbronne en hulself op twyfelagtige maniere verryk.

Dit word allerweë aanvaar dat Zuma en die Guptas ’n parallelle regering gevestig het wat staatskontrakte na Gupta-maatskappye kanaliseer.

Staatskaping en Zuma se rol daarin is nou die sentrale fokus van die ANC se leierstryd om ’n opvolger vir Zuma te kies. Dít sit aansienlike druk op die kandidate om hul eerbare bona fides te bewys. Een van dié kandidate, Zuma se voormalige vrou en vertroueling, Nko­sazana Dlamini-Zuma, sal na verwagting probeer om hom teen die klagte van korrupsie te beskerm.

Suid-Afrikaners wat smag na ’n terugkeer na skoon regering sal duim vashou dat Ramaphosa as Zuma se opvolger verkies word.

Ramaphosa is ’n man met sy eie aansienlike finansiële vermoëns wat hom minstens in teorie uit die versoeking sal hou om die staatskas te plunder.

Dieselfde word ook gesê van die ander kandidate in die wedloop. Hulle is nie so ryk soos Ramaphosa nie, maar daar is niks wat dui op redes tot kommer oor hul eerbaarheid nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.