Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hou kop oor virus: ANC, Jaïriste ten spyt

“Dit is verby!” kondig die New York Daily News dié Amerikaanse deelstaat se jongste Covid-19-status vandeesweek aan.

Barnard Beukman

Die deelstaat en veral die stad New York was eens die globale episentrum van die virus waar hele ouetehuise letterlik uitgesterf het in die begindae. En meer as 53 000 reeds in die deelstaat al dood is aan Covid-19. Dit met ’n bevolking van 19 miljoen, amper net soveel soos Suid-Afrika se amper-amper 60 000 sterftes met ’n veel groter bevolking.

New York het uiteindelik, luidens die aanlynpublikasie Healthline, beheer gekry deur goeie kommunikasie met inwoners, inperkings op die regte tye en die handhawing van sosiale afstand. Daar word wel gewaarsku dat die soort gedrag vir nog lank sal moet voortduur, veral noudat bykans alle formele beperkings opgehef word.

Die ganse Amerika begin ook na ’n soort kudde-immuniteit beweeg as gevolg van inentings.

Suid-Afrika is nog ver verwyder van ’n New York-status.

Dit is interessant – en dit weerspieël ook in veranderende lesersreaksie – hoe ons nou wel groter konsensus begin kry oor ’n paar lesse wat geleer is.

Eerstens, ons het met ’n pandemie en buitengewone gevaarlike siekte te doen. Die aanvanklike afmaak daarvan as “ ’n ligte verkoue” was nie beperk tot die stapelgek pres. Jair Bolsonaro van Brasilië nie. Ook hier het mense dit graag aangehaal. Nou het dit ons getref en baie wat ons ken word siek, party ernstig en die hoogste prys word betaal.

Dan was daar die waan dat enige inperkings verkeerd is en ’n normale gang van sake “met vrywillige afstand vir die wat dan so voel” aangewese is. Wel, kyk maar na Brasilië en die eens lieflingmodel, Swede, wat ’n inperk-ommeswaai moes maak.

In Suid-Afrika is die samehorigheid ten opsigte van inperkings en gesonde sosiale afstand ongelukkig juis die ergste ondermyn deur die einste regering wat dit moet toepas. Die toepassing van bisarre maatreëls oor dinge soos kleredrag, tabak en ’n openlike misbruik vir sosiale ingenieurswese het ’n geloofwaardigheidskrisis laat onstaan. Ook die selfverryking en fokus op leë strande pleks van vol taxi-staanplekke.

Maar dit ten spyt blyk dit ook uit lesersreaksie en ander rolspelers dat die stemme teen enige inperking stil geraak het of ten minste meer gekwalifiseerd herposisioneer. Pres. Cyril Ramaphosa word nou selfs kwalik geneem dat hy nie gouer beweeg met die derde golf nie. Die werklikheid wat aan die deur klop, laat mense anders kyk.

Volgehoue pogings om behandeling vir die pandemie vir ideologiese posisionering te gebruik verloor ook stoom. Van Donald Trump se malaria-medikasie, hidrochlorokien, hoor ons min. Die (wonder)veemiddel Ivermektien het meer momentum. Toetse word gedoen en veral landbouers, wat daarmee werk, sweer daarby. Maar waarom dit naarstiglik probeer ideologiseer en enige vraag daaroor skuimend probeer doodpraat? As dit enigsins ernstig opgeneem kan word as moontlike behandeling, moet alle inligting daaroor en gevolge daarvan mos verwelkom word vir ’n objektiewe uitkoms. Ivermektien-gebruikers het ook reeds gesterf. Covid-19 is ’n meervoudiger siekte as bloot net nog ’n respiratoriese toestand. Laat die feite uiteindelik praat.

Inenting gaan nie baie meer newe-effekte meebring as wat dit reeds vir dekades gee nie. Daarom is die regering se sukkelende uitrolprogram onvergeeflik. Dit bly ons beste onvolmaakte pad na New York.

Alta Theron van Eldoraigne se lesse in haar lesersbrief op bl. 11 is ook aan te beveel, veral haar: “Lees en wees ingelig”.

Dit sal ook die Jaïriste, wat op waninligting teer, fnuik. Ons het immers reeds ons hande vol met korrupte kamerade.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Virus  |  Barnard Beukman  |  Saterdag Brandpunt  |  Anc  |  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.