Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Korrupsie: 'Hou ook DA dop vir misstappe'
Heindrich Wyngaard

Ten regte word daar in die algemeen baie meer aandag gegee aan die wyse waarop die ANC aantygings van onbehoorlikheid (en kriminaliteit) teen sy lede en leiers hanteer.

Dit is waarom die partybaas, Cyril Ramaphosa, se onlangse striemende teenkorrupsiebrief aan lede as rigtingveranderend beskou word.

Eweneens was die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) onomwonde daaroor op ’n spesiale vergadering die naweek: Individue wat van verkeerde optrede beskuldig word, moet vrywilliglik hul kant van die saak voor die party se integriteitskommissie gaan stel, en dié wat formeel aangekla word, moet onmiddellik hul poste ontruim totdat die hofverrigtinge afgehandel is.

Nogtans word daar steeds gevra: Wat beteken “opsy staan”? En wat help dit as die beskuldigdes geskors word met volle salaris? Dit spreek vanself – Suid-Afrika is ’n regstaat.

Laat ons ook nie die histories-kritieke oomblik vergeet nie toe Ramaphosa laas week in die parlement (op kritiek dat hy te sagkens teen politieke booswigte optree) gemaan het: Wee die dag dat “jy ’n versteurde president kry wat mense arresteer en toesluit”.

Die indruk wat meestal gelaat word, is dat die party uit sy pad gaan om ten eerste beskuldigings van onbehoorlikheid die nek om te draai.

Net ná die NUK se mediakonferensie Maandag is die DA se tussentydse leier, John Steenhuisen, gevra hoe die DA bewerings van ongerymdhede hanteer.

Steenhuisen se antwoord dui daarop dat die DA nie, soos wat hy van die ANC skyn te verwag, ’n eenvormige benadering volg nie: “In die DA word elke saak op meriete beoordeel.”

Die indruk wat meestal gelaat word, is dat die party uit sy pad gaan om ten eerste beskuldigings van onbehoorlikheid die nek om te draai en weg te probeer verduidelik, want dit kan mos tog nie waar wees dat sulke dinge binne DA-beheerde regeringsfere geskied nie.

Pas het vrae egter ontstaan oor:

1. Of Ivan Meyer jr. (seun van dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou en tussentydse federale voorsitter) weens sy familieverwantskap bevoordeel is in sy aanstelling as ’n assistent-direkteur in die provinsiale departement van plaaslike regering? (En het jy sy nuwe BMW gesien waarmee hy op Facebook spog?)

2. Waarom was dit noodsaaklik om (die weliswaar uiters bekwame) Brian Schreuder as provinsiale onderwyshoof te behou ná sy aanvanklike kontrak reeds met twee jaar verleng is (sonder dat die pos geadverteer is), en nou met ’n verdere twee jaar tot 2021 wanneer hy 69 sal wees? Dit was onbehoorlik, het die Staatsdienskommissie bevind.

3. Oor watter uitsonderlike vaardighede beskik Stan Wallace, voormalige munisipale bestuurder van die DA-beheerde Theewaterskloof, as hy nou as konsultant teruggeroep is om die munisipaliteit se organisatoriese en ekonomiese post-Covid-19-herstel te bestuur – vier jaar nadat hy in 2016 op 65 afgetree het.

Word alles volgens die reëls gedoen daar waar die DA regeer?

Ook moet ons vra – siende dat die onbehoorlike toekenning van sogenaamde PPE-tenders ’n ommeswaai in die ANC en Ramaphosa-regering se hantering van korrupsiebewerings teweeggebring het – of alles volgens die reëls gedoen word daar waar die DA regeer?

Indien so, sou ’n ondersoek deur die Wes-Kaapse departement van plaaslike regering na ’n geskorste adjunkdirekteur wat na bewering ’n PPE-tender aan ’n familielid toegeken het sonder dat die verwantskap verklaar is, seker nie nodig gewees het nie, of hoe?

Miskien moet die provinsiale DA-regering en DA-munisipaliteite sommer ook ter wille van deursigtigheid die profiele – kernbesigheid en eienaarskap – van suksesvolle PPE-tenderaars met ons deel. Die party moet eenvoudig, daar waar hy regeer, op dieselfde wyse as die ANC dopgehou en tot verantwoording geroep word. Die demokrasie en die Grondwet vereis dit.

  • Wyngaard bied Sondae om 20:00 die aktualiteitsprogram Kommentaar op RSG aan.
Meer oor:  Heindrich Wyngaard  |  Anc  |  Politiek  |  Da  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.