Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hou op om te hanna-hanna, raak skeppend
Jana Luther

Opvallend is die baie nuwe woorde wat in dié tyd geskep word. In Nederland is ’n koronawoordeboek by Taalbank.nl in die nuus; hier grendeltydskeppings by Afrikaans.com. In die Woordeboek van Afrikaans Vandag, by afrikaans-vandag.co.za, is April en Mei se nuwe opnames nie net virusverwant nie; ook ander werklikhede word weerspieël. Dit maak bly.

Kinders word aangemoedig om kreatief te wees. Ons skep graag: kuns, musiek, uitvindings, wetenskap, tegnologie is belangrik. Ons maak tuin, bak koek, met bestanddele wat ons het en wat ons koop. Kom dit by taal, dan kom mense en sê: Moenie dit nie, nie dat nie, doen liewer sus as so.

As dié moets en moenies oor grammatika gaan, sê maar reëls vir die vorming van meervoude, verkleinwoorde, trappe van vergelyking, idiomatiese taalgebruik of die grondbeginsels van Afrikaanse spelling, koppelteken of deelteken, los of vas, dan is die saak reg. Daarvoor het ons VivA se Taalonderrigportaal, wat dié week bekend gestel is, en die AWS. Maar vir woorde, woordeskat, is asse en maars minder heilsaam. Om dié tyd in taal te omvat, het ons baie woorde nodig.

Ons kan woorde by ander tale steel – as ’n woord eers geleen is, word dit nie maklik teruggegee nie.

Ons kan die oorspronklike spelling behou: dalgona, kombucha, Machina sapiens, magwinya, quinoa, scoby, shisa nyama. Of, met die AWS byderhand, verafrikaans: antroponose, komboetja, pareidolie, poliamoreus, soönose.

Ons kan woorde saamvoeg: anderjanstorie, bogberig, deugpronker, skuldverklikker, spookwedstryd.

Ons kan woorde saamvoeg: anderjanstorie, bogberig, deugpronker, skuldverklikker, spookwedstryd. Ons kan woorde herhaal: aanpoer-poer, hanna-hanna. Ons kan woorde split, vir beklemtoning ’n kragwoord invoeg: Haibleddiekôna, alles verbleddieniet!

Om korter, kragtiger te sê, kan ons woorde verkort: nemma, pedi, rona. Dele afkap, wat oorbly saamvoeg: betereinder, kletsbot, kosmeseuties, molla, teleurgang, Trumpspoedig. Ons kan aan woorde nuwe funksies toeken: fotobom, het gefotobom; Instagram, instagrambaar; Whats­App, whatsapps, het gewhatsapp; het gezoom.

Uit komplekse woorde kan ons eenvoudiger woorde skep: kureer uit kurator; spookskryf uit spookskrywer; stoomrol uit stoomroller.

Van beginletters van woorde kan ons letternaamwoorde en akronieme maak: Ears, KWAK. Ons kan nuwe woorde van allerlei soorte bedink: beandering, jintoelina, onthaasting, skaloeloe, tjaks. Nuwe uitdrukkings skep: Die agteros uit die kraal skop. Na die berg geabba wees. Dis ’n toutjie wat ’n galg gaan word.

’n Gesonde, lewenskragtige taal vul sy woordeskat op ál dié maniere aan.

Baie bly eendagsvlieë; ander trek aandag, word van mond na mond, na papier, na woordeboeke oorgedra. Júlle is die fabriek; woordeboeke die houers waarin ons júlle woorde verpak.

Hoe meer ons het, hoe meer opsies het ons om inhoud oor te dra – fyn, genuanseerd drome, gedagtes, idees te verwoord.

As Afrikaans jou taal is, as jy dit ken, daarin leef, volg jy onbewus die reëls van die grammatika wat jy as kind, spontaan, geleer het. Dis in jou kop. Gebruik dit.

  • Jana Luther versamel woorde by afrikaans-vandag.co.za.
Meer oor:  Jana Luther  |  Woorde  |  Koronavirus  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.