Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hou op soek na strooihalms
Roelof Botha
Roelof Botha

Bloomberg het onlangs berig buitelanders het gedurende die eerste twee weke van Augustus Suid-Afrikaanse staatseffekte teen ’n koers van sowat R2 miljard per dag verkoop.

Dié berig en etlike ander het die vals indruk geskep dat Suid-Afrika se kredietgradering by Moody’s, waar ons nog beleggerstatus geniet, nou ewe skielik in die gedrang is. Verskeie finansiële berigte het ’n stappie verder gegaan en die kwessie van die nuwe beleid oor die Nasionale Gesondheidsversekering, asook die Eskom-verlies daaraan gehaak.

Sonder om die ekonomiese probleme te ontken wat uit ondeurdagte regeringsbeleid kan voortspruit, is die vertrekpunt van kommentaar op dié soort beriggewing: skrik-skrik!

Die betrokke Bloomberg-ontleder is skynbaar bekommerd oor ’n bedrag van R2 miljard per dag wat vir ’n klompie dae land-uit is, terwyl daar gedurende die afgelope agt kwartale ’n netto bedrag van R228 miljard se staatseffekte deur buitelanders aangekoop is.

Daar bestaan uiteraard altyd wisselvalligheid in die patroon van aankope en verkope van enige land se staatseffekte en die gaping tussen die grootste kwartaal-uitvloei en -invloei oor die afgelope twee jaar het R3,4 miljard per werkdag beloop.

Die reuse-omvang van die waarde van transaksies op die Suid-Afrikaanse buitelandse valutamark moet ook in gedagte gehou word.

Die reuse-omvang van die waarde van transaksies op die Suid-Afrikaanse buitelandse valutamark moet ook in gedagte gehou word. Dié syfer beloop tot nou toe vanjaar gemiddeld ’n verstommende $15,7 miljard per dag (R240 miljard per dag teen die wisselkoers gedurende die eerste helfte van Augustus).

Selektiewe data wat nie teen die agtergrond van tyd of verwante aanwysers aangehaal word nie, is ’n eeue oue probleem waaraan studente dikwels skuldig is, maar wat ook soms doelbewus deur persone of organisasies toegepas word om hul eie agendas te bevorder.

Die gebrek aan objektiwiteit in berigte oor die omvang van verkope van Suid-Afrikaanse staatseffekte gedurende die begin van Augustus is skreiend, aangesien dit deur ’n wesenlike daling van die opbrengskoers op Suid-Afrika se staatseffekte voorafgegaan is.

Wanneer die opbrengskoers op ’n land se staatseffekte daal, neem die waarde daarvan toe en dit is so duidelik soos daglig dat heelwat institusionele beleggers oor die wêreld heen besluit het om vir ’n slag wins te neem.

Die aankope en verkope van effekte en aandele is gedurig aan ’n groot mate van wisselvalligheid onderworpe en moet ook liefs teen die agtergrond van dividend-uitkerings op die aandelebeurs en veranderings in opbrengskoerse beoordeel word.

Verder moet die positiewe uitwerking van ’n swakker wisselkoers op ekonomiese groei ook in gedagte gehou word, aangesien plaaslike vervaardigers daarby baat vind en uitvoerders ’n welkome dividend ontvang. Dit vind selfs tot by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ’n positiewe neerslag!

Suid-Afrika se geldeenheid was een van vele wat in die kruisvuur van die devaluasie van die Chinese geldeenheid beland het en daar bestaan nog verskeie struikelblokke in die pad van behoorlike ekonomiese herstel.

Ondanks dié probleme, asook die voortslepende onsekerheid oor die plan om Eskom reg te ruk en die wyse waarop grondhervorming toegepas gaan word, het ’n hele rits ekonomiese aanwysers in die tweede kwartaal met stewige groeikoerse vorendag gekom.

  • Dit wil voorkom asof die ekonomie reeds ’n gunstige wending in groeigerigte beleid begin verdiskonteer. Indien positiewe ekonomiese groei die res van die jaar voortduur, behoort die nasionale tesourie sy inkomstebegroting te haal en dan sal siniese ontleders maar na ander strooihalms moet begin soek.

Standpunt

Meer oor:  Ekonomie  |  Finansies  |  Staatseffekte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.