Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Houtskool help befonds terreur én bedreig natuur
Tony Weaver

Dwelms, vuurwapens, onwettige hout, goud, die mineraal coltan, mense, ivoor, renosterhorings, ietermago-skubbe . . .

Dít is maar net ’n paar van die talle produkte wat die ekonomiese onderbou van georganiseerde misdaadsindikate en terreurgroepe soos Al-Sjabaab, Boko Haram, Isisi, Al-Kaïda en die Taliban verteenwoordig.

Min mense besef egter dat houtskool ook ’n gesogte produk is. En die grootste bron van onwettige houtskool is Afrika. ’n Verstommende 32,4 miljoen ton met ’n markwaarde van tot $25,8 miljard is in 2016 vervaardig.

Hierdie syfers kom uit “World Atlas of Illicit Flows”, ’n nuwe verslag van Interpol in samewerking met die risiko-analiste Rhipto en die Wêreldwye Inisiatief teen Transnasionale Georganiseerde Misdaad (Witgm).

In hul ondersoek is gevind dat omgewingsmisdade vir die eerste keer dwelmhandel as die hoofinkomste van gewapende militante en georganiseerde misdaadsindikate verbygesteek het – en nou sowat 38% van die finansiering van wêreldwye konflikte en misdaad verteenwoordig.

Dit is veral die handel in houtskool wat my aandag getrek het omdat die oes van hout een van die grootste oorsake van habitatverlies en die agteruitgang van ekostelsels in Afrika is

Dit is veral die handel in houtskool wat my aandag getrek het omdat die oes van hout een van die grootste oorsake van habitatverlies en die agteruitgang van ekostelsels in Afrika is. As ’n mens in Afrika reis, sien jy oral – in Mosambiek, Zambië, Kenia, Tanzanië en Ethiopië – groot hope houtskool wat te koop aangebied word.

Lorrievragte vol is boonop deurentyd op pad na die naaste hawe. Daar is ’n yslike mark vir houtskool in die Golf-state en in die Midde-Ooste omdat daar betreklik min of geen vuurmaakhout in hierdie gebiede is nie.

Die verslag meld voorts dat die Somaliese terreurgroep Al-Sjabaab tot onlangs hoofsaaklik deur hul “belasting” op houtskool-uitvoere gefinansier is. Teen November 2012 het dit onwettige belasting van tussen
$38 miljoen en $56 miljoen per jaar beteken.

Hierdie inkomste het sedertdien egter alles feitlik opgedroog. Die Keniaanse weermag wat in Somalië ontplooi is as ’n aggressiewe vredesmag, het die onwettige belastingbedryf oorgeneem en steek elke jaar tot $50 miljoen in hul sakke.

Dit maak ’n mens bekommerd dat daar ’n toenemende samesmelting tussen die belange van georganiseerde misdaad, gewapende militante en terroriste is.

Dit maak ’n mens bekommerd dat daar ’n toenemende samesmelting tussen die belange van georganiseerde misdaad, gewapende militante en terroriste is.

Mark Shaw, direkteur van Witgm, sê dat “georganiseerde misdaad toenemend besig is om vrede, sekerheid en ontwikkeling te ondermyn”.

Interessant genoeg kom minder as 1% van die inkomste van terreurgroepe uit die ivoorhandel.

“ . . . ivoor voorsien ’n deel van die inkomste van milisiegroepe in die DRK en die Sentrale Afrikaanse Republiek en is heel moontlik ’n belangrike bron van inkomste vir die Lord’s Resistance Army . . . ivoor verskaf ook ’n inkomste aan die Soedanse Djandjaweed en ander berede bendes wat in die Soedan, Tsjad en Niger bedrywig is,” lui die verslag.

Dit is duidelik dat hoewel dit belangrik is om wêreldwye aandag op die oorlewing van die sogenaamde charismatiese diere soos olifante, renosters, leeus en gorillas te vestig, die diere se toekoms net so swaar leun op die handhawing van hul omgewing as op die diere self.

En die oes van houtskool verteenwoordig ’n baie ernstige bestaansbedreiging vir al hierdie leefomgewings en vir alle wild op die vasteland van Afrika.

Meer oor:  Tony Weaver  |  Afrika  |  Terrorisme  |  Af
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.