Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Howe moet Juju nou in bek ruk
Leopold Scholtz

Wanneer gaan amptelike instansies, soos die howe en die Menseregtekommissie, teen Julius Malema en sy haatlike rassisme optree?

Malema, dit moet ’n mens toegee, is eerlik oor sy haat teenoor alle groepe anders as swart mense – wit mense, bruin mense en Indiërs.

Baie onlangs het hy beweer dat In­diërs “die ekonomie monopoliseer, werkers swak betaal en erger as die Afrikaners is”. Die Indiërs – darem nie almal nie, maar “die meeste” – is rassisties, “nes die kleurlinge” en, uiteraard, die Afrikaners.

As ’n mens die openbare gesprek dophou in lande waar populistiese politici (sowel links as regs) gevoelens vir eie politieke gewin opjaag, val dit jou op hoe rou dit geword het.

Dis asof normale beleefdheid nie meer geld nie, asof die waarheid irrelevant geword het.

Dis asof normale beleefdheid nie meer geld nie, asof die waarheid irrelevant geword het.

Nou moet ’n mens die verlede nie romantiseer nie. ’n Populis soos Adolf Hitler was ook nie bekend vir sy goeie maniere en liefde vir die waarheid nie.

Tog, in die geheel gesien, was daar ’n vae grens van beskaafdheid wat die meeste politici in liberaal-demokratiese lande nie oorgesteek het nie. Elke politikus verkondig sy “eie” waarheid, maar die uitsprake bevat meestal genoeg waarheid om as sulks erken te word.

Toenemend sien ’n mens egter by populiste van alle soorte – in Amerika, Europa, Asië en Afrika – hoe politici alle perke te buite gaan. Hoe hulle skaamteloos lieg asof dit ’n deug is.

En hoe meer hulle hulle soos ploerte gedra, hoe harder juig die harde kern van hul aanhangers.

En hoe meer hulle hulle soos ploerte gedra, hoe harder juig die harde kern van hul aanhangers.

In Suid-Afrika is daar veral twee mense wat hulle hieraan skuldig maak: Jacob Zuma en Julius Malema.

Nou kan ’n mens sê dat Zuma sy verdiende loon gekry het toe die ANC hom – uiteindelik – gedwing het om te bedank. Maar alles dui daarop dat hy ’n paleisrevolusie teen sy opvolger, pres. Cyril Ramaphosa, voorberei en dat sy rol nog glad nie uitgespeel is nie.

Dis egter veral Malema wat tans met ’n kortkop voorloop in die wedloop om die mees aanstootlike politikus in die land te wees. Sy skaamtelose rassisme teenoor almal wat nie swart is nie, bewys dit. Wanneer gaan teen hom opgetree word?

Nou moet ’n mens versigtig wees as jy dit beoordeel. Die Grondwet waarborg immers vryheid van spraak, en dinge moet baie erg wees voordat jy die wet teen hom gebruik om sy vryheid in te perk. Nietemin, haatspraak – gekenmerk deur die element van geweld en laster – word uitdruklik nié deur die Grondwet gewaarborg nie.

En miskien het die tyd aangebreek dat ons land se howe die grense duidelik trek deur Malema se uitsprake aan die reg te toets.

Twee sake van haatspraak teen Malema is tans hangende, en ’n derde klag word luidens berigte in hierdie dae teen hom ingedien.

Twee sake van haatspraak teen Malema is tans hangende, en ’n derde klag word luidens berigte in hierdie dae teen hom ingedien.

Suid-Afrika is ’n etnies verskeurde land. Dis te betreur, maar dit is nou eenmaal soos dit is, en dus is daar grense wat liefs nie oorskry moet word nie.

Sommige politici in die buiteland se platvloershede word toegejuig met die argument dat hulle hulle nie aan politieke korrektheid steur nie en dinge reguit sê soos dit is.

Wel, één só ’n plaaslike politikus is Malema. Hy sê wat in sy hart is, ongeag die skade wat hy in die proses aanrig. Maar is dit verstándig?

Terselfdertyd moet die howe ook konsekwent wees. As jy wit mense tronkstraf oplê omdat hulle die k-woord gebruik het, moet Malema nie dan ook ’n gratis verblyf in een van die staat se gastehuise kry nie?

Hopelik is daar êrens ’n regter wat die wet suiwer toepas en Malema in die bek ruk.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Politiek  |  Haatspraak  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.