Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Howe verdien almal se dank

Hoeveel keer nog moet die howe tot die land se redding kom om die brouwerk van die regering reg te maak?

Die konstitusionele hof het verlede week weer sy waarde gewys met die beslissing oor die betaling van staatstoelae en die minister van maatskaplike ontwikkeling, Bathabile Dlamini, se growwe wanbestuur daarvan.

En in ’n tweede geregtelike terugslag vir die regering is die aanstelling van Berning Ntlemeza as Valke-hoof tersyde gestel nadat verskeie nieregeringsorganisasies sy aanstelling as wederregtelik en ongrondwetlik betwis het.

Pres. Jacob Zuma het verlede week voet by stuk gehou dat Dlamini nog nie skuldig bevind is aan enige oortredings nie en heftig te kenne gegee dat hy dus geen rede het om teen haar op te tree nie.

Dlamini self het op ’n onoortuigende manier verskoning gevra vir die krisis wat sy ontketen het, klaarblyklik verseker in die wete dat daar nie teen haar opgetree sal word nie.

Suid-Afrikaners behoort bekommerd te wees oor die reëlmaat waarmee die howe moet ingryp om die dwalinge van die regering reg te ruk.

Daar is baie in die ANC wat reken die howe is skuldig aan die oortreding van die beginsel van skeiding van magte. Die howe, reken hulle, is nie gekies om te regeer nie, maar om die landswette toe te pas soos deur die ANC goedgekeur.

Hulle vergeet gerieflikheidshalwe dat die howe ’n grondwetlike verpligting het om te verseker dat die besluite wat die regering neem, rasioneel moet wees en aan die Grondwet voldoen. Anders as politieke partye, tree die howe op in die openbare en grondwetlike belang.

Dlamini het haar op vele vlakke aan die skending van die Grondwet skuldig gemaak. Sy moet eintlik dankbaar wees die konstitusionele hof het haar so lig daarvan laat afkom. Die verwagting was dat die hof op haar ontslag as minister sou aandring.

Zuma is ’n meester wanneer dit by selfbeskerming kom.

Ons het nietemin baie redes om dankbaar te wees vir die howe se intervensies. Andersins sou ons uitgelewer wees aan die nukke en giere van politici wat vergeet hulle is daar om die mense se belange eerder as dié van ’n politieke elite te dien.

Zuma se hardkoppige weiering om Dlamini in die pad te steek is duidelik. Hy het haar nodig as president van die ANC se vroueliga om sy voormalige vrou Nkosazana Dlamini-Zuma in Desember as ANC-leier gekies te kry.

Dít in die hoop dat sy later as staatshoof aan hom die nodige beskerming teen vervolging op menige aanklagte van korrupsie sal bied. Hy vertrou klaarblyklik nie sy huidige adjunk, Cyril Ramaphosa, om dié beskerming te gee nie sou hy by hom oorneem.

Ramaphosa het ’n dilemma. Kritici van Zuma sal verkies dat hy hom meer openlik teen die president se vergrype uitspreek. In die politiek is dit egter nie maklik om opwaarts teen ’n dienende leier te agiteer nie.

En Zuma is ’n meester wanneer dit by selfbeskerming kom. Hy het op die oog af nog die steun van die grootste deel van die ANC en kan maklik teen ’n uittartende Ramaphosa optree.

In die politiek is oorlewing die belangrikste doelwit, en min politici het dit in hulle om hul eie posisie ondergeskik aan hul eie oorlewing te stel.

Dít is Ramaphosa se uitdaging. So baie van sy ondersteuners wil graag glo dat hy bo kleinlike politiekery en ’n gejaag na eiebelang verhewe is.

Die harde werklikheid dui egter daarop dat hy dalk net dié toets sal druip. Daarvoor is die prag en praal van die hoogste kantoor in die land te aanloklik en aantreklik.

Meer oor:  Howe  |  Hof  |  Regering  |  Grondwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.