Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Huis, kop én hart stuk vir stuk reggepak

Huis regpak is die een manier waarop dit voel of ek my kop ook kan regpak. En die laaste paar weke doen ek dit nogal dikwels, want dit is tegelyk ’n wegpak.

Annemarie van der Walt

Die berghuis word tydelik verhuur en hoewel my meubels in goeie hande sal wees, staan ek hande in die hare oor alles in die kaste.

Die kombuisgoed van die dogters se studentewoonstel kan ek nog verstaan, ook die bokse vol briefies van hul skoolkoshuismaats, maar wat op dees aarde soek die vyf onpaar skoene, huffel verslete handsakke en die blommerige kinder­duvets nog in die huis?

Uit ook met die handdoeke en lakens wat lankal­ beter dae geken het, die drie toksakke sonder ritssluiters en ditto met die vreemde piekniekrugsak. Laat skoert met die boksie pansie-skulpe en die rooi sand iewers van die Namib, en verduister ook sommer die oudmodiese, leë fotorame. Daardie kershouers? Moenie vra nie, want ek koop mos nie kaggeldingesies nie.

Behalwe natuurlik die klein, handgekerfte Mosambiekse dau.

Vanselfsprekend het die blou glasvaas ook in my hande gespring, so sommer.

Maar origens ontken ek skuld, iets waarop ek ongelukkig nie kan aanspraak maak wanneer die stof op die lampskerms van pandemiese omvang is nie. Jig.

’n Mens bou ’n huis vir kinders en dan vat hulle die pad. Soos hulle moet. En jy bly agter, aanvanklik afwagtend op kuiers wanneer alles amper weer dieselfde is.

Dis ook ’n tikkie grillerig om als so snuif-snuif uit te sorteer, maar gelukkig is daar g’n niemand naby nie en kan ek na hartelus tjank.

Want skielik onthou ’n mens álles.

Kinderstemme, die muwwe reuk van skooltasse en die helderheid van wit skoolhemde wat uit die son na binne gebring word. Daar was die ligvoetse op en af met die houttrap van die jonges en die kere toe hulle geglo het ’n tiener kan net so ligvoets oor ’n sinkdak sluip wanneer hulle uitgeslip het.

Hoeveel keer het ons voor die kaggel gekuier, ontboesem, gebieg, gelag en gehuil? En ja, ongelukkig was daar ook kere dat deure so hard toegeslaan is dat die woede nog lank nátril. Hier is die hoekie waar die een dogter graag gelê en boek lees het, dáár die sonkol op die stoep waar die ander een verkies het om te skryf en teken.

’n Mens bou ’n huis vir kinders en dan vat hulle die pad. Soos hulle moet. En jy bly agter, aanvanklik afwagtend op kuiers wanneer alles amper weer dieselfde is. Kortstondig. Mettertyd word die kinders se wêreldse draaie wyer, verder. Jy word net-net nie gewoond daaraan nie en gesels nog hardop met hul boeke en vergete truie en lyflose rokke in die kas. Deel sommer ongevraagd steeds raad ook uit, in die hoop dat hulle hoor: “Stadig oor die klippers . . . ‘alles waar je op jaagt slaat op de vlucht’, het Stef Bos geskryf.”

Daar sal weer ’n tyd wees wanneer ek dié voordeur oopstoot. Intussen klou ek aan filosoof Marthinus Versfeld se woorde: “Bou jou huis, kook jou kos, maak jou klere, vang jou vis. Op g’n ander manier sal jy God en die wêreld verstaan nie.” Huise onthou. Gelukkig.

  • Van der Walt is ’n vryskutskrywer van Kaapsche Hoop.
Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Herinneringe  |  Kop  |  Kinders  |  Huis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.