Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Huiskoop is beslis ook nie perdekoop nie
Petro Hansen

Trou is nie perdekoop nie, dis wat die oumense altyd gesê het. Maar huiskoop is ’n ander storie. Om jou droomhuis te wil aanskaf, is beslis iets anders as om ’n sakkie groen appels te koop.

Eiendomsagente moet wragtie hare op hul tande hê, want elke kliënt is ’n tameletjie. Kleinsus se idee van die ideale huis is die ultramoderne goed wat sy op TV in Beverly Hills, 90210 sien, met glasmure, marmerblaaie en goue badproppe. Ousus fantaseer nou weer oor minimalistiese lyne en spierwit mure. Sy sal sommer by voorbaat vir Ma laat verstaan dat al die goed wat sy oor die jare opgegaar het nooit op ’n treklorrie gelaai mag word nie.

Ouboet eis ’n groot genoeg tuin vir sy honde en vir Pa is die grootte van die motorhuis die bepalende faktor.

Pa wil pakplek hê vir sy visstokke, sy gholfsak, kluis en ekstra spasie vir die motors en ten minste behoorlike rakke vir al sy toerusting, of hy nou ’n nutsman is of nie. Ma, die een met die onblusbare antieke gees, het haar hart op ’n ou huis met houtvloere en wit staalplafonne. Sy wil juis nou weer gaan nesskop op ’n plek waar sy olywe en soetkoekies in haar spens kan pak en waar sy ’n agterplaas het met plek vir ’n kruietuin waarin sy roosmaryn, koljander, basiliekruid en brandrissie kan kweek.

Pa het altyd maar vir Ma die huis laat kies wanneer hulle ’n nuwe woonplek moes soek, want waar sy was, was als vir hom hemelmooi.

Maar ons weet mos nou al, wanneer die gedane eiendomsagent ná hoeveel huisbesigtigings die een naaste aan perfek kry, dan begin die onderhandelings met banke, die gewaggery vir die goedkeuring van lenings en al daardie bankwaardasies. Eindeloos.

Pa het altyd maar vir Ma die huis laat kies wanneer hulle ’n nuwe woonplek moes soek, want waar sy was, was als vir hom hemelmooi. Of die rooi teëls in die kombuis nou sy smaak was of nie, of die dak oor hul kop van sink of leiklip was, kon hom nie skeel nie.

Pa het goed geweet dat ’n huis net ’n dop is. Hy het Ma laat begaan en haar toegelaat om elke houtmeubelstuk in die huis met Bauernmalerei te versier, ’n verftegniek met die mooiste roospatrone, solank hy net haar welbekende en ook sy gunsteling spaghetti bolognese by daardie roosoortrekte kombuistafel kon geniet; solank hy net wanneer hy laatmiddag tuiskom die beker koffie wat sy vir hom gemaak het in sy russtoel in die sitkamer van daardie huis kon drink.

Maar ons weet ook mos nou dat wanneer die gesin in hul nuwe blyplek ingetrek het, dit nog lank nie die einde van die spulletjie is nie. Ma het dalk haar sin gekry en die nuwe huis is een wat tot sy eertydse glorie gerestoureer kan word, maar kleinsus wil ’n ultramoderne kamer hê en ousus sê die nuwe kombuis moet spierwit kombuiskaste hê en ouboet sê hy wil asseblief sy eie vensterrame kies en Ma sê solank niemand raak aan die kaggelrak se rooi kleiteëls wat van Engeland ingevoer is nie . . .

Die oumense was dalk reg oor perde, maar huiskoop is plein blerrie moeilikheid koop.

Meer oor:  Petro Hansen  |  Huiskoop  |  Eiendomsagent  |  Eiendom  |  Trou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.