Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hulde aan sterk vroue gebring
Willie Spies

Augustus is Vrouemaand en op 9 Augustus is dit Vrouedag.

Die dag het sy oorsprong in 1956, toe 20 000 vroue na die Uniegebou opgemars het om protes aan te teken teen die paswette wat destyds gegeld en die waardigheid van swart mense aangetas het.

Die paswette was, anders as wat algemeen geglo word, nie ’n uitvinding­ van die Nasionale Party (NP) se bewind ná 1948 nie, hoewel dit as een van die mees prominente en gehate praktyke van apartheid beskou word.

Die eerste paswette is reeds in 1760 deur die Britse koloniale bewind in die Kaap ingestel om die vrye beweging van slawe aan bande te lê. Tot in 1950 was paswette in verskillende vorme slegs op swart mans van toepassing, maar toe die NP die maatreëls in die 1950’s ook na vroue uitbrei, het die weerstand by vroue begin oorkook en gelei tot die groot saamtrek op 9 Augustus 1956.

“Wathint’ abafazi, wathint’ imbokodo” is die Zoeloe-woorde van die lied wat die vroue in opmars na die Uniegebou gesing het – “as jy ’n vrou tref, tref jy ’n rots”. Hierdie woorde is steeds die inspirasie vir vele vroue-veldtogte om erkenning en gelykberegtiging.

Die Afrikaner-geskiedenis het sy eie verhale van vroue-waagmoed en opstand. Augustus is inderdaad ook ’n betekenisvolle maand vir die heldeverhaal van ’n besondere vrou uit die Afrikaner-geskiedenis.

Sy het vertel van die opofferings en bloedvergieting ten tyde van die Trek en gesê dit is onmoontlik vir die vroue om onder Britse gesag in Natal te leef.

Op 28 Augustus 1798 is Susanna Catharina­ Maritz in die Graaff-Reinet-distrik gebore. Sy was ’n suster van die Voortrekker-leier Gerrit Maritz.

Susanna was baie jonk – eintlik nog ’n tiener – toe sy met die prediker Erasmus­ Smit, wat saam met die Voortrekkers aan die Groot Trek deelgeneem het, getroud is.

Sy het ook dagboek gehou ten tyde van die Trek en haar dagboek was die onderwerp van verskeie teologiese artikels en studies oor heersende teologiese denkrigtings van Afrikaners in die 19de eeu. Sy was diep gelowig maar ook ontnugter omdat die Voortrekker-leiers van haar tyd niks daarvan wou weet om haar man as ’n predikant van die Voortrekkers te erken nie.

Van 5 tot 9 Augustus 1843 het Henry Cloete, Britse koloniale amptenaar, afvaardigings uit Voortrekker-geledere besoek om na hul griewe te luister nadat Brittanje Natal slegs ’n jaar tevore geannekseer het.

Britse amptenare en skrywers het bra minagtend na die groepie Afrikaners verwys waarmee hulle te doen gekry het.

Britse amptenare en skrywers het bra minagtend na die groepie Afrikaners verwys waarmee hulle te doen gekry het.

Die geskiedskrywer John Bird het hulle beskryf as ’n “noisy, senseless mob who, by imprecations and threats of violence, did their utmost to drive these representatives from their post, or get them to proclaim their independ­ence from all British authority”.

Dieselfde stil, diep godsdienstige Susanna­ het met 400 ander vroue ’n onderhoud met Cloete aangevra.

In die onderhoud het sy Cloete vertel hoe swaar hulle geleef het op die Kaapse oosgrens en hoekom hulle getrek het. Sy het vertel van die opofferings en bloedvergieting ten tyde van die Trek en gesê dit is onmoontlik vir die vroue om onder Britse gesag in Natal te leef en hulle sou kaalvoet oor die Drakensberge terugloop eerder as om onder die nuwe Britse bewind te dien.

Ironies genoeg het Susanna Natal nooit verlaat nie en sy is inderdaad daar oorlede, maar haar nalatenskap van stille krag, geloof en moed om onregverdige gesag uit te daag, is vandag steeds ’n inspirasie.

As jy ’n vrou tref, tref jy inderdaad ’n rots – daarvan getuig die gebeure van Augustus 1956 – maar ook van Augustus 1843.

  • Spies is ’n prokureur van Hurter Spies en voorsitter van Pretoria FM

Meer oor:  Willie Spies  |  Vrouedag  |  Trekkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.