Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Húlle het my (stigtelike) ma goed opgewerk

Vandeesweek, met die tennislegende John McEnroe se 60ste verjaardag, het ek baie aan my oorlede ma gedink. Sy was ’n waardige vrou, lief vir sport.

McEnroe was een van twee mense wat die heel slegste in haar na vore kon bring. Die ander een was Gareth Edwards, briljante skrumskakel van die 1974-Britse Leeus.

Ons het destyds smiddae na die toerwedstryde op die radio geluister. “En daar trek Edwards!” sou die kommentator Gerhard “Spiekeries” Viviers elke minuut of twee effens wanhopig uitroep.

Ons het die eerste toets op Nuweland gaan kyk. Die Springbokke het met 12-3 verloor, maar my ma kon die nederlaag darem verwerk. Op die nat veld het die Bok-heelagter, Ian McCallum, sy trui mooi ingesteek gehou en sy sokkies was heeltyd opgetrek. “Altyd so ’n netjiese man,” het sy in die kar op pad huis toe gesê. Die tweede toets in Pretoria was ’n ramp vir die Bokke. Toe Edwards vir die soveelste keer deurbreek op pad na die Leeus se vyfde drie (begelei deur Spiekeries met “ . . . klop een man, klop ’n tweede man . . .”), het my ma skielik geskreeu: “Man, skop sy enkels af! Skop sy enkels af!”

My ma het geskreeu: Man, skop sy enkels af! Skop sy enkels af!

Dis nié hoe ek my ma geken het nie – hierdie andersins beheerste vrou wat vir elke boemelaar wat aanklop ’n bord keurige kos gegee het, die diereliefhebber en sameroeper van haar leeskring. Selfs my pa het geskrik.

Tennis was haar lieflingsport en Björn Borg was haar speler. Kalm, klinies en netjieser as selfs Ian McCallum. McEnroe was die teenoorgestelde. Opvlieënd, een van die mees omstrede spelers van sy tyd, veral onder Wimbledon se baadjiedraers. Maar op die baan was hy subliem. Sy voorgevoel, sy reflekse by die net . . . Een van die beste spelers van enige era.

Tydens ’n Wimbledon-eindstryd sou my ma haar stelselmatig vir McEnroe opwerk. Eers sou sy haar tong klap, dan saggies sis. Tsss.

Maar my ma kon McEnroe nie voor haar oë verdra nie. Daardie bos hare, sy humeur, die ewige gepluk-pluk aan sy hemp, sy “hangskouertjies”, die onvergenoegde gesig wanneer ’n lynregter hom glo te na kom.

Tydens ’n Wimbledon-eindstryd sou my ma haar stelselmatig vir McEnroe opwerk. Eers sou sy haar tong klap, dan saggies sis. Tsss.

Wanneer hy met die lynregters begin redekawel, het sy haar hoorbaar vererg met ’n “Maar, my magtag, man!” En as McEnroe sy humeur vir die skeidsregter verloor, sou sy hom vermaan: “Hou jou in, man. Hou. Jou. In!”

En ná die uitbarsting, wanneer Borg wou afslaan en McEnroe staan aan die oorkant en begin pluk-pluk wéér aan sy hemp sodat Borg moet wag, het die damwal gebreek. My ma was ’n kerkmens. Sy was stigtelik. Maar dan sou sy met nadruk sê: “Die Here hoor my brom . . .”

’n Mens kan amper nie glo dit is dieselfde McEnroe wat deesdae so gemoedelik en bedeesd kommentaar lewer nie. Sonder hom en Borg sou tennis soveel armer gewees het. Selfs my ma sou saamstem, dit was ’n goue era.

Meer oor:  Bun Booyens  |  Menings  |  Tennis  |  Sport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.