Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Huwelik is nie rêrig ’n Bybelse instelling

Is die siening dat die huwelik ’n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is regtig ’n Bybelse standpunt? Of is dit ’n sosiaal-politieke oortuiging, vra Piet Muller.

Die digter-sanger Heinrich Teschler (12de eeu), betuig sy troue liefde teenoor sy geliefde. Die knieval wat hy maak, word vandag nog gedoen deur romantiese jong ridders wat hul meisies vra om te trou. Dit is ontleen aan die Middeleeuse plegtigheid waartydens ­ridders trou aan hul leenheer beloof het.Skets: Hanlie Malan

‘n Huwelik is die lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou,” het die NG Kerk se algemene sinode onlangs “bevestig”.

Dit laat die interessante vraag ontstaan: Waar kom hierdie opvatting vandaan? Want dit is gewis nie ’n Ou Testamentiese opvatting nie!

Trouens, as ’n mens in die Ou Testament en selfs in die Tussen Testamen­têre tydperk lees van mans met een vrou, kan ’n mens aanvaar dat dit ­waarskynlik bloot om ekonomiese redes was en nie om godsdienstige of morele redes nie.

In die Nuwe Testament raai Paulus wel sy gemeentes aan om net ouderlinge te kies wat een vrou het, want enigiets anders sou ’n Romeinse wetsoortreding wees.

Trouens, deur die hele Bybelse tydperk word vroue van so min waarde geag dat hulle instemming nie eens nodig was om ’n huwelik aan te gaan nie. Die huwelik is gewoon tussen die twee betrokke pa’s gereël, dikwels om familie­belange te beskerm of uit te brei.

As sake tussen die twee families nie uitwerk nie is die bruid maklik terug­geneem en aan ’n ander man gegee. Dit het veral in koninklike huwelike gebeur.

Waar daar in die Bybel sprake is van egskeiding, gaan dit nie om die heiligheid van die huwelik nie, maar om ekonomiese geregtigheid en die versorging van die vrou. As ’n vrou nie meer familie gehad het wat haar kon – of wou – terugneem nie, het sy ná ’n egskeiding letterlik op straat gesit.

So skryf die vrome Petrus Lombardus nog in die middel van die 12de eeu: “Elke te ywerige minnaar van sy eie vrou is ’n owerspelige.”

Die huwelik was ’n politieke of ’n burgerlike kontrak tussen twee families of, in die geval van konings, tussen twee state, en die kerk was nie hierby betrokke nie.

Trouens, vir die kerk was die huwelik aanvanklik ’n taamlike viesige affêre, vol wellus. Die enigste voordeel was dat die wellus binne ’n huwelik vir voortplanting aangewend kon word.

So skryf die vrome Petrus Lombardus nog in die middel van die 12de eeu: ­“Elke te ywerige minnaar van sy eie vrou is ’n owerspelige.”

Die Rooms Katolieke Kerk het eers in die 16de eeu finaal besluit dat die huwelik ’n sakrament is.

Dit is vandag nog een van die groot verskilpunte met die Protestantisme, wat dit nooit aanvaar het nie.

Om en by die wending van die 11de na die 12de eeu breek daar ’n “kulturele revolusie” in Europa uit: Troebadoers en minnesangers begin skielik oor die idealistiese en romantiese liefde sing. Van ’n “liefde wat die blote seksuele oorstyg, maar dit ook insluit”, sê die Vlaamse historikus Jozef Janssens daarvan.

Die soort liefde wat twee mense op mekaar verlief laat raak en laat besluit om te trou. Iets wat nog nooit voorheen in die geskiedenis gebeur het nie en sowel geesdrif as verontwaardiging uitlok.

Digters en sangers bied selfs die liefdeshuwelik aan as ’n manier waarop die man meer verfyndheid en beskawing kan leer! Boonop kry die gewone mens ’n besef van sy of haar eie individualiteit en waardigheid.

Dat dit nie net ’n uiterlike verandering is nie, maar veral ook ’n innerlike gemoedsverandering kan ’n mens aflei uit die verskillende weergawes van die legende van die heilige Graal, dalk die Christendom se grootste literêre prestasie. Hieruit word dit duidelik dat die Europese man op daardie tydstip dringend op soek is na sy Anima of vroulike aspek.

Die kerk het hom op hierdie tydstip stadigaan van die betrokkenheid by die wêreldse politiek begin losmaak. Pleks van ’n dienaar te wees van die wêreldse heersers, het die kerk tot die gevolgtrekking gekom dat hy self die model moet wees waarna almal strewe.

Die daaglikse lewe moet vergoddelik word. As deel van die sogenaamde Gregoriaanse hervorming word selfs besluit dat priesters voortaan selibaat moet wees en dus ’n trappie hoër op die sedelike leer as die leke moet staan!

Die sterkste rede hiervoor was waarskynlik om te voorkom dat kerklike ampte oorerflik word, soos adellike ­titels.

Op hierdie tydstip begin teoloë voorstel dat die huwelik lewenslank en onverbreekbaar behoort te wees. Die onverbreekbaarheid van die huwelik
vloei voort uit die feit dat dit ’n wils­ooreenkoms tussen twee vennote is, skryf Janssens.

Die kerk ontwikkel op hierdie tydstip ook ’n sterk belang by die inseëning van die huwelik: As die kerk huwelike bevestig en kinders doop, kan die kerk
ook deeglike statistieke hou van al die lidmate.

Iets wat vir die kerk se “kliënte” – die wêreldlike heersers – van wesenlike belang is. Op grond van sulke inligting kan belasting gehef en mense vir diensplig opgeroep word.

Dit neem egter ’n goeie tyd voordat die kerk ’n greep op die huwelik kon vestig. Aan die begin van die 12de eeu is daar op ’n uitbeelding van die huwelik van die graaf van Vlaandere wel ’n priester teenwoordig, maar net as gas en nie as huweliksbevestiger nie.

Wanneer die hertog van Brabant egter in die 15de eeu trou, is die inseëning van sy huwelik deur ’n priester die hoogtepunt van die plegtigheid.

In die eeu daarna bereik die Katolieke Kerk sekerheid oor die huwelik as ­sakrament.

Op grond van hierdie geskiedenis kan ’n mens wel vra: Is die siening dat die huwelik ’n lewenslange verbintenis ­tussen een man en een vrou is regtig ’n Bybelse standpunt? Of is dit ’n sosiaal-politieke oortuiging ?

En is die hedendaagse opkoms van die behoefte aan gay- en lesbiërhuwelik nie ook ’n soortgelyke maatskaplike verskynsel as die ontstaan van die liefdeshuwelik nie?

  • Dr. Piet Muller is ’n onafhanklike ­navorser, pietmul@icon.co.za.
  • Bronne:

Huizinga, J, Herfstij der Middeleeuwen

Janssens, J, De Middeleeuwen zijn anders

Meer oor:  Bybel  |  Huwelik  |  Gay
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.