Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hý blaf nie saam met die honde

Woensdag het die Afrikaanse historikus Hermann Giliomee 80 jaar oud geword.

Sy lewe en openbare bydrae het my laat dink aan die titel van die Duitse historikus-joernalis Joachim Fest se outobiografie: Ich nicht! (“Ek nie!”)

Fest vertel in sy boek dat sy pa in die jare 30 as onderwyser geskors is omdat hy geweier het om lid van die Nazi-party te word. Toe die jong Joachim hom vra hoekom, was sy antwoord ’n aanhaling uit die Vulgaat, die Latynse vertaling van die Nuwe Testament: Etiam si omnes, ego non! (“Ook as almal dit doen, ek nie!”)

Dit was inderdaad die rigsnoer vir Fest regdeur sy lewe (hy is in 2006 oorlede). As gematig-konserwatiewe joernalis (redakteur van die kwaliteitsdagblad Frankfurter Allgemeine Zeitung) en skrywer van verskeie boeke oor die Derde Ryk het hy sonder uitsondering geweier om te buig voor die wispelturige tydsgees – dan links, dan weer regs.

Oor die lewe van Giliomee kan die woorde van Fest in hoofletters geskryf word. Ook hy het geweier om voor die diktatuur van linkse en regse politieke korrektheid te gaan lê.

Ook hy het geweier om voor die diktatuur van linkse en regse politieke korrektheid te gaan lê.

Giliomee het sy openbare lewe begin met ’n bedaarde, rasionele verset teen apartheid. In sy geskrifte het hy nie alleen op die morele verwerplikheid van die beleid gewys nie, maar veral ook op die praktiese onhaalbaarheid daarvan.

Helaas was die Afrikaners se vermoë om sulke waarhede te verdra destyds klein. Gevolglik moes talle van Giliomee se belangrikste bydraes in dié tyd in die Engelse pers gelewer word.

Ook is die lewe aan die Universiteit Stellenbosch, waar hy dosent was, vir hom só onplesierig gemaak dat hy na Kaapstad moes uitwyk.

Sy aftrede het min of meer saamgeval met die veranderde politiek in die land, met die gevolg dat hy weer in die Afrikaanse pers kon skryf en as navorsingsgenoot in Stellenbosch aanvaar is.

Maar ook nou was dit ’n geval van ego non, want hy het die polities korrekte taalbedrog om Stellenbosch te verengels, kliphard aan die kaak gestel en apartheid onemosioneel-akademies geanaliseer.

Giliomee het sy openbare lewe begin met ’n bedaarde, rasionele verset teen apartheid.

Giliomee se historiese bydrae is ’n uitstekende illustrasie van wat die taak van die historikus moet wees – en wat dit juis nié is nie. Dis nié om morele oordele te vel en beleidsrigtings, bevolkingsgroepe en politieke figure te veroordeel nie.

In die voorwoord van sy seminale werk oor die geskiedenis van die Afrikaners haal hy die historikus H.D.F. Kitto aan: “To understand is not necessarily to pardon, but there is no harm in trying to understand.” Daardie woorde staan in vet letters oor al sy geskrifte geskryf.

Die taak van die historikus, soos ek dit sien, is drieërlei: Jy moet die verlede so eerlik moontlik rekonstrueer; jy moet dit ontleed om vas te stel wáárom dinge gebeur het soos dit gebeur het en om moontlike patrone te ontdek; en jy moet verstaan wat dit alles beteken, wat die gevolge was.

To understand is not necessarily to pardon, but there is no harm in trying to understand.

Te veel mense skreeu hul frustrasies deesdae van die dakke (dikwels van agter skuilname op die internet) uit, so asof die virtuele desibels wat hulle voortbring eweredig met hul oortuigingskrag toeneem.

Die sosiale media, wat mense aanmoedig om in hul eie eggokamers rond te wentel, bevorder dit.

Giliomee se werk illustreer iemand wat bereid was – en is – om wyd te lees en te luister, en dan self te besluit.

Iemand wat nie saam met die honde blaf en die wolwe huil nie.

Tagtig is ’n mooi leeftyd, en hopelik is daar nog baie kreatiewe werk in sy gees oor. Ek hoop om binnekort ’n broodjie saam met hom te breek wanneer ek in Stellenbosch kom.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Hermann Giliomee  |  Menings  |  Herdenking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.