Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hý dalk die salf vir DA se knoue

Is daar salf te smeer aan die vele selfopgelegde knoue wat die DA die afgelope tyd opgedoen het?

In 2016 se munisipale verkiesing het die DA (in koalisie met die EFF) die ANC ’n gevoelige knou toegedien deur die metropole van Tshwane, Johannesburg en Nelson Mandelabaai (Port Elizabeth) af te rokkel.

Dit was ’n hoogtepunt vir die DA, maar baie reken die party het sy kanse verspeel en sal waarskynlik sy sterk posisie van 2016 in aanstaande jaar se munisipale verkiesing kwyt wees.

Sy prestasie in verlede jaar se algemene verkiesing was swak. Sedert 2016 het die DA sy eerste swart leier, Mmusi Maimane, verloor. Die voormalige leier, Helen Zille, het tot die hoofstroompolitiek terugkeer, en ’n nuwe leiersverkiesing wag om Maimane te vervang. ’n Verkiesingskonferensie word ook binnekort gehou om oor ’n manifes en kandidate vir aanstaande jaar se munisipale verkiesing te besluit.

Daar kan nie enige twyfel wees dat die DA in die moeilikheid is en drastiese stappe sal moet doen om sy situasie te beredder nie.

Die Wes-Kaapse leier, Bonginkosi Madikizela, is terug in die wedloop nadat hy hom vroeër onttrek het.

Tog het die party die moontlike oplossings wat kan help. Dit is vervat in ’n verslag oor die stand van die party wat deur die voormalige leier Tony Leon, die voormalige hoofstrateeg Ryan Coetzee en die oud-bankbaas Michiel le Roux geskryf is. Hulle het onder meer bevind dat die party se agteruitgang toegeskryf kan word aan swak leierskap, ’n bevinding wat waarskynlik Maimane sy pos as leier gekos het.

Die voormalige hoofsweep in die nasionale vergadering, John Steenhuisen, is as tussentydse leier aangewys en is die gunsteling om Maimane op te volg.

Hy sal egter nie onbestrede meeding nie. Die Wes-Kaapse leier, Bonginkosi Madikizela, is terug in die wedloop nadat hy hom vroeër onttrek het. Die naam van die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, word ook genoem. Hy en Madikizela sal gedugte teenstanders vir Steenhuisen wees.

Die DA se grootste uitdaging is om meer verteenwoordigend van die bevolking te wees. Dit is ’n knelpunt en meulsteen. Die DA weier om ras in ag te neem wanneer dit by die keuse van leiers en verteenwoordigers kom. Die terugkeer van Leon en Zille tot rolle in die party word gesien as ’n terugkeer na wit leiers wie se tyd verby is.

Oor ras het die Leon-paneel onder meer gesê dit is ’n kwessie van regstelling. En regstelling is ’n kwessie van geregtigheid. Vir die paneel beteken geregtigheid dat mense wat onder diskriminasie gely het en nog steeds sukkel weens die gevolge van ontneming, vergoed moet word. In die Suid-Afrikaanse konteks kan dit net die vergoeding van swart mense beteken.

Dit is tyd dat die DA vrede maak met hierdie realiteit en uitwerk hoe om daarop te reageer. Die handhawing van ’n hoogheilige posisie daaroor kan net teenproduktief wees en die party se voorspoed verder belemmer. Uit sy uitsprake kan ’n mens aflei dat Steenhuisen ’n stoere voorstander van die DA se benadering tot die raskwessies is. Min sal dus verander sou hy as DA-leier verkies word. Dit beteken die DA sal bly in die groef waarin hy hom bevind.

Indien die DA die status quo wil verander, klink dit nie of Steenhuisen die antwoord is nie. Van die ander moontlike kandidate wat genoem word, blyk Madikizela die beste toegerus te wees.

As Wes-Kaapse leier en LUR moes hy al aan die DA se kriteria vir leierskap voldoen het. In sy geval behoort sy eerstehandse ervaring van uitsluiting en diskriminasie as ’n pluspunt gesien te word. Dat hy reeds oor die DA se meriete-hekkie gekom het, behoort hom net ’n sterker kandidaat te maak.

Hy blyk net die regte salf te wees wat die DA nou nodig het.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Da  |  Da-Leier  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.