Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hy het diep spore getrap
Prof. Sydney Brenner gee in 2008 sy voetafdruk vir Maropeng se heldegalery. By hom is Mbhazima Shilowa, indertyd premier van Gauteng. Foto: Loanna Hoffmann

As een van die leidende bioloë van die 20ste eeu was Sydney Brenner in 2002 die medewenner, saam met John Sulston en Robert Horvitz, van die Nobelprys vir geneeskunde en word hy erken vir sy aandeel in die ontsyfering van die genetiese kode, sy navorsing op ’n aalwurm wat ’n nuwe veld van menslike siektenavorsing gevestig het, en as een van die grondleggers van die molekulêre biologie.

Sy vernaamste bydrae tot die wetenskap was ongetwyfeld die werk wat hy saam met Francis Crick, die mede-uitvinder van DNS, en ander gedoen het om die genetiese kode te ontwikkel.

In 1961 demonstreer hulle dat DNS bestaan uit ’n reeks van drie nukleotiede, bekend as kodone, wat die aminosure enkodeer om ’n proteïen te vorm.

Jeugjare

Sydney Brenner is in 1927 in armoedige omstandighede in Germiston gebore.

Sy vader, Morris Brenner, ’n ortodokse Jood, arriveer in 1910 as vlugteling uit Litaue en vestig hom in Boksburg as skoenmaker.

Ofskoon hy ongeletterd was, kon hy Jiddisj, Russies en Engels vlot praat en het hy spoedig Afrikaans en Zoeloe aangeleer.

Brenner se moeder, Leah Blecher, was eweneens ’n vlugteling uit Riga, Letland. Uit hul huwelik is twee kinders, Sydney en ’n dogter, Phyllis, gebore.

Reeds as jeugdige blink die jong Sydney op akademiese gebied uit en leer hy homself op vierjarige ouderdom om te lees. Op vyfjarige ouderdom gaan hy skool toe en slaag graad 1, 2 en 3 almal in een jaar.

Hy matrikuleer op 14-jarige ouderdom aan die Hoërskool Germiston en skryf die volgende jaar as 15-jarige by Wits in as student in die geneeskunde, danksy ’n beurs van die munisipaliteit van Boksburg wat sy onderwysers vir hom bemiddel het.

Toe hy besef hy sou by graduering te jonk wees om kon te registreer as geneesheer, studeer hy terselfdertyd vir die graad B.Sc in anatomie en fisiologie, en later die honneurs- en magistergraad in sitogenetika.

As geneeskundestudent was sy punte wisselvallig en dop hy selfs die vakke medisyne en snykunde in sy finale studiejaar, maar slaag verloskunde en ginekologie met onderskeiding.

Hy behaal die grade MB BCh in Junie 1951.

Brenner besluit, tot groot teleurstelling van sy ouers, om nie as geneesheer te praktiseer nie, maar liewers navorsing te doen op die gebied van die biochemie. Sy aansoekbrief aan Cambridge om verder te studeer in dié rigting word nie eens beantwoord nie, maar met ’n beurs van die Commission for the Royal Exhibition of 1851 studeer hy aan Oxford vir die PhD-graad in molekulêre biologie.

Wending in sy loopbaan

In Oxford kom hy te hore van twee navorsers by Cambridge, Francis Crick en Jim Watson, wat navorsing doen oor die DNS-struktuur. Hy reis na Cambridge om met hulle by die Cavendish-laboratorium te gesels. Dié ontmoeting was vir hom ’n waterskeiding wat sy loopbaan in ’n heel ander rigting sou stuur as een van die grondleggers van die molekulêre biologie.

Begeesterd deur die insigte wat die DNS-struktuur bied, het hy op die plek besluit om sy lewe aan die begrip van gene te bestee.

Hy sou self skryf: “Ek het net eenvoudig besef dat dit die begin van die molekulêre biologie was. Dit was asof die gordyn oopgetrek het, en alles was vir my duidelik oor wat ek moes doen.”

Crick en Watson het in 1962, saam met Maurice Wilkins, die Nobelprys vir geneeskunde gedeel vir hul ontsyfering van die dubbelheliks DNS-kode.

Brenner tree in 1952 in Londen in die huwelik met May Covitz, ’n mede-Suid-Afrikaner en self ’n PhD-sielkundestudent in Londen. Die egpaar sou drie kinders, Belinda, Carla, en Stefan, hê.

Nadat hy die PhD-graad aan Oxford behaal het, keer Brenner en sy eggenote in 1954 terug na Suid-Afrika, maar twee jaar later is hulle terug na Cambridge waar hy vir 20 jaar navorsing doen oor die molekulêre biologie by die Mediese Navorsingsraad in Cambridge in samewerking met Francis Crick, met wie hy die hele tyd ’n kantoor gedeel het.

Nadat die genetiese kode teen 1966 volledig ontsyfer is, is Brenner daarvan oortuig dat hy vir sy genetiese studie van molekules na diere moet verskuif.

Hy besluit om die nematode rondewurm, slegs 1 mm lank, te gebruik as organisme vir sy navorsing oor die neurale ontwikkeling van lewende wesens. Dit sou vir hom later die Nobelprys besorg.

Lewe in die VSA en Singapoer

In 1976 verhuis Crick na die Salk-instituut vir Biologiese Studies in San Diego, Kalifornië, en word Brenner as direkteur van die MNR aangestel. Omdat die pos al hoe meer administratiewe pligte op hom gelaai het, tree hy ná tien jaar af as direkteur om hom toe te wy aan navorsing in sy nuutgestigte Eenheid vir Molekulêre Biologie.

Hy was sy lewe lank ’n kwaai roker en ondervind asemhalingsprobleme. Om die koue Britse winters te ontsnap, verhuis hy in 1996 na die VSA en sit sy navorsing voort by die Instituut vir Molekulêre Wetenskappe in Berkeley, Kalifornië.

Hy bly internasionaal betrokke by die Salk-instituut in San Diego, Kalifornië, die Instituut vir Molekulêre en Selbiologie in Singapoer, en elders.

Sy laaste jare, tot by sy dood vroeër vandeesmaand, sou hy in Singapoer deurbring, waar hy Singapoer op die internasionale biotegniese terrein vestig.

Van sy eerbetonings, afgesien van die Nobelprys in 2002, sluit in die Koningsmedalje van die Britse Royal Society, die Kyoto-toekenning (Japan se hoogste toekenning aan ’n indiwidu vir internasionale prestasies), ereburgerskap van Singapoer, en vele eredoktorsgrade. In Suid-Afrika is ’n standbeeld van hom opgerig op die Nobelprysplein in die Waterkant, Kaapstad, saam met dié van die nege ander Nobelpryswenners van Suid-Afrika.

In sy private lewe was Brenner bekend vir sy skerpsinnigheid en bitsige geestigheid, wat hom op persoonlike vlak dikwels van sy kollegas vervreem het.

Ofskoon sy ouers ortodokse Jode was, het hy nooit die Judaïsme beoefen nie, en later self erken dat hy ’n ateïs is.

Vanweë sy longprobleme moes hy in sy laaste jare gereeld suurstof ontvang terwyl hy sonder onderbreking bly werk het.

Brenner was 93 jaar oud met sy dood.

Christo Viljoen is ’n afgetrede ingenieur en akademikus.

Meer oor:  Terugblik  |  Profiel  |  Lewensverhaal  |  Nobelprys  |  Afsterwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.