Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hy het filosofie gedóén

Prof. Vincent Brümmer, vermaarde godsdiensfilosoof van Utrecht, is op 30 Maart vanjaar in die ouderdom van 88 jaar oorlede. Daarmee het die wysgerige gemeenskap hier en internasionaal een van hul kleurrykste en invloedrykste figure verloor.

Brümmer se lewe en werk staan deurentyd in ’n interessante dialektiese spanning met die verskynsel van geskiedenis. Hy het ’n besonder interessante persoonlike lewensgeskiedenis. Hy is wysgerig aanvanklik geskool in die geskiedenis van die filosofie. Tog bring sy ervaring as student van prof. A.E. Loen, sowel as sy studie by Oxford, hom tot die lotsbepalende besef dat geskiedenis vir filosofering minder belangrik is. En tog: Ná sy aftrede hou hy hom hoofsaaklik besig met die geskiedenis van die teologie op Stellenbosch. Hy kon die geskiedenis uiteindelik nie prysgee nie!

Nagraadse studies

Brümmer word groot in ’n akademies deurdrenkte omgewing. Sy vader, Nicolaas Johannes Brümmer, was die eerste voltyds aangestelde professor in filosofie op Stellenbosch (1911 tot 1941). Sy oupa aan moederskant, Johannes Izaak Marais, was van 1873 tot 1919 hoogleraar aan die Kweekskool op Stellenbosch. Brümmer self studeer aanvanklik filosofie (onder leiding van proff. Freddie Kirsten en Johannes Degenaar) en teologie op Stellenbosch.

In 1957 ontvang hy ’n gesogte beurs vir studie aan die Harvard Divinity School in die VSA en verwerf sy magistergraad in die teologie binne een jaar. Nadat hy sy studie aan die Kweekskool op Stellenbosch voltooi het, vertrek hy na Nederland, waar hy aan die Universiteit van Utrecht onder leiding van Loen ’n proefskrif voltooi oor die tekortkominge en teenstrydighede in die denke van Herman Dooyeweerd, ’n figuur wat in daardie stadium heelwat aandag getrek het in Suid-Afrika.

Brümmer het enorme agting vir die nederige Loen gehad. Laasgenoemde het weekliks ’n paar studente na besprekings in sy studeerkamer genooi, waarvan Brümmer een was. Hulle oefen toe druk uit op Loen om sy beroemde teks De vaste grond met hulle te bespreek, al was hy teensinnig weens sy beskeidenheid. Toe hulle Loen uitvra oor watter denkers hy die meeste gelees het en hom die meeste beïnvloed het, blyk dit omtrent niemand nie. Die boek is oorwegend self-uitgedinkte idees!

Prof. Vincent Brümmer. Met sy afsterwe het die “wysgerige gemeenskap hier en internasionaal een van hul kleurrykste en invloedrykste figure verloor”.

Om ’n filosoof te word

Tesame met ’n studietydperk aan Oxford waar Brümmer ook sterk beïnvloed is deur Ian Ramsey (asook die idees van die latere Ludwig Wittgenstein), is Brümmer getransformeer ten opsigte van sy opvatting oor hoe ’n mens ’n filosoof word. Jy identifiseer probleme en dink selfstandig oor hulle na, ongeag die invloede wat jou leeswerk onbewus daarop kan hê. In ’n artikel oor sy eie vorming,“Kronkels in mijn denkweg”, formuleer hy dit so: “Om filosofie te doen, eerder as om filosofieë te bestudeer”.

Hier speel die geskiedenis van die denke ’n minder belangrike rol; filosofiese arbeid is hiervolgens minder afhanklik van diepsinnige bestudering van wat reeds oor ’n probleem gesê is en meer aangewese op wat selfstandig geproduseer word.

Hierdie ontdekking het meegebring dat Brümmer oor die jare sedertdien een van die belangrikste godsdiensfilosowe ter wêreld geword het.

Hy is ’n leidinggewende figuur in die benadering waarin ’n probleem – byvoorbeeld: Hoe moet ons dit verstaan dat God ’n persoon kan wees? of: Wat doen ons regtig wanneer ons bid? – geïdentifiseer en behoorlik geformuleer word, en dan onderwerp word aan ’n deeglike analise van die betekenisse en aannames van elke kernbegrip in die probleemstelling.

Nie almal stem met hom saam dat dit die deurslaggewende wysgerige metode is nie. Nogtans was die invloed wat Brümmer met hierdie benadering uitgeoefen het, en steeds uitoefen, wydlopend en internasionaal erken.

Geen wonder nie dat hy in 1967 op 35-jarige leeftyd deur die Universiteit van Utrecht aangewys is as Loen se opvolger as hoogleraar in godsdienswysbegeerte. Voor laasgenoemde aanstelling was hy ook vir kort tydperke dosent in filosofie aan die Universiteit van Natal (in Pietermaritzburg) en Unisa.

Renons in apartheid

Brümmer was ’n kleurryke figuur wat hom nie maklik op sleeptou laat neem het deur allerlei nuwe idees en modes nie.

Aan die kweekskool op Stellenbosch, waar apartheid deur meer as een toenmalige dosent teologies “gefundeer” is, het Brümmer, danksy invloede soos dié van J.J. Degenaar, ’n lewenslange renons in apartheid ontwikkel.

Tog, as hoogleraar in Utrecht kon hy hom eweneens nie assosieer met die destydse akademiese boikot teen Suid-Afrikaanse studente nie. Talle Suid-Afrikaners wat in daardie jare in Nederland gaan studeer het, kan vandag getuig van die deurslaggewende rol wat Brümmer gespeel het om hulle in die bekende Mauritzhuis in Utrecht te help akkommodeer.

Soos reeds gesuggereer, het Brümmer ’n ambivalente verhouding met die geskiedenis gehad. Dit het veral na vore gekom in die tyd ná sy aftrede.

Hy was ’n kenner van Middeleeuse en Renaissance-argitektuur; ek herinner my byvoorbeeld ’n kongres wat ek op sy uitnodiging bygewoon en toegespreek het en wat aangebied is in Het Loo, die paleis van Oranje-Nassau by Appeldoorn in Nederland. Brümmer was ’n meesleurende gids by dié geleentheid!

Islam en die Christendom

Brümmer het op sy oudag ook ’n besondere belangstelling ontwikkel in die probleem van die (moontlik) botsende waarheidsaansprake van verskillende godsdienste.

Hy het hom in die proses veral verdiep in die Islam en belangwekkende artikels oor die gesprek tussen die Christendom en Islam geskryf. Dit het meegebring dat hy selfs by geleentheid na Iran genooi is om ’n reeks lesings oor hierdie onderwerp aldaar te lewer.

Daarby het hy besonder waardevolle werk gelewer in die analise van die historiese bronne van leidinggewende teologiese beskouings in die NG Kerk sedert die laat 19de eeu.

Sy vernaamste bevindings is vervat in ’n besonderse boek met die titel Vroom of regsinnig? Teologie in die NG Kerk (2013) waarvoor hy ook die Andrew Murray-prys vir teologiese werk verower het.

Brümmer het hierdie studie gedoen as gevolg van ’n uitnodiging wat die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (Stias) aan hom gerig het om as navorsingsgenoot daar te werk.

Invloede in die NG Kerk

Brümmer se vernaamste bevinding in die boek is dat die NG Kerk se teologiese ontwikkeling in die 20ste eeu gestuur is deur twee sentrale invloede.

Die een is die konfessionalisme (waarin figure soos Koot Vorster en F.J.M. Potgieter sentraal gestaan het). Dit het regsinnigheid as kern-voorwaarde vir geloof gestel, en wel in dié sin dat regsinnigheid beteken dat ’n mens ’n aantal “waarhede” (soos veral vervat in die belydenisskrifte) met jou verstand moet instem. Vandaar die verwagting dat predikante belydenisskrifte moet “onderteken”.

Die tweede invloed was die piëtisme of vroomheidsleer, wat opkom uit die mistiek. Hier staan die figuur van Nicolaas Hofmeyr, een van die eerste professore by die Kweekskool en volgens Brümmer die mees onderskatte teoloog in die geskiedenis van die NG Kerk, sentraal.

Brümmer haal G.K. Chesterton aan wat, ter toeligting, van Franciskus van Assisi gesê het: “To this great mystic his religion was not a thing like a theory, but a thing like a love affair”. Die mistici het nie, soos die konfessionaliste, óór God gepraat nie; hulle het mét God gepraat.

Die NG Kerk het teologies die spoor byster geraak in die 20ste eeu omdat die konfessionaliste die oorhand oor die mistici gekry het.

In ons laaste korrespondensie, in Mei verlede jaar, het Brümmer verhelderend oor die dood geskryf en uitstekende kommentaar gelewer oor ’n boek wat ek onlangs daaroor geskryf het. Sy denke was deurentyd helder en sy insig, soos altyd, briljant en oorspronklik.

Ons gaan hom almal baie mis. Maar hy het sinvol gelewe en ons almal se lewens verryk.

  • Van Niekerk is ’n professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Anton Van Niekerk  |  Huldeblyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.