Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hy klou soos ’n neet aan ’n staatsorgaan
Blouwillem

Of my hart nog twee Saterdae gaan hou, is ’n ope vraag (oftewel ’n ope-hartvraag). Sien ek laasweek die Springbok-flenter, Da­mian te Ellendig, die volgende aardskuddende wys­heid kwytraak ná die fiasko teen die Ingelse: “Daar was niks fout met ons plan nie, dit is die uitvoering wat daartoe gelei het dat ons nie kon afrond nie.” Jaaa, swaer!

Laat my toe so dink aan Seun, wat in sy eerste jaar vir my ná ’n bourekenkundetoets verduidelik het hoekom hy dalk nie gaan slaag nie: “Pa, dis nie my skuld nie, ek het vooraf al die antwoorde geken, maar toe vra die vrou ander goed.”

Jaaa, Seun, nes jy ken die Bokke die antwoorde, maar hulle sukkel met die vrae wat vir hulle gevra word!

En so van eksamens, vrae en antwoorde gepraat: Min dinge in die lewe gee my erger sooibrand as die blote verwysing na die matriekeksamen.

Jy lees mos nou elke dag of die vorige dag se vraestel billik en sonder foute was en hoor dan ook wat die een of ander slimkoppie of ’n wiskunde-onderwyser met 87 jaar ervaring oor die vraestel te sê het.

So lees ek: “Wiskunde: Foute kon matrieks verwar het” en toe kry ek sommer so helder oordag en springhaaswakker weer my jaarlikse koorsdroom oor my eie wiskundige tekortkominge.

Nee wat, ek het nie daai jare foute op die vraestel nodig gehad om mý te verwar nie, dit het sommer vanself gekom.

Die wêreld se moeilikheid het begin toe die mense toilette binnetoe geskuif het en eetplekke buitentoe en toe hulle rugby met ’n wedstrydplan begin speel het.

Maar nou ja, in my dae was rugby ook nog nie ’n wetenskap nie, maar net ’n spel met een reël: “Pale toe!”

Soos oom Johnny sê: “Die wêreld se moeilikheid het begin toe die mense toilette binnetoe geskuif het en eetplekke buitentoe en toe hulle rugby met ’n wedstrydplan begin speel het.”

Dis nou twee weke (of dalk twee jaar?) en hy klou steeds soos ’n neet aan ’n staatsorgaan, sy eie persoonlike fiefdom, die departement van binnelandse slape.

Dis natuurlik die voormalige “minister of pubic enterprises”, die lagbare minister Malusi Siesgabba, van wie ons praat.

Dáár sit hy steeds hoog en droog met sy snyerspakkies in die parlement se voorste gestoeltes en het nog die cheek om met sy klein vingertjie daar vir dese en gene tekens te wys.

Hoe is dit dat mense nie wil leer om weg te bly van pelfies (dis nou selfies van hul pelvis­gedeeltes) nie, gaan sy verstand te bowe, sê Dik Daan.

“Al wat ek weet, is as ’n ou vir jou eie vrou ’n foto van jou suidelike dele moet stuur om haar geheue te verfris, flenter jy waarskynlik te veel in die buiteland rond,” reken hy.

“En dan is daar nog dié gabba se juigkommando, wat beweer daar’s ’n smeerveldtog en dat die hand van witmonopoliekapitaal betrokke is – volgens my bronne wat die gewraakte video te siene gehad het definitief nie waar nie.”

Meer oor:  Blouwillem  |  Rubriek  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.