Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Identifiseer self kwaadstokers
Johannes Froneman

Die sosiale media se potensieel bedenklike rol het weer duidelik geblyk uit die storm wat oor ’n foto van skoolkinders in Schweizer-Reneke losgebars het.

Maar sommige koerante het ook ’n twyfelagtige rol gespeel en verdien nadere ondersoek. Laat ons daarom dié keer fokus op die rol van die tradisionele drukmedia en die wyse waarop professionele joernaliste ’n rol speel in die vorming van die openbare debat – en hoe moeilik dit is om hierdie rol akkuraat te beoordeel.

In teenstelling met die sosiale media (wat deur miljoene individue geskep word), word die tradisionele drukmedia (soos koerante) grootliks deur redaksies geskryf en saamgestel. Dit is mense wat opgelei is om in ’n professionele raamwerk ’n produk te skep wat voldoen aan duidelike etiese beginsels.

Wanneer gebeure sonder behoorlike konteks op sosiale media verskyn, is dit te betreur, maar verstaanbaar. Maar wanneer dit in die professionele media gebeur, is dit nie te verskoon nie. En tog gebeur dit.

In Weekend Argus verskyn verlede naweek ’n spotprent waarop Nelson Mandela se nierassige “boom” (Suid-Afrika) gekontrasteer word met die “rassistiese” boomstomp wat deur ’n vrou in Voortrekkerdrag natgelei word. Die boodskap is duidelik: In Schweizer-Reneke bevorder Afrikaners rassisme.

My eerste reaksie was dat eersgenoemde koerante die stories opsetlik verdraai het.

Sunday Times plaas weer ’n foto van ’n swart leerling wat vergeefs by die hek van die Laerskool Schweizer-Reneke probeer inkom. Dit is gesluit omdat daar nie daardie dag skool sou wees nie en ouers dienooreenkomstig ingelig is. Die trant van die berig was dat wit ouers wel ingelig is, maar swart ouers nie. Nogmaals “rassisme”.

In teenstelling met hierdie twee voorstellings kom Rapport met die opskrif: “Sy is ’n goeie juffrou . . .”, aldus een van die swart ouers. Rapport plaas ook ’n foto van waar die swart en wit kinders saam aan ’n tafel sit, want dit het ook gebeur. Dus ’n heel ander storie. Hierdie perspektief dryf Solidariteit se verdediging van die betrokke juffrou.

My eerste reaksie was dat eersgenoemde koerante die stories opsetlik verdraai het. Die “rassistiese” Voortrekkervrou stereo­tipeer wit mense, by name Afrikaners, op blatante wyse. En die geslote hek wat die swart kind uithou, is kwalik subtiel. Die “wit” skool hou die swart kind uit.

Dit is soos om ’n paling in ’n tenk vol kookolie te probeer vang.

Om egter op grond hiervan ’n algemene afleiding oor die twee koerante te maak, sou aanvegbaar wees. Die berigte en ander foto’s sal in veel meer diepte ontleed moet word. Daar sal ook na ander uitgawes van die betrokke koerante gekyk moet word. Verder sal hul hantering van ander ras-sensitiewe stories bekyk moet word.

In hierdie akademiese benadering sal byvoorbeeld gelet word op ander koerante in die groep. So sal ’n uitstekende ontleding deur Ed Herbst in Daily Maverick van Cape Times se berigte oor (wit) boere in die Wes-Kaap ter sake wees. Bevestig dit dalk ’n anti-wit-tendens by die betrokke koerant of ’n bepaalde koerantgroep?

Herbst se artikel help, want dit is deurdag en tydig. Daarteenoor duur akademiese navorsing gewoonlik maande of selfs jare. Wanneer bevindings bekend word, is dit waarskynlik mosterd ná die maal. Dit is die dilemma met sulke navorsing. Akademici het selde die tyd om deurlopend spoedeisende aktuele navorsing te onderneem. Daarvoor het ons ander, goed gefinansierde instellings nodig.

Intussen kan ernstige vrae wel oor bepaalde spotprente, foto’s en berigte gevra word, maar dit is soos om ’n paling in ’n tenk vol kookolie te probeer vang. Dis moeilik om die “media” (in soverre die term hoegenaamd nog nuttig is) in ’n blik te druk. Lees dus maar versigtig en identifiseer self die kwaadstokers.

Meer oor:  Johannes Froneman  |  Rassehaat  |  Rassisme  |  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.