Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mars: Wie gaan ons storie vertel?

Die moontlikheid van ’n menslike nedersetting op Mars word al hoe groter. Jo Prins wonder net wie die storie gaan vertel.

’n Menslike nedersetting op Mars kan dalk só lyk. Sal daar ook iemand wees wat die storie van die mens op Mars kan vertel? Foto: iStock

Ek en my kinders kyk die laaste paar weke ’n hele paar reekse oor hoe die mensdom noodgedwonge die aarde moet verlaat en dan die wye uitspansel in uitwyk op soek na ’n plek om te oorleef.

In reekse soos Mars en Lost in Space op Netflix is daar basies twee scenario’s: In eersgenoemde is bestemming Mars ons fokus en met laasgenoemde ’n breër, wyer soektog na ’n planeet soos die aarde wat in ’n ander sterrestelsel ook binne die sogenaamde Goldilocks Zone val.

Waar ék as kind nie geweet het wat die volgende dorp se naam is nie, weet my 8-jarige seun presies waar Mars is en wat dié Goue Lokkies-sone behels: ’n planeet wat die perfekte afstand van sy ster is, dat lewe (soos ons dit ken) moontlik is.

Die fokus is natuurlik uitwaarts, wég van die aarde.

Dus, ’n atmosfeer, genoeg water en hiermee saam diere, maar veral plante, om die nodige kos en suurstof te skep wat ons bestaan op lang termyn moontlik maak.

Wat die reeks Mars veral interessant maak en so ’n ietsie ekstra gee, is dat dit ’n fiktiewe storielyn het met werklike onderhoude en gebeure tussenin met wat op die oomblik op aarde aan die gang is.

So, die storie word vertel hoe ’n bemanning gekies en saamgestel word en hoe verskeie multinasionale maatskappye en lande saamspan om ’n multimiljarddollar-projek van stapel te stuur. En hiermee saam insetsels van onderhoude met mense soos Elon Musk en ander rolspelers in die bedryf (Nasa-mense ingesluit).

Wie gaan die storie vertel?

Waar ék as kind nie geweet het wat die volgende dorp se naam is nie, weet my 8-jarige seun presies waar Mars is . Foto: istock

’n Gesprek wat ek en die kinders eintlik nog nie behoorlik gehad het in die kyk van dié reekse nie, is dat die fokus natuurlik uitwaarts is, wég van die aarde.

Veronderstel vir ’n oomblik ons het dieselfde “multinasionale maatskappy” kon skep om ons omgewingsuitdagings ter plaatse te takel – dan sou ons dalk nie dié sprinkaanplaag-benadering hoef te oorweeg nie.

Maar dit gesê, die verkenning na buite en die onbekende hou ’n eiesoortige bekoring in: ook vir my wat glo ons moet terselfdertyd na binne én buite verken, met dieselfde ywer.

Maar dis my 10-jarige dogter wat vir my ’n belangrike vraag vra: wie gaan die storie vertel?

Onder die bemanning is daar verskeie wetenskaplikes, ingenieurs, ’n astrofisikus of twee, argeoloë, botaniste . . . maar nie ’n enkele skrywer of digter nie.

Wie gaan die storie vertel van Mars se sonsondergange, die vreugde van ’n eerste oes, die verlange huis toe na ’n wêreld wat dalk nie meer is nie of geliefdes wat intussen aan die een of ander natuurramp moes ontvlug?

Ja, daar moet terraforming plaasvind, ’n leefbare atmosfeer moet geskep word. Die ys op Mars sal ontvries moet word vir water en ons sal vir eers moet leer om ondergronds klaar te kom, want die bestraling bogronds sonder ’n osoonlaag sal lewensgevaarlik wees.

Maar wie gaan die storie vertel?

Ons gaan aartappels met tonnelboerdery kan aanplant en soos in die rolprent The Martian “science the shit out of it” om te oorleef, maar wie gaan die storie vertel?

Die storie van Mars se sonsondergange, die vreugde van ’n eerste oes, die verlange huis toe na ’n wêreld wat dalk nie meer is nie of geliefdes wat intussen aan die een of ander natuurramp moes ontvlug?

Wat ons hier het, is die Iliade of Odusseus sonder ’n Homerus: dis gewoon ’n kliniese vertelling van ’n reis – ’n exploratio – want die geld om ’n sitplek vir iemand te skep wat skeppend is, is ondenkbaar.

Wie gaan vir ons à la Opperman ver-taal dat die dae op Mars soos kwartels in die lang gras verdwyn?

Wie gaan vir ons (soos Johann Johl) sê dat ’n mens reis om tuis te kom?

Iemand moet liries kan raak oor die oes

Jo Prins

Die skrywer en historikus Yuval Noah Harari meen dis juis die mens se vermoë om fiksie/s te skep wat ons van (ander) diere onderskei.

Hoewel hy die breër fiksies in gedagte het: demokrasie, geldstelsels, geloof . . . sodra genoeg mense in ’n spesifieke fiksie inkoop, skep jy ’n stelsel.

Maar die fiksie, die skep van ’n narratief van die gebeure voor ons oë, dis die mens se blik, sy of haar weergawe, van ’n realiteit.

Ek onthou as nagraadse student, besig met ’n meestersgraad in Afrikaans en Nederlands, hoe ’n boer van Ceres (’n B.Comm-kêrel as ek reg onthou), totaal verbaas was dat ek ’n beurs kon kry om iets so esoteries te studeer. Die fokus was boonop poësie met die destydse modewoord “postmodernisme” ingewerk.

My reaksie was bloot: Ja, iemand moet plant en oes, en iemand moet kan liries raak oor daardie oes.

Maar die “liries” moet só wees dat ons mekaar die grond in kan omhels met die hoop dat daar nog duisende dae soos dié sal wees.

Gelukkig hou die storievertellers van Mars op Netflix die menslike natuur in gedagte . . . en wat uiteindelik gebeur, is op meer as een manier heel insiggewend.

Ons kan gewoon nie net aanbeweeg na ’n ander wêreld nie, ons sal eers moet leer om met mekaar saam te leef in hierdie een.

* Jo Prins is ’n vryskutjoernalis van Johannesburg. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nasa  |  Jo Prins  |  Elon Musk  |  Mars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.