Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Impulsiwiteit in buitelandse beleid plofbaar

As ’n staatsman internasionale stabiliteit wil bevorder en keer dat ’n oorlog per ongeluk uitbreek, moet hy ’n reguit, voorspelbare koers vaar en deursigtig wees.

Willekeurige koerswendings, wat bowendien nie met binnelandse en buitelandse rolspelers bespreek word nie, lei tot chaos.

Dít is egter wat pres. Donald Trump dikwels doen. Sy aankondiging dat hy Amerikaanse soldate uit Sirië gaan terugtrek, is ’n uitstekende voorbeeld van hoe om nié ’n buitelandse beleid te voer nie.

Dis al lank bekend dat Trump g’n ooghare vir Amerikaanse deelname aan verre oorloë het nie. Sy voorganger, Barack Obama, het dié gevoel met hom gedeel. Maar verskeie faktore maak dat Trump se jongste besluit die situasie in en rondom Sirië destabiliseer.

Eerstens het hy dit geneem ná ’n telefoongesprek met pres. Reçep Tayyip Erdogan van Turkye, presies die soort outoritêre leier wat Trump ook graag wil wees.

Tweedens het hy niemand vooraf geraadpleeg of selfs ingelig nie – nie sy eie raadgewers in die departemente van buitelandse sake of verdediging nie, nie sy bondgenote in die Kongres nie, nie sy buitelandse Navo-bondgenote nie. Al dié mense moes in die media daarvan hoor.

Derdens het hy die pad vir Erdogan oopgemaak om ’n lang gekoesterde plan uit te voer, naamlik om die hele strook langs die Turks-Siriese grens aan Siriese kant te beset en die Koerde daar ’n taai klap te gee. Die Koerde is ’n volk wat in die grensstreke tussen Turkye, Iran, Irak en Sirië woon, en deur Erdogan as ’n gevaar vir sy land se eenheid beskou word.

Vierdens was dieselfde Koerde al sedert die begin van die eeu betroubare Amerikaanse bondgenote. Hulle het onder meer troepe gelewer om die Islamitiese Staat (IS) te verslaan.

Die besluit maak ook die pad oop vir Rusland om die VSA se invloed in die Midde-Ooste verder te ondermyn.

Sedertdien bewaak hulle ’n geskatte 10 000 IS-gevangenes in kampe. Die vrees is nou dat die Koerdiese kampwagte vir verdediging teen die Turke nodig sal wees en dat die IS-vegters opnuut met hul oorlog kan begin.

Ten slotte maak dit ook die pad oop vir Rusland om Amerika se invloed in die Midde-Ooste verder te ondermyn.

Wat alles verder kompliseer, is die teenstrydige standpunte wat Trump sedert sy besluit ingeneem het: Eers het hy gespog dat hy in sy “groot en weergalose wysheid” nie sal toelaat dat die Koerde vernietig word nie, toe het hy die Turkse inval as ’n “slegte idee” bestempel, en ten slotte het hy sy besluit verdedig met die standpunt dat die Koerde nie die Amerikaners in 1944 in Normandië gehelp het nie.

Die besluit is sowel in Amerika as internasionaal skerp veroordeel, ook uit die Republikeinse Party. Die probleem is dat Trump se buitelandse beleid klaarblyklik deur sy impulsiwiteit gedryf word. Aan ander se menings steur hy hom in sy weergalose wysheid nie.

Meer oor:  Oorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.