Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
#ImStaying: Ons bly hier en help, Cyril
Charles Smith

Ek moet ruiterlik erken ek het vanjaar ’n paar keer gewonder of dit nie beter is om my pak boeke, klippe en foto’s te vat en te trek na ’n land vêr en woes geleë nie.

’n Land soos Gaboen in Afrika wat sy wild- en plantlewe bewaar. Elke paar jaar word ’n nuwe park ontwikkel. Daar is jy Trump-loos en – net só belangrik – vry van die ANC.

Vir die eerste keer weet ek hoekom my voor-sate so lief was om die waens te laai en te trek. Hulle wou wegkom van die nare Engelse. Ek wil vêr weg trek van die bose ANC en kamerade soos Ace. Daar is ’n paar redes hoekom ek besluit het hierdie is my land, hier gaan ek vir ’n rukkie langer my tent opslaan en uithou en aanhou. As jy die wonderlike stories op die Facebook-blad #ImStaying lees oor hoe mense hier omgee vir mekaar sal jy ook wil bly.

Sharon Ramese vra wat is dit van ander rasse of kulture waarvoor jy lief is of respek voor het en die antwoorde is heerlike leesstof. Nthabiseng Zoe Aphane antwoord dadelik: “Paptert.” Nee, lag ek, ek sal juis wil waai oor paptert. Dit en NikNaks-boontjies is die laagtepunt van ons kultuur, of hoe?

Afrikaners, ek hou van julle liedjies, al verstaan ek dit nie, julle kakie-uitrustings en jul hardkoppigheid.

Helga Dawn hou van Indiërs se klere en wittes wat so graag drukkies gee. “Afrikaners, ek hou van julle liedjies, al verstaan ek dit nie, julle kakie-uitrustings en jul hardkoppigheid.”

Sjô, dalk moet ons onsself leer ken deur die oë van ander mense. Sy is só reg. Ons is só vrek hardkoppig. Ja, ja, ons is baie keer reg. Ons planne werk meestal, maar sien ons altyd die ander om ons raak? Toe ek die Ndlovu-jeugkoor se weergawe van Toto se Africa in America’s Got Talent se eindronde gesien het, het die trane lekker gevloei.

Ralf Schmitt verdien die Orde van die Kremetart vir wat hy met die kinders regkry. Dit is ’n les vir Cyril, die ANC en die kroeks wat ons land plunder: Belê in ons mense en ons gaan ryklik geseën word in die toekoms.

Jou kinders gaan nie ryker word hoe meer jy insamel óf steel nie. Jy kan nie met ’n Merc hemel toe ry nie. Gee om, gee terug en jy plant die saadjie van die kremetart van goedheid in die land van ons voorvaders.

Toe ek Meisie K (15), wat vroeër weggeloop het uit die skool, se smeekbede oor hul gesin wat op straat gaan beland op Facebook plaas, het mense dadelik gehelp. Hul agterstallige huur is betaal, hul huur is vir drie maande vooruit gedek en hulle het genoeg kos en krag tot Kersfees. Die ma het ’n werk gekry.

Dis toe K vir my ’n brief skryf dat sy aan die Marleen Smith-projek wil terugploeg, die projek wat ek in hierdie rubriek aangekondig het om mense met depressie te help. Dit ’n inskrywing van ’n vrou op Marleen se begrafnis wat K se lewe verander het. Sy wil nou ook kinders soos sy help wat naby opgee is.

Ons kan die ANC uitkook met ’n vuur van omgee. Reik uit. Die vuur begin by jou. Ons bly net hier, Cyril en Ace.

Meer oor:  Charles Smith  |  Korrupsie  |  #Imstaying
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.