Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
In die branders word taal soms stil
Prof. Gerhard van Huyssteen

Jare gelede vra ek my goeie vriendin, die goeie sielkundige Elmarie (ook bekend as Amalanka Chardonnay): “Analiseer jy nie die hele tyd mense in ’n geselskap nie?”

“Slegs as hulle my betaal, darling, en die meeste mense kan my nie bekostig nie!” Sy lag ka-ka-ka en skink nog ’n glas wyn.

’n Waardevolle les.

Ek vermoed die meeste mense gaan met vakansie en kan gewoon hulle werk lekker op kantoor agterlaat.

Die gemiddelde narkotiseur lê waarskynlik nie op die strand en dink “mmm, daai ou is so vet hy sal drie Dormicums moet kry” nie.

En die gewone deursnee-aktuaris kan waarskynlik na die Woolies in Kampsbaai gaan sonder om . . . wel, te doen wat aktuarisse doen. (Ek het geen idee waarmee hulle hul brood verdien nie. Ek vermoed hulle is eintlik maar net hoogs opgeleide Excel-gebruikers. Of so iets.)

Daar is geen tyd om te emeriteer of sabbateer nie. Taal is in en om my.

Taalmense rus egter nooit nie, ook nie as hulle met/op vakansie is nie.

Dink ’n bietjie daaroor: Hoeveel van die tyd wat jy wakker is, is jy op die een of ander manier in aanraking met taal? Selfs as jy alleen is, lees jy ’n storieboek of tydskrif, of kyk jy TV, of luister jy na musiek (dikwels met woorde), of lees jy die etikette op kosverpakkings.

Ook in visuele sosiale media soos Instagram of Snapchat kan jy nie wegkom van woorde nie, want teksgrafika is deesdae modieus.

Taalmense is voortdurend in aanraking met hulle werk: Ons sien taalfoute en potensiële woordspelings orals om ons heen; lees boeke op die strand wat geresenseer moet word; hoor die aksente en konstruksies wat die ou langs jou in die branders gebruik. Ons ken nie stilte nie.

Ek is bevoorreg om deel van ’n Facebook-groep vir Afrikaanse taalpraktisyns te wees. Elke naweek, elke langnaweek, elke vakansie bly dit gons in daai groep met vrae, antwoorde en besprekings deur vertalers en subredakteurs wat môre se koerante en tydskrifte moet laat verskyn. Soos:

  • Skryf ’n mens “donker sjokolade” of “donkersjokolade”? (Daar was nog nie konsensus nie, maar ek meen dis “donker sjokolade”, net soos “wit sjokolade”.)
  • Praat ’n mens van “in” of “op” ’n Wi-Fi-netwerk? (Korpusdata laat blyk dat ’n mens “op” ’n netwerk is, maar verbind/koppel “aan” ’n netwerk.)
  • Is dit “zikavirus” of “Zikavirus”? (Die Taalkommissie het voorlopig “Ebolavirus” goedgekeur, en daarom is dit waarskynlik ook “Zikavirus”.

Die reël dat gewone name van plante en diere met kleinletters geskryf word (soos “gaboenadder” en “zambezihaai”) blyk nie virusse te geld nie.)

Selwers verlustig ek my in die plesier om hier aan die Noordkus lekker afgesonderd taalkunde te sit en pleeg.

Ek worstel met die “hulle/goed”-konstruksie: Hoekom skryf ons “ma-goed” en “ma-hulle”, maar slegs “skottelgoed” en nie “skottelhulle” nie?

Waar kom die konstruksie vandaan? En wat doen ons met “emeritus” in Afrikaans? Is dit “emeritus aartsbiskop Desmond Tutu”, of “emeritus-aartsbiskop” of “emeritusaartsbiskop”? Of moet “emeritus” telkens ná die “aartsbiskop” verskyn?

Daar is geen tyd om te emeriteer of sabbateer nie. Taal is in en om my.

Maar soms as ek deur ’n brander duik en met lang hale nóg vorentoe swem, hoor ek vir ’n oomblik die stilte. Net soms, vir ’n oomblik . . .

Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen  |  Taal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.