Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
In die gevaar lê altyd opgesluit ’n geleentheid
Aniki Joseph

‘It was the best of times, it was the worst of times . . .” – A Tale of Two Cities. Charles Dickens.

Elke oomblik waaruit die lewe bestaan, is ook ’n oomblik wat verby snel. Sterf, as’t ware, omdat daardie spesifieke oomblik in tyd nooit weer terug kom nie. Dit is egter nie verlore nie, want dit is dan gestoor in die verlede. Ons is soms geneig om slegs die moeilike tye te onthou, terwyl daar soveel skoonheid en krag lê in die goeie dade gedoen, in liefde wat gegee en ontvang is. Die moed en durf waarmee uitdagings oorkom is.

Om die woord “krisis” te skryf, gebruik die Chinese twee kwashale. Een beteken gevaar en die ander een beteken geleentheid. Daar is altyd gevaar in ’n krisis, maar daar is ook geleenthede.

Gedurende die vakansietyd in Kaapstad, stap ons om die Rondebosch Common-erfenisgebied vir ’n daaglikse dosis oefening. Die gebied is ’n argeologiese skatkamer, oortrek met inheemse fynbos. Die area was gedurende 1797 ’n militêre basis ná die Slag van Muizenberg in 1795.

Wiegende grassade dans goud teen die laatmiddagson wat agter die berg sak.

In 1961 is die gebied verklaar tot ’n nasionale monument. Die staproete is uitgelê in die vorm van ’n sirkel. Baie toeganklik, sigbaar en veilig. Wiegende grassade dans goud teen die laatmiddagson wat agter die berg sak.

Daar is iemand wat stap met ’n loopraam. Sy word ondersteun deur iemand anders met pienk kompressiekouse. Hulle stap stadig en gesels gereeld. Verpoos af en toe. ’n Jong meisie draf vlugvoetig verby in ’n swart oefenuitrusting met musiek in haar ore.

’n Gespierde man draf in ritme met die klank van ’n stootwaentjie se wiele. Die baba daarin, vas aan die slaap gesus. ’n Seun blits verby op sy rolskaatse. ’n Middeljarige man stap met sy honde aan ’n leiband. Hy laat hulle geduldig toe om ’n bietjie te snuffel tussen die graspolle.

Die toneel gryp my aan. Ons is almal gemasker. Ons beweeg elkeen teen ons individuele pas, met verskillende persoonlike omstandighede, maar ons beweeg saam vorentoe. Net een voet voor die ander. Vorentoe. Doen wat ons kan doen op hierdie dag in tyd.

Die gasvrou vertel hoe ’n ouer man onlangs daar gesit het met heimweetrane.

Ons sit aan onder ’n skaduryke akkerboom met bogrondse knobbelworteltone op ’n plaas in die Boland. Ek verkyk my aan ’n 1942-Ford. Die gasvrou vertel hoe ’n ouer man onlangs daar gesit het met heimweetrane. Hy het vertel hoedat sy vader dieselfde model voertuig besit het en glo vir hom en sy jong moeder destyds by die hospitaal kom haal het met dié voertuig, nadat hy gebore is.

Ek vertel haar van my oorlede ouma se liefde vir die aarde. Sy vergun my om tussen die perskeboorde en wingerde te stap. Ek byt in ’n pienkwang-perske en laat die sap toe om oor my ken te drup. Ek proe die son en die goedheid van die aarde. Ek kelk ’n koningsprotea in my handpalms, sonder om dit te sny.

En bottel die oomblikke. Vir onweersdae.

  • Joseph is ’n skrywer en reisiger van Pretoria.
Meer oor:  Aniki Joseph  |  Park  |  Herinneringe  |  Bome  |  Tuine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.