Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
In die maanlig wag lig en ’n tikkie boosheid
Esté Gross

Ons is aan die voet van die noordelike Drakensberg. Dit is vroegoggend en die berg wil vir so ’n laaste dut in sy wolkkombers kruip, maar besluit tog traag om die sonstrale soos ’n langbroek aan te trek.

Ek is saam met vriendinne vir ’n vrouewegbreek in die bos om te leer oor strikke opspoor en hoe honde stropers soos blits kan plattrek.

Ons klim uit en staan in ’n stuk veld net buite Hoedspruit. Voor ons is daar ’n lewensgrootte beeldhouwerk van ’n renoster, gemaak van duisende draadsirkels – strikke wat in die veld opgetel is deur veldwagters. Om die standbeeld is nóg torings van strikke om pale gedrapeer.

Dit herinner aan ’n altaar en die dringendheid vir offerande om te vra om vergifnis vir die sondes wat gespan is deur mensehande.

Die groep staan in ’n halfmaan terwyl die veldwagter verskillende soorte strikke omstuur. Hy gee elkeen kans om die gewig te voel en die knope behoorlik van nader te bekyk.

Ek vat teësinnig aan dié doodshalssnoer, gee dit vinnig vir die volgende een aan.

En ek besef die maan het nie vir elke mens dieselfde betekenis nie.

Die stuk draad is die laaste ding wat om ’n dier se keel gewurg het, hom vermink het of stadig-stadig sy poot afgesaag het.

Die gewig van die boosheid wat daaraan kleef, is eintlik wat die swaarste weeg.

Gewapen met ’n tang stap ons elkeen die veld in om strikke te verwyder. Die veldwagter sê hulle het op een plaas 80 strikke gekry. Ons kort staptog, op dieselfde plek, lewer nóg sewe strikke op.

Die eerste strik wat ons kry, lê gedraai om die kopbeen van ’n swartwitpens. Diep, sirkelvormige groewe in die boomstam is al wat oor is van sy vergeefse stryd om homself te bevry.

En ek besef die maan het nie vir elke mens dieselfde betekenis nie.

Een kyk met bewondering na iets wat die see hoog en laag laat sing. ’n Ander sien weer genoeg lig om in die donker met ’n strik ’n dier tot op sy knieë te bring.

Ek wil al hoe meer soos David Kramer vra in sy liedjie, “Hoekom?”:

Hoekom is die mensdom so dom?

Gee vir hom ’n paradys dan pluk hy elke blom

Gee vir hom twee hande, dan bou hy hom ’n bom

Hoekom is die mens, die mensdom so dom, dom, dom?

Wat maak dat een kuns skep en bewaar en ’n ander wurg met dieselfde draad?

Tog is daar dié wat elke dag kies om by sonsopkoms op te staan en kilometers ver in die veld te loop met die doel voor oë om die bose te laat boet.

Die Mexikaanse skrywer Don Miguel Ruiz skryf: “Mense sê graag die stryd lê tussen die goeie en die bose. Die werklike konflik is tussen waarheid en leuens.”

Mag die skeiding tussen lig en donkerte vir jou met genade maklik bly en die maanlig altyd vir jóú onskuldig wees.

  • Gross is ’n omroeper en sangeres.
Meer oor:  Esté Gross  |  Strik  |  Natuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.