Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
In die sterre lê die wetenskap neffens mistiek

Nie alle donker ure wat Eskom op ons afdwing, is slegte ure nie. Veral nie as dit saans is nie. Los eers die lampe en kerse. Moenie die kragopwekker aansit nie. Gaan liewer buitentoe en gaan kyk na die sterre. Hoe helder en hoe baie van hulle is daar nie, ontdek jy weer. En as die maan nie skyn nie, soveel te beter. Hoe donkerder, hoe mooier is hulle.

Selfs al weet jy min of niks van die sterrestelsels nie, bly dit ’n fassinerende wêreld: Die gewelf met sy stil, flonkerende ligte.

Begin soek na dié met name wat jou laat dink aan sprokies: Die Melkweg, die reus se belt en die drie konings, die sewe susters en die Suiderkruis. Jy’s dalk gelukkig en sien een wat verskiet met sy lang blink vuurspoor. Onthou om te wens, terwyl hy deur die lug trek. Moet vir niemand sê wat jou wens was nie, anders word dit nie waar nie.

Hoe het die popster Françoise Hardy destyds gesing: “Catch a falling star and put it in your pocket / Never let it fade away / Save it for a rainy day.”

Die reëndae ken ons almal. So onthou ek ’n kollega wat haar kind moes begrawe.

Magteloos om te troos loop ek in ’n winkel op soek na iets om vir haar te gee, toe ek afkom op ’n piepklein porseleinbeeldjie.

Stargazer, sê die etiket. Dis wat hy doen. Die figuurtjie met sy gesig na bo gedraai. Sy twee kraalogies beweeg maar hulle kyk altyd op, om jou te herinner: Al sien jy hulle nie in die daglig nie, die sterre is altyd daar.

Dis waar die wetenskap en die mistieke bymekaarkom, in die buitenste ruim, dink ek, terwyl ek soek na die seuntjie se ster.

Terwyl jy daar buite is, kyk uit vir ’n stadig bewegende stippel, duidelik op reis tussen die ander sterre . . . miskien ’n satelliet. Of dalk die internasionale ruimtestasie, beman sedert 2000 en aan die werk, 400 km bokant ons. Elke 93 minute kom hy verby, teen 27 600 km per uur, om en om die aarde.

Dis waar die wetenskap en die mistieke bymekaarkom, in die buitenste ruim, dink ek, terwyl ek soek na die seuntjie se ster. Die een van wie die dokter my op ’n keer vertel het.

“Hy was sewe jaar oud,” het hy gesê. “Maar hy’t die verstand van ’n eenjarige gehad. Hy’s só gestremd gebore, daar was geen hoop op herstel en ’n normale lewe nie. Hy was later so siek en swak dat hy meeste van die tyd binne die vier mure van die hospitaal deurgebring het.

“Sy ouers was pal by hom. Dit was ’n koue wintersaand toe dit duidelik geword het: Daar is min tyd oor. Hulle het hul jasse en musse aangetrek. Daarna het hulle hom versigtig in komberse toegedraai. Toe het hulle sy hospitaalbed in die hysbak gestoot en saam met hom na die dakverdieping gegaan.

“Daar het hulle hom uitgestoot in die wolklose nag en vir hom die sterre begin wys. Kyk, daar is die reus se belt, die sewe susters en die Melkweg. En daar is die drie konings, sien jy?

“Daar is hy dood terwyl hulle saam na die sterre gekyk het.”

  • Kemp is ’n radio- en TV-aanbieder, regisseur en vervaardiger van radioprogramme.
Meer oor:  Wetenskap  |  Dood  |  Sterre
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.