Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
In die tyd van Covid: ’n Leeftyd later in Addis Abeba

Sy wil weer teruggaan na die tyd voor die “vreemde virus” sodat sy Addis Abeba en sy mense weer kan beleef, skryf Liesl Louw-Vaudran.

’n Optog wat in 2018 in die strate van Addis Abeba gehou is ter ondersteuning van Abiy Ahmed, die premier. Foto: Liesl Louw-Vaudran

Soos Dana Snyman wil ek ook nou my masker afgooi en op reis gaan.

Ek wil op die O.R. Tambo-lughawe saam met die Ethiopiërs en hul oorvol blou-en-wit raffiasakke op ’n vlug van Ethiopian Airlines klim met ’n lied in die hart en geen gedagtes aan siektes of pandemies nie.

Dan sal ek geduldig wag vir ’n visum by die besige Bole-distrik se internasionale lughawe in Addis Abeba, saam met al my mede-Afrikane, Chinese en Skandinawiese rugsakreisigers met hul romantiese planne om Ethiopië se skatte te kom ontdek. In die ry sal ek beslis ’n paar velskoenmanne sien wat Afrikaans praat en wat hier, soos oor Afrika heen, na geldmaakgeleenthede en avontuur kom soek.

The Residence is glad nie so spoggerig soos die goudkleurige letters op die minibussie aandui nie.

Soos gewoonlik sal dit ’n tydjie neem om die drywer van The Residence Hotel uit te ken tussen die rondmalende jong mans in die parkeerterrein met reisigers se name op kartonplakkate geskryf.

The Residence is glad nie so spoggerig soos die goudkleurige letters op die minibussie aandui nie. Dit het maar net ’n dosyn kamers en is in ’n ietwat chaotiese residensiële gebied na aan die hoofpad wat van die lughawe stad toe lei. Maar dis ’n gesellige tuiste waar ’n mens elke keer met ope arms verwelkom word.

“Selahm”, sal die deurwag en die kelnerin slaperig groet as ek so skuins voor tienuur in die aand daar aankom.

Hiermee begin jy die dag by The Residence . . . Foto: Liesl Louw-Vaudran

Dit sal stil wees in die groot kamer met sy oudmodiese, donker meubels. Ja, die ingewikkelde Chinees-vervaardigde storttoestel sal nog daar wees.

’n Mens moet mooi die stortgordyn binne die bad se rand indruk sodat die hele vloer nie nat word nie.

Op TV is net CNN en ’n paar kanale in Arabies uit Dubai beskikbaar. As ’n mens die klank op volle sterkte draai, kan jy ook BBC World kry, maar met ’n beeld vol sneeu. Dis eintlik nie die moeite werd nie.

Die WiFi-kode wat op ’n klein papiertjie uitgedruk is, werk darem gelukkig. Ek luister maar eerder radio op my telefoon.

Weens die hoogte bo seevlak slaap ’n mens altyd sleg in Addis Abeba. En dis altyd kouer as wat ’n mens dink. Ná al die jare pak ek nog steeds nie genoeg winterklere in nie.

Maar die opwinding en vreugde om terug in Addis te wees sal my so oorweldig dat ek nie oor slapeloosheid of koue omgekrap sal wees nie.

Ek sal met die hanekraai – daar’s ’n haan by een van die gehuggies naby die hotel – opspring en die trappe twee-twee aandurf na die klein ontbytsaal met sy vyf tafels, elk met ’n rooi angelier in ’n goedkoop wit blompotjie.

Ghetu, die kelner, sal vir my ’n ekstra sterk macchiato bring en ’n olierige omelet met tamatiesous in ’n klein blink bakkie.

“Your ketchup, madam.”

Liesl Louw-Vaudran

Ná ete sal ek my kollegas gaan groet by die Instituut vir Sekerheidstudies se blink kantoor net so ’n entjie weg van die hotel. Maar eers gaan ek iemand opspoor.

Ethiopië het so ’n jaar of wat gelede sy eie Uber gekry. Ride werk nes Uber met ’n aanlyn toepassing en is meestal uitstekend.

Met my laaste besoek, einde Februarie, het ek ’n interessante gesprek gehad met ’n Ride-bestuurder wat my by die Afrika-Unie se hoofkwartier opgelaai het. Hy was in ’n netjiese hemp met ’n das geklee en sy baadjie het aan ’n haak teen die venster gehang.

Ja, hy speel taxibestuurder ná werk om ekstra geld te maak. Hy kom nou van die kantoor af, vertel hy.

Ek onthou dat ek gedink het dit is mos eintlik waarvoor Uber aanvanklik ontwerp is, vir gewone werkende mense met ’n motor om ’n ietsie ekstra te verdien.

“En hierdie vreemde virus waarvan almal nou so praat? Wat dink jy daarvan?” het ek gevra ek, soos dikwels in die laaste paar weke van Februarie en vroeg Maart toe ons almal nog gedink het dis net ’n nuussensasie wat vinnig gaan oorwaai.

“Nee madam, ons hier in Ethiopië weet dit gaan net drie maande duur. Dis dan Made in China,” het hy breed geglimlag.

“Alles gaan oukei wees, jy sal sien.”

’n Hele leeftyd later wil ek graag hoor hoe dit nou met hom en sy familie gaan.

* Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.