Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
In die vreemde laat ’n wen my tuis voel

Ons het soms iets nodig wat ons oorbekendheid laat verdof; wat ons ’n bietjie uitdaag, inspireer, tot stilstand bring of na ons asems laat snak, skryf Gielie Hoffmann.

Grafika: HANLIE MALAN

Hoe op aarde het ek hier beland?

Dis wat deur my kop gaan toe ek die 10 km-teken sien. My voete is seer. Soos brandseer. My bene werk teen hul sin saam. My hartklop versnel té vinnig sodra ek begin draf. En ek begin daai gevoel kry wat my herinner aan langafstanduitdunne op hoërskool: miltsteek. Vir ’n hele kilometer probeer ek myself oortuig dat ek die wedloop kan voltooi.

En toe, teen 11 km, kan ek nie glo hoe ongelooflik lekker dit is om hier te wees nie. Met ’n uitsig oor die Bosporus en ’n koel bries wat van die kant af waai en die pad wat effens afplat, lyk dinge ewe skielik anders. Tyd, en afstand, is inderdaad relatief.

Teen die tyd dat ek die 300 m-merker sien, jubel my hart. En my hartklop. Hierdie medalje gaan ek wel hou.

Ek is nie gebou vir ver hardloop nie. ’n Swaar beenstruktuur en stadige metabolisme is die boustene van my 1,95 m lange lyf. Ek is gebou om te sak in ’n skrum. Maar op 35 is daar nie meer ’n skrum om in te sak nie. En pak ’n mens nie noodwendig iets heeltemal nuuts meer aan nie.

WiFi-loos in ’n vreemde stad

Ons eie lewens is aan ons oorbekend. Dié woorde flits deur my gedagtes toe ek een oggend, ’n paar dae voor die Istanbul-marathon, verdwaal in die strate, en ek WiFi-loos en die inwoners Engels-loos tot die slotsom kom dat ek self my pad tot by iets wat ek beter ken, sal moet vind.

’n Vreemde stad is die beste teenwig vir die bekende. Tuis weet ek presies watter pad om te ry, waar om watter brood te koop, watter PostNet my die vinnigste sal help en watter tyd daar geen ander kliënte by die haarkapper sal wees nie. Ek weet watter kortpaaie sal werk as ek effens laat is, hoe die sonlig lyk teen ’n sekere tyd en wat iemand se antwoord op ’n sekere vraag gaan wees. Ons roetines en rituele hou ons veilig, maak ons effektief en voorkom dat ons onnodig die pad byster raak.

Maar dit is onafwendbaar dat dit ons ook afstomp. Dat dinge te herhalend, te voorspelbaar en te vervelig raak. En om ou paaie nuut aan te pak is nie so maklik soos wat dit klink nie. Dus het ons soms iets nodig wat ons oorbekendheid laat verdof; iets wat ons ’n bietjie uitdaag, inspireer, tot stilstand bring of na ons asems laat snak.

Dis seker hoekom ek ingestem het toe ons vriende besluit het om ’n gewone vakansie ’n bietjie verder met ’n padwedloop op te kikker.

Om iemand bekend raak te loop, onverwags, in ’n vreemde stad is ’n heerlikheid. So sit ons een oggend en eet ontbyt. Ek kyk toevallig straat se kant toe en sien ’n vriendin en haar man verbystap, 8 000 km van die huis af. Ek spring op, hardloop agterna, ons groet mekaar gul en reël dadelik dat ons saam die Wêreldbeker-eindstryd gaan kyk. Want sien, toe ons die halfeindstryd wen, het ons besef ons gaan die eindstryd in die vreemde moet kyk. Onbekend met die stad soek ons ’n plek wat dit sal uitsaai: ’n Ierse kroeg.Faf – die onbekende skoolseunIn ’n vorige lewe was my heel eerste werk ’n onderwyser by ’n hoërskool in Pretoria. Ek sou net twee jaar daar wees, maar dit sou ’n betekenisvolle tyd in my lewe word. My pad sou kruis met wonderlike mense en kinders. Jy weet nooit wie wat gaan word nie.

In my klas het daar ’n seun gesit. Voor in die klas. Eerstespan-rugby en -krieket. Hy wou ’n professionele sportman word. Daar was vele van sy soort in my klasse. Nie almal se drome sou waar word nie. Maar sy droom, die een wie se take altyd betyds ingegee is, wat saamgepraat het in die klas en vriendelik op die stoepe gegroet het, het waar geword.

Faf de Klerk.

Dus sit ek en my vriende – reisgenote sowel as raakgelooptes – verlede Saterdag in ’n Ierse kroeg in Istanbul, omring deur Engelse rugby-ondersteuners.

Dis ’n oorvleueling van die bekende en die onbekende. Ons sing die volkslied saam, sommige reeds in trane. Elke keer as Faf moet vang of aangee of daai skop gee, sit my hart in my keel. Want al is hy vandag ’n bekende rugbyspeler, sien ek nog die onbekende skoolseun raak.

Om te wen in die vreemde is ongelooflik. Ons sing en dans saam met studente van Kovsies in die strate. Ons lag en ons huil. Ons weet ons het die wen nodig gehad. As land. Maar ook as mense.

Afstand bied perspektiefOm slegte nuus in die vreemde te kry is moeilik. Ek kry ’n boodskap dat ’n vriendin se man oorlede is. Ek wil dit nie glo nie. Op sy Facebook-profiel sien ek hoe hy die eindstryd gekyk het en heerlik gesing en gedans het. Vol lewe. En minder as ’n dag later is hy oorlede. Hy wat die heel beste stories kon vertel. Die afstand wat ek het, gee my ’n blik op sy lewe, en my lewe, wat ek moontlik nie sou kon hê as ek by die huis was nie.

In die verte voel ek op die ou einde toe tuis danksy die vreugde van wen, die hartseer van verlies, die euforie van vasbyt en die plesier van omring wees deur geliefdes. Die oorbekendheid van my eie lewe verras my opnuut.

Oor ’n paar dae is ek terug in my gewone roetines. En die verdwaal in die strate sal seker met tyd vervaag. Ek sal my vriendin moet bel en gesels oor haar man. Ek sal êrens vir Faf ’n boodskap tik en hom vertel dat daar niks beter is op die ganse internet as hy wat prins Harry in sy Speedo groet nie.

Ek sal my veters weer vasmaak om aan te hou beweeg. En ek sal met nuwe waardering terugsit as ek besef dat die vreemde net moontlik is omdat ek doodgewone dinge het wat oorbekend aan my is.

  • Hoffmann is ’n bestuurskonsultant, skrywer en spreker van Pretoria.
Meer oor:  Gielie Hoffmann  |  Menings  |  Springbokke  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.