Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
In die Vrystaat ry staatskapers met Porsches

Ek wens Cyril wil ’n slag na ons luister.

Nie na my, ’n wit middeljarige Afrikaanse man wat vasgevang is tussen die NP se diktators en die ANC se bose regering nie.

Ek wens hy en die laaste goeie ouens in die regering wil gaan luister na die armes. Die mense wat sukkel om kos, werk en skoon water te kry.

Al daardie goed wat oudpres. Nelson Mandela in ’n bevryde land belowe het. Vandeesweek presies 30 jaar gelede toe hy as vry man uit die Victor Verster-gevangenis geloop het.

Ek wonder wat pres. Cyril Ramaphosa gaan dink kort voordat hy vanaand die staatsrede lewer. Want hy staan daar met ’n albatros om die nek. Dié keer is dit nie die NP en apartheid nie. Dit is die ANC waarvan hy die hoof is. Hoewel hy ’n skoon regering voorstaan, is die staatskas leeg gesteel deur die tsotsi’s en kamerade in sy korrupte party.

Vat die pensioene vir die SAL – want die vakbonde sê so. Jy raak nie aan Eskom se kontrakte nie, want die Guptas en Zumas sê so.

Net voordat Julius Malema se rooi brigade hom takel, moet hy seker na al die gesigte in die parlement kyk en dink: “Ek wil ’n verskil maak. Ek gaan ’n verskil maak. Ek gaan bo partypolitiek uitstyg en iets doen.”

Maar hy gaan na sy toespraak kyk wat Ace en die kommies in rooi vir hom geskryf het: Vat die pensioene vir die SAL – want die vakbonde sê so. Jy raak nie aan Eskom se kontrakte nie, want die Guptas en Zumas sê so. Jy sál plase afvat, want ek, Ace Magashule, sê so. Jy sal die NVG instel, want daar’s ’n vet klomp geld in ’n fonds wat ons kan steel.

In die apartheid-township Botshabelo, 60 km van Bloemfontein, lê Willem Malefane langs sy sinkhuis waarvan hy geval het om die lekkende dak reg te maak ná ’n reënstorm en bel vergeefs die ambulansdiens.

Uit Rouxville bel Frans Mahema, ’n draad-spanner, en sy stem breek. “Jirre Thabiso. Jy moet help. Ek het fôkol, niks. Die kinders is honger.”

Uit Oppermansgronde bel Morris Raimane. Help, ’seblief. Die regering luister nie. Mense word afgesit van hul lappies grond. Met babas en honde en hoenders en al.

Zuma se hulplyn in die Uniegebou werk seker nie meer nie. Die Vrystaatse regering is bankrot­. Daar is niks meer om te steel nie. As ’n trawant van Ace uitgeskop word, is ’n volgende in die ry om die pos te kry.

In Bloem ry ’n senior amptenaar en sy vrou met nuwe Porsches. Hier ry die staatskapers almal met nuwe Porsches. Maar Cyril en Tito gaan ons meer belas om die SAL en Eskom te finansier om anderpad te kyk as Gupta-agtige kontrakte uitgedeel word.

Welkom in die Vrystaat. Hier koop staatskapers met miljoenrand-salarisse onwettige Njala-pantservoertuie om die armes en hongeres wat kla oor dienste te beveg. Dis jou ANC, Cyril. Dis wie ons land se keel afsny.

Luister na Frans Mahema, Cyril. Sy kinders het fôkol. Julle het die kos uit hul monde gevat.

Meer oor:  Charles Smith  |  Cyril Ramaphosa  |  Staatskapers  |  Staatsrede  |  Staatskaping  |  Sona
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.