Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
In diens van gemeenskap

Anton van Niekerk in “Dink nog ’n keer oor universiteit” (05.11) skryf in sy reaksie op ’n artikel van my oor die idee van ’n universiteit dat ons te min oor die idee van dié instelling besin. Ek stem hartlik saam.

Foto: istock

Pleks daarvan dat universiteitsbesture en akademici vandag nuut oor universiteite dink, word eenvoudig met die bestaande model volhard, ondanks die ernstige gebreke wat dit wêreldwyd kenmerk. Ongelukkig is dit hier waar my ooreenstemming met Van Niekerk eindig. Sy vertolking van my artikel getuig van sy eie politieke vooroordele.

Oneindige ‘opwaartse mobiliteit’

Ter wille van agtergrond, twee opmerkings. Eerstens was dit kenmerkend van Westerse universiteite dat hulle vanaf hul vroegste oorsprong daarna gestreef het om ’n ruimte te wees waarin – ten minste in ideale terme – oop en onbevange oor die “wonder van die skepping” nagedink kon word. Dié strewe is onderlê deur die wete dat ons nooit ’n volledige greep op die geheel van die skepping kan verwerf nie, maar dit slegs ten dele kan ken.

Tweedens is universiteite (vanselfsprekend) van hul vroegste oorsprong deur ’n praktiese oogmerk gekenmerk, naamlik om studente vir die beroepslewe voor te berei.

Wat vandag dikwels vergeet word, is dat die beroepsopleiding van studente meestal geskied het met die verwagting dat die studente ná die voltooiing van hul studie hul gemeenskappe sal dien. Histories was daar nie ’n spanning tussen die beroepsopleiding van studente en ’n lewe van diens aan die gemeenskap nie.

In die Middeleeue is studente opgelei met die verwagting dat hulle die kerklike gemeenskap sal dien. In die moderne era is studente opgelei om die nasionale gemeenskap te dien. In ons era word studente deur globale universiteite opgelei om in ooreenstemming met die voorskrifte van die staat en die globale mark ’n bydrae te lewer.

Dis eers in die onlangse tyd dat universiteite (heel misleidend) voorgee om geen bande met spesifieke gemeenskappe te hê nie. Studente word aangemoedig om hulself en hul beroepslewe slegs om hul individuele belange te definieer en ’n lewe van oneindige “opwaartse mobiliteit” te voer. Dis ’n lewe waarin jy as student jou gemeenskap agterweë laat met die doel om ’n globale reisiger sonder wortels in enige gemeenskap te wees.

Van Niekerk voer in sy repliek twee argumente. Volgens hom huldig ek vanweë my klem op die belangrikheid van oop en onbevange denke aan universiteite ’n liberale opvatting van die universiteitswese. Hy vra hoe dit rym met my vroeëre kritiek op die liberalisme.

Openheid van gees

Ek aanvaar dat ons verskillende betekenisse aan “liberaal” kan heg. Histories was die Westerse universiteite liberaal as daarmee bedoel word dat hulle op ’n onbevange (en bygesê, dankbare) wyse oor die wonder van die skepping nagedink het, met die wete dat ons kennis van die geheel altyd voorlopig is. As dit is wat liberaal beteken, dan is ek sekerlik ook liberaal.

Van Niekerk behoort wel te weet dat “liberaal” in dié sin glad nie die “liberalisme” is wat ek dikwels kritiseer nie. Hy verwar die universiteite se openheid van gees met liberalisme. Universiteite het daarna gestreef om liberaal in dié sin te wees, maar hulle was nie tot die liberalisme verbind nie.

Waarom nie? As liberaal beteken om oop en ontvanklik in dié sin van die woord te wees, verskraal die liberalisme daarenteen ons begrip van die werklikheid. Hoe? Deur ons menswees tot ’n bestaan in te kort wat slegs om die belange en regte van die enkelstaande individu draai. Terselfdertyd verdring die liberalisme die gemeenskappe en instellings wat die individu hoegenaamd moontlik maak, soos die gesin, skool, universiteit en kultuurgemeenskap.

Universiteite het in die verlede teen die negatiewe gevolge van hierdie soort verskraling gewaarsku. Anders as wat Van Niekerk skryf, is daar nie ’n spanning tussen my opvatting van die universiteit en my kritiek op die liberalisme nie. Inteendeel, ek sluit met my kritiek op die liberalisme by die wese van die ou universiteitswese aan.

‘Uitfasering’ van Afrikaans

Tweedens voer Van Niekerk aan dat die universiteit kwalik te rym is met die gedagte dat dit, soos Akademia, vanuit en vir ’n spesifieke gemeenskap kan bestaan.

Dit is histories gesproke ’n wanopvatting, want universiteite staan meestal in diens van bepaalde gemeenskappe. Ironies genoeg is dit ook waar van talle universiteite wat vandag hul verbintenisse met enige gemeenskap ontken. Dit sluit Van Niekerk se eie universiteit in.

Anders as wat dié universiteite voorgee, dien hulle inderwaarheid sowel die staatlike “orde” as die globale markgemeenskap. Omdat Van Niekerk dit nie in ag neem nie loop hy die risiko om hom op ’n onkritiese wyse by die voorskrifte van die staat en globale mark neer te lê.

Wat met Afrikaans (met die swygsame steun van Van Niekerk) by Stellenbosch gebeur, is ’n voorbeeld daarvan. Die “uitfasering” van Afrikaans is die direkte gevolg van ’n universiteit wat netjies in gelid met dié voorskrifte handel. Dis taaluitwissing ter wille van staatlike en globale aansien.

Terwyl Van Niekerk ontken dat universiteite vandag tot enige gemeenskap verbind is, lê hy homself gewillig by die staat en die globale markgemeenskap neer. As studente na ’n goeie voorbeeld van ’n teenstrydigheid soek, hoef hulle nie verder te soek nie.

  • Prof. Goosen is die akademiese hoof van Akademia.
Meer oor:  Gemeenskap  |  Universiteit  |  Afrikaans  |  Diens  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.