Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
In inperkingstyd is almal skielik groot voëlkykers
Bun Booyens

Dit is opvallend hoeveel mense in die inperkingstyd voëlkykers geword het.

Oral op sosiale media gesels hulle oor hul tuinvoëltjies en al die spesies wat hulle sien wanneer hulle soggens gaan stap – reiers, bottergatte, dikkoppe, kraalogies en selfs ’n visarend. Die verkeer is deesdae ook so stil dat ons elke aand die hoe-hoe van die buurt se ooruil kan hoor.

Die enigste voël wat selde genoem word, is daardie voorstedelike staatmaker, die tarentaal. En laat ek dit nou maar reguit sê: As iemand ’n lys sou opstel van ons onnoselste voëls, vermoed ek die tarentaal en volstruis gaan die toptien haal (ek het deernis met albei).

Die volstruis het waarskynlik oor die eeue heen oorleef danksy ’n oordrewe veg- en vluginstink. Enersyds is daar sy indrukwekkende vermoë om blindelings te vlug, andersyds is daar ’n lang toonnael waarmee hy enige aanvaller se borskas kan oopkloof.

In volstruise sien jy amper nog ’n repie DNS van daardie dodelike velociraptors van die Jurassic Park-flieks, maar ’n lite-weergawe, een wat geneig is om hulself teen draadheinings te pletter te hardloop.

Tog het die volstruis sy nis gevind, al is sy brein moontlik kleiner as sy oogbal.

Tog het die volstruis sy nis gevind, al is sy brein moontlik kleiner as sy oogbal. In die proses het hulle ’n hele paar boere van die Klein-Karoo skat-ryk – en weer arm – gemaak. (My pa, ’n boorling van Oudtshoorn, het altyd gesê die distrik se boere trotseer armoede verbasend goed, hulle sukkel net om die rykdom te hanteer.)

Die tarentaal weer, is ’n spesie met nie naastenby die vermoëns van ander voëlsoorte nie. Hulle het nie die intelligensie van ’n kraai, die geduld van ’n reier, en beslis nie die stamina van die trekvoëls wat elke jaar halfpad om die aardbol vlieg nie.

’n Tarentaal het nie die vrypostigheid van ’n kwikstertjie nie, kan nie vleg soos ’n vink, soveel vrag soos ’n pelikaan dra, sing soos ’n nagtegaal, of duik soos ’n visvanger nie.

Tog floreer hulle. Langs omtrent enige stuk pad sien jy hulle, en in feitlik elke woonbuurt kom jy ’n troppie teë, gewoonlik dan met een tarentaal met ’n mank been wat immer ’n paar treë agter die bondel is.

Daar is ook altyd minstens drie van hulle aan die verkeerde kant van die pad. Dis asof die “Bly bymekaar, kêrels,”-memo nooit by die hele trop uitkom nie.

Ek dink die geheim van tarentale se oorlewing is juis dat hulle nié ’n sterk veg- of vluginstink ontwikkel het nie, maar iets tussenin. Hulle is halfmak, maar leef in ’n staat van vae angs.

’n Groep tarentale is nooit heeltemal op hul gemak nie. Dit lyk ook nie asof daar ’n leier of brandwag is nie. Hul leuse sou waarskynlik wees: “Alles sal regkom as almal net chronies onrustig is”.

Wanneer hulle skrik – en dit is dikwels – bly hulle vir ten minste ’n uur ontsteld.

En ten spyte van dit als het hulle die meeste ander voëlsoorte uitgestof en Groot verseboek gehaal, in Totius se “Die tarentaal”:

Die kruiwawiel se skreeugeluid

kerm hy droefgeestig uit

terwyl die skeemring vinnig daal,

die tarentaal

  • Booyens is ’n vryskutskrywer.
Meer oor:  Bun Booyens  |  Koronavirus  |  Inperkingstyd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.