Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
In Japan het ek ’n pen verloor

Is nostalgie die verlange na ’n regte plek, of iets waarna ons met heim­wee streef, wonder Joan Hambidge.

Soveel Afrikaanse tekste is tans nostalgies. Maar het hierdie wêreld ooit bestaan of verlang ’n mens na ’n geïdealiseerde plek in jou jeug?

Of ’n mens nou luister na Rachmaninoff of Cesária Évora, dit aktiveer dieselfde emosie: nostalgie. En hierdie woord het binne verskillende kulture ander betekenisse. “Komorebi” (Japannees) wys op die lig en blare wanneer die sonlig deur die blare skyn. “Saudade” in Portugees beteken ’n intense verlange na iets of iemand wat afwesig of weg is.

“Komorebi” (Japannees) wys op die lig en blare wanneer die sonlig deur die blare skyn.Foto: ISTOCK

Die bekende lied die fado, wat ontstaan het in die 1820’s, is gekoppel aan hierdie melancholie. En melancholie staan ook baie na aan rou, aan verlies. Die volgende woorde word opgeroep wanneer ’n mens nostalgie in-tik:

Spyt, herinnering, onthou, sentimentaliteit, verlange, heimwee . . . in Frans lees ons “mal du pays” (“homesickness”). “Sehnsucht” in Duits.

En hoe mooi vertolk Mimi Coertse nie “Heimwee” nie, wat Coenie de Villiers en Jan Blohm so grinterig sing in hul duet met die nostalgie wat steeds deurskemer.

In my kantoor staan ’n Japannese afdruk wat ’n man my geskenk gegee het in Nagasaki toe ek vir hom ’n R100-noot gegee het vir sy versameling teen die muur, met note van oor die aardbol. Bestaan daardie eetplek nog?

Die afdruk staan in my kantoor – gesluit al vir langer as ’n jaar aan die Universiteit van Kaapstad.

Hoe verlang ek nie nou na daardie ruimte nie . . .

Op een van my reise in Suid-Amerika het iemand vir my ’n noot uit Angola present gegee – vir my ’n simbool van melancholie.

Hier was ’n slopende oorlog gevoer en oor daardie land het ons almal voorstellings gemaak uit die vele tekste wat ons hieroor gelees het.

Dez Kwanzas. Agterop twee bokke met horings in mekaar gevleg. En na regs die gesig van ’n man. ’n Beeld van ’n dooie mens?

Hélène Cixous, die Franse filosoof (wat Jacques Derrida as een van die grotes uitgesonder het) praat van “nostalgeria”, die verlange na die jeug wat sy beleef het as jong mens in Algerië. Soos vele denkers in Frankryk, moes sy haar plek oopveg as denker in Europa. Die geborgenheid van haar jeug en die verlange na haar moeder staan opgeteken in haar pragboek Portrait de Jacques Derrida en jeune saint juif (Portrait of Jacques Derrida as a Young Jewish Saint).

In Botswana, so vertel ’n man my op ’n reis daar, oorstroom ’n rivier en die hewige reëns sny ’n ma-olifant van haar kleinding af. Vir drie dae roep die ma van die anderkant na hom . . . En dan vertrek sy saam met die trop, terwyl die outjie alleen agterbly. In Japan het ek geweldige verlange na my heimat ervaar en selfs ’n gegraveerde pen verloor.

Joan Hambidge
Komorebi
Tussen lig en donkerte
op die sinkansen na ’n futon
tussen Tokio en Nagasaki
verloor ’n pen my
tel tankas en haikoes op
bloeisels in Kioto
by die vele tempels
onthou ek nou
dat dié heilige stad
tsoenami’s, aardbewings,
atoombomme,
oorleef het..


– Joan Hambidge

Meer oor:  Letterkunde  |  Reis  |  Kaapstad  |  Joan Hambidge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.