Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
In Kennedy se spore

Lank laas was daar ’n nuwe president in Amerika van wie so baie verwag is as Joe Biden. Dit herinner aan verwagtings oor John F. Kennedy, wat Woensdag 60 jaar gelede ingehuldig is, skryf Leopold Scholtz.

Joe Biden, wat Woensdag ingehuldig word as president van die VSA, saam met sy vrou, dr. Jill Biden. Foto: Getty Images

Twee presidente. Albei Rooms-Katolieke Christene. Albei van Ierse afkoms. Albei van die Demokratiese Party. Albei effens aan die linkerkant van die politieke spektrum. Albei in ’n geveg teen regse ekstremiste gewikkel.

Tog is daar ’n groot verskil.

Toe hy op 20 Januarie 1961 op die trappies van die kongresgebou in Washington beëdig is, was John F. Kennedy net 43 jaar oud, op een na die jongste president tot nog toe (die jongste was Theodore Roosevelt op 42). Met sý beëdiging vandeesweek staan Joe Biden op die rype ouderdom van 78 – die oudste tot nog toe.

Kennedy se bewind is natuurlik op 22 November 1963 kortgeknip toe Lee Harvey Oswald hom in die stad Dallas, Texas, vermoor het. Hoe lank Biden gaan hou in die lig van die vloedgolf haatpropaganda wat vanuit regs-ekstremistiese geledere oor hom uitgestort is, weet nugter. Dis nie verniet dat 25 000 troepe van die Nasionale Garde vandeesweek in Washington vir die beëdiging ontplooi word nie.

Die oupa en die popster

In dié dae het Amerikaanse historici en politieke wetenskaplikes oorvloediglik teruggekyk na die relatief kort bewindstyd van Kennedy en dit onwillekeurig met Biden vergelyk.

Biden laat nie juis mense se bloed vinniger pomp nie. Hy maak die indruk van ’n ietwat saai, vriendelike oupa wat in sy tuin werk en koffie op die stoep drink met sy kleinkinders wat op sy knie sit.

Kennedy was ’n vars nuwe gesig, ’n charismatiese figuur wat sy ondersteuners – amper soos ’n popster – rasend op hul voete gehad het. Selfs vandag nog word die plek waar Oswald hom agter in ’n oop motorkar geskiet het, jaarliks deur sowat 350 000 mense besoek, wat dit byna soos ’n bedevaart sien.

Dis nie dat Kennedy so verskriklik goed in die verkiesing van November 1960 gevaar het nie. Om die waarheid te sê, hy het ’n naelskraapse meerderheid van 0,17 persentasiepunte teen Richard Nixon behaal.

Die kontras met sy voorgangers kon egter nie groter gewees het nie. Press. Harry S. Truman (1945-’53) en Dwight D. Eisenhower (1953-’61) was albei middeljarige, stewige, waardige (en grysvaal) figure. Goeie presidente, maar nie vreeslik charismaties nie.

Kennedy was alles wat sy voorgangers nié was nie. Hy was jonk, aantreklik, ’n meesleurende redenaar, een wat skares op hul voete kon kry.

Een van sy beste uitsprake, wat vandag steeds aangehaal word, kom juis uit die toespraak wat hy tydens sy beëdiging gelewer het: “Vra nie wat jou land vir jóú kan doen nie; vra wat jý vir jou lánd kan doen!”

Kubaanse krisis

Kennedy se presidentskap is veral op twee terreine van geskiedkundige betekenis.

Op internasionale terrein het die destydse leier van die Sowjetunie, Nikita Chroesjtsjof, besluit om dié jong bewoner van die Withuis te toets.

Kennedy was voor sy presidentskap ’n senator, wat hom nie juis toegerus het vir die hantering van internasionale krisisse nie. Gevolglik was Chroesjtsjof se uitlokkende aksie, om missiele met kernplofkoppe op Kuba te stasioneer, ’n ongelooflike uitdaging.

Die eiland Kuba lê in die Karibiese See, relatief naby aan Amerika. Die eiland het net enkele jare tevore, in 1959, deur die gewelddadige revolusie van Fidel Castro, ’n kommunistiese diktatuur – en dus bondgenoot van die Sowjetunie – geword.

Deurdat die Sowjets nou kernmissiele só naby aan Amerika sou kon stasioneer, is Amerika se vermoë om homself teen ’n onverwagse aanval te beskerm, feitlik totaal geneutraliseer.

’n Vasbeslote Kennedy het geweet dis nou of nooit. Hy het dus ’n vlootblokkade van die eiland afgekondig en by wyse van spreke ’n kordon met honderde oorlogskepe opgestel om die Sowjet-vragskepe met die missiele voor te keer – en te kelder, as dit nodig sou wees.

Ná ’n paar dae waarin miljoene mense wêreldwyd hul vingernaels stompies afgebyt het, het Chroesjtsjof bes gegee en die skepe teruggeroep. Die krisis was verby – ’n yslike oorwinning vir Kennedy.

‘Klein apartheid’

Maar Kennedy se tweede toets was in bepaalde opsigte veel moeiliker. Dit was om ’n wetsontwerp deur die kongres aanvaar te kry wat die teoretiese gelyke regte vir swart mense in die praktyk sou afdwing.

Amerika, soos baie ander lande in die sogenaamde nuwe wêreld (waaronder Suid-Afrika), het ’n lang geskiedenis van slawerny en rassisme. Ná die vrystelling van die slawe (die onderwerp van ’n bloedige burgeroorlog in die 1860’s) was swart mense in Amerika teoreties vry, maar in veral die suidelike deelstate het hulle in die praktyk verreweg nie dieselfde regte as hul wit landgenote geniet nie.

In die suide het die sogenaamde Jim Crow-wette gegeld, waardeur segregasie tussen wit en swart verplig was.

Die regsreël (in teorie) was “apart, maar gelyk”, maar in die praktyk het dit byna altyd neergekom op “apart, maar minderwaardig”.

Swart Amerikaners het, weer eens in teorie, stemreg gehad, maar is dikwels met geweld verhinder om as kiesers geregistreer te word of op stemdag naby aan ’n stembus te kom. Dit was eintlik maar ’n soort “klein apartheid”, soos ons dit in Suid-Afrika geken het (sonder die tuislande van “groot apartheid”).

Kennedy was die burgerregtebeweging, wat ná sy bewindsaanvaarding momentum gekry het, aanvanklik nie juis simpatiek gesind nie. Sy eerste reaksie was om federale troepe te stuur om onluste op die kampus van die Universiteit van Mississippi te onderdruk, maar hy het begin planne maak vir ’n burgerregtewet vir sy tweede termyn, wat in 1965 sou begin.

Op 18 Mei 1962 was hy in ’n toespraak op die kampus van die Vanderbilt-Universiteit in Nashville, Tennessee, nog taamlik katvoet: “Dié nasie is nou betrokke by ’n voortgaande debat oor die regte van ’n deel van sy burgers. Dit sal voortgaan, en daardie regte sal uitgebrei word totdat die vereiste wat gestel is deur die nasie se stigters bereik is en alle Amerikaners gelyke geleenthede en vryheid onder die reg geniet.”

Maar hy het in ’n stroomversnelling beland: Die federale hooggeregshof het die Universiteit van Alabama beveel om twee swart studente toe te laat. Omdat die goewerneur, die aartskonserwatiewe George Wallace, fisiek voor die ingang gaan staan het om die twee se toegang te verhinder, het Kennedy federale troepe beveel om die hofbevel af te dwing.

John F. Kennedy Foto: istock

’n ‘Morele krisis’

Daardie aand het die president ’n kragtige toespraak oor die radio gehou waarin hy die kwessie tot ’n “morele krisis” verklaar het. Hy het aangekondig dat hy ’n wetsontwerp by die kongres sou indien om segregasie onwettig te verklaar.

Hy het gesê Amerika “is gestig op grond van die beginsel dat alle mense gelyk geskape is, en dat die regte van elkeen verminder word as die regte van één bedreig word”.

Op 19 Junie 1963 het hy die wetsontwerp aan die kongres voorgelê. Maar hy sou nie die vrugte van sy arbeid smaak nie, want op 22 November 1963 het Oswald hom vermoor. Die wetsontwerp sou later in die aangesig van verbete konserwatiewe weerstand in die huis van verteenwoordigers en senaat goedgekeur word.

Op 2 Julie 1964 het pres. Lyndon B. Johnson as Kennedy se opvolger die wetsontwerp formeel geteken.

Kennedy se erfenis werk tot vandag na. Die Sowjetunie het nooit in sy doel geslaag nie en in 1991 in duie gestort. En daar is steeds mense wat gelyke burgerregte vir swart mense teenstaan, maar die politiek en die reg is nie aan hul kant nie.

Kennedy se nalatenskap is beduidend – en van belang ook vir Biden se presidentskap.

Dr. Scholtz is ’n onafhanklike kommentator wat in Nederland woon.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.