Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘In my tyd’ was dit skoolgaan tot laaste uur

Hygend hert, kan jy glo dis al sowaar weer Desember nadat dit net nou die dag óók Desember was?

Waar’s die jaar heen, mense?!

Drie weke gelede was al vir my soos Kersfees, nie net omdat winkels in September Kersversierings opsit nie, maar oor al die skoolkindertjies in die strate. ’n Mens mag mos nie meer praat van “in my tyd” nie, want dan kyk hulle jou met ’n frons aan asof jy saam met ’n paar ander dinosourusse uit Jurassic Park ontsnap het.

Maar ek moet nou sê, in mý tyd het mammies nie kindertjies al middel November teen negeuur by die skool kom oplaai om te gaan roomys eet en ysskaats nie. Ons het skoolgegaan tot die laaste dag en die laaste uur nadat jy gedwing is om skoolbanke af te skuur (sodat volgende jaar se outjies ’n skoon bank het vir hul graffiti-kunswerke), ons moes inkpotte uitwas (ja, Seun, ons dinosourusse het nog met ink leer skryf) en gras geplant op die rugbyveld. Ja, enigiets om ons uit die kwaad te hou.

Blouwillem

En nou? Nou begin die vakansie drie weke vroeër en die nuwe jaar twee weke later. G’n wonder ons bloedjies kan in matriek nog nie lees of skryf nie.

En dis nie al nuwe ding nie. Nee, daar is nou wetgewing in die pypleiding vir verpligte vaderskapverlof vir die pappies ná ’n kleinding se geboorte (hoewel die parlementêre pypleiding amper so vuil en verstop is as die gemiddelde plattelandse dorpie se rioolwerke). Hoe lank dié doekeverlof gaan duur, is nog nie duidelik nie, maar jy kan net dink hoe dit die reeds geroeste ratte van ons rommel-ekonomie tot stilstand sal laat knars as ’n ou vinnig ná mekaar so ses kinders het.

Dik Daan wil weet of dié reëling terugwerkend gaan wees vir ons oumanne en indien nie, of ’n ou dalk sal kan vra vir oupaverlof.

“Wat my verder hinder, is hoe hulle so ’n kraampa se bewegings gaan monitor,” sê hy. “Sal hy soos die ouens wat tot huisarres gevonnis word ’n opsporingsband om sy gewrig moet dra om te keer dat hy nie gholfbaan of viswaters toe wegdwaal nie? En dalk videobewyse waar hy doeke omruil en bottels was en langer verlof vir ’n koliekbaba of ’n tweeling?”

Ons sal maar sien.

Twee Saterdae gelede het ons ou boeremarkkameraad nog blommetjies gekoop en huis toe gevat, ’n tradisietjie waarmee hy elke week volgehou het, selfs ná sy geliefde Itha se oorlye so drie jaar gelede.

Ek, Sarel en hý met sy stil glimlaggie het week ná week staan en moerkoffie drink (regte sakkiekoffie), pannekoek, vetkoek, skilpadjies of pap en kaiings geëet en die kabinet geskommel, nonsies gepraat en nóg baie meer nonsies gepraat. Nooit ’n skewe of lelike woord uit sy mond nie.

Laas Saterdag het ons ander twee ’n traan of tien met ’n polisiekoffietjie afgesluk en toe dié ou gentleman, Anton Lubbe (83), gaan begrawe. Ai!

Meer oor:  Blouwillem  |  Rubriek  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.