Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
In ’n gat moet jy ophou grawe, JZ

Oudpres. Jacob Zuma het die hoop onder baie Suid-Afrikaners dat sy dae as politikus getel is, verlede week voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping ’n gevoelige knou toegedien.

Henry Jeffreys

Zuma was op sy uitgeslape beste voor die kommissie, en sy regspan soos ’n pak wolwe op die spoor van ’n prooi. Hulle was nie daar om die kommissie behulpsaam te wees nie, maar om hulle te ontwrig. En hulle het dit met onverbloemde voorbedagte rade gedoen.

Aan die begin van die verrigtinge het Zuma versoek om inleidende opmerkings te maak. Regter Raymond Zondo het dit toegelaat, waarskynlik tot sy latere spyt.

Dit het vinnig ontaard in ’n lang tirade oor hoe die oudpresident oor dekades heen die slagoffer was van verdagmaking deur sy kamerade in die ANC (selfs toe dit nog ’n bevrydingsbeweging in ballingskap was).

Zuma was lank die ANC se intelligensiehoof en as sulks weet hy “baie dinge oor baie mense”, het hy gedreig. En later het hy die name genoem van Ngoako Ramatlhodi en Siphiwe Nyanda, twee senior lede van die ANC en voormalige kabinetsministers. Volgens Zuma was hulle glo spioene vir die apartheidsregering.

Zuma het dié verdoemende beskuldigings in die lug laat hang. Vir hom was dit tyd om aan te beweeg na wat lyk na die eintlike doel van sy aanslag, naamlik om die geloofwaardigheid van die kommissie te bevraagteken.

Sy regspan het dit beklemtoon dat hy op uitnodiging van die kommissie teenwoordig is, maar vyandig behandel word deur die getuienisleier adv. Paul Pretorius. Die Zuma-kamp het aangevoer die idee was nie vir hom om onder kruisondervraging geneem te word nie. Dit was egter presies wat die kommissie gedoen het, het hulle beweer. Die kommissie het dit ontken.

Verlede Woensdag het Zuma se regspan kennis gegee dat hy aan die verrigtinge gaan onttrek. Daar was absolute konsternasie, presies wat Zuma-hulle beplan het.

Dit het uiteindelik Zondo se rustige en wyse geaardheid geverg om die week te beredder. Hy het agter die skerms bemiddel om Zuma tot ander insigte te bring en die oudpresident het besluit om tog sy deelname voort te sit.

Een ding is egter seker: Zuma het géén voorneme om vrae oor sy moontlike betrokkenheid by staatskaping – hy verpes die term – te beantwoord of te erken nie.

Dit is begryplik, want hy is maar alte bewus dat adv. Shamila Batohi en haar aanklaers op die kantlyn wag, gereed om dagvaardings uit te reik op grond van wat hulle by die Zondo-kommissie hoor.

Die kommissie en die land wil antwoorde hê, nie ontwykende en onoortuigende ontkennings nie.

Zuma besef ook alte goed dat ’n getuiebank in ’n hof die Zondo-kommissie soos ’n Sondagskoolpiekniek sal laat lyk. Hy wil dit ten alle koste vermy.

Die vraag is wat nou – wat gebeur wanneer Zuma sy terugkeer na die kommissie maak? Die antwoord is duidelik: Die kommissie moet voortgaan met die uitvoering van sy mandaat en Zuma soos enige ander getuie behandel. Zuma moet op sy beurt sy strategie en taktiek heroorweeg.

Die kommissie en die land wil antwoorde hê, nie ontwykende en onoortuigende ontkennings nie. Daar is ’n gesegde wat lui: As jy in ’n gat is, hou op grawe. Zuma moet ophou grawe.

Hy moet ook mooi dink of sy plan om mense as spioene vir die apartheidsregering te brandmerk, sy beeld in die ANC gaan baat of beskadig.

Hy moet ook aanvaar dat sy rol as aktiewe politikus verby is en moet sy opvolger, pres. Cyril Ramaphosa, nou uitlos om sy werk te doen en sy mandaat uit te voer.

Dus, kameraad Zuma, dit is tyd om die son te laat sak oor wat aanvanklik ’n belowende politieke loopbaan was, maar wat jy deur jou eie toedoen verkwansel het.

Meer oor:  Henry Jeffreys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.