Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
In ’n sinkhut in Mahikeng pryk ’n nuwe TV-stel
Dana Snyman

‘Het jy gesien hoe plunder hulle die winkels?” vra Erna oor die foon. “Jy moet kyk, dis verskriklik.”

Dit is my vyfde of sesde dag in die bed, die virus wil my nie los nie. Ek sukkel regop en stap sitkamer toe met lam bene, sak op die bank neer, skakel die TV aan, gaan na kanaal 403 toe. eNCA. Regstreeks uit Pietermaritzburg.

Dit lyk na ’n uitverkoping vir die einde van die wêreld, en niemand hoef te betaal nie. ’n Man kom met ’n plastiektafel op die kop by ’n winkelsentrum uitgestap, ’n vrou stoot ’n trollie kruideniersgoed, verby ’n kêrel wat sukkel om ’n fiets in ’n Toyota Corolla se kattebak te kry.

Dan piep my selfoon: ’n please-call-me van Moses Makhondwane af. Ek bel hom. “Is alles reg daar by julle, Moses?” vra ek.

“Not so fine, Ouboet,” sê hy. “The people they are angry.”

“Do they want to loot the shops, Moses?”

“Others want to, Ouboet. I don’t know.”

Moses woon in ’n gehuggie so 30 km van Mahikeng in Noordwes. Hy is Johannes Bogosi, wat by my oorlede pa op Ventersdorp gewerk het, se swaertjie. Iewers langs die pad het ook hý deel van my lewe geword.

“Can you please help me, Ouboet,” kom die onafwendbare vraag. “We struggle.”

Terwyl mense by ’n winkel op Pietermaritzburg instorm en klere en goed van rakke af gryp, stuur ek vir Moses geld met behulp van Absa se cashsend-diens op Mahikeng waar hy dit by ’n kitsbank kan gaan trek.

’n Seun, hy kan nie veel ouer as tien wees nie, wat agter ’n ouma aanstap met ’n tamaai pak kaaskrulle in sy arms.

Die hele dag lank lê ek op die bank voor die TV en kyk hoe die mense in KwaZulu-Natal en in Soweto goed uit winkels en winkelsentrums dra. Mense wat goed gryp en goed vat en vlug, sonder dat dit regtig lyk of hulle vlug. ’n Man wat ’n yskas op sy wieletjies in ’n straat af stoot. ’n Seun, hy kan nie veel ouer as tien wees nie, wat agter ’n ouma aanstap met ’n tamaai pak kaaskrulle in sy arms. Die ouma gaan staan, draai na die seun toe. In albei hande dra sy sakke vol goed. Dit lyk of sy die seun aanpraat, vir hom sê: vinniger, toe.

Later is dit aand en weer die volgende oggend en ek gaan sak weer op die bank voor die TV neer. Kanaal 403. Regstreeks uit KwaZulu-Natal en Soweto. Geboue wat brand.

Ek bel vir Moses Makhondwane. Gewoonlik sê hy dankie wanneer ek vir hom geld gestuur het. “Ek hoor niks van jou nie, Moses,” sê ek.

“I’m so sorry, Ouboet,” sê hy. “I came home late last night. I brought the TV with the kruiwa from town.”

“What TV, Moses?”

“I bought a TV for my children, Ouboet.”

“Het jy vir jou ’n dekselse TV gekoop, Moses? Ek dog jy wil kos hê.”

“I don’t want my children on the street, Ouboet. You don’t know this place. You help us a lot. Thank you. Thank you so much.”

Later kry ek WhatsApp van Moses, met ’n uitfokusfoto van ’n nuwe TV-stel in ’n sinkhut iewers anderkant die grense van my verstaan.

Meer oor:  Dana Snyman  |  Woede  |  Betogings  |  Skok  |  Polisie  |  Plundering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.