Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'In 'n tyd van fopnuus is die waarheid 'n kuns'

Nuusverslaggewing gaan oor die weergee van die waarheid; nie Hlaudi se waarheid, Nommer Een se waarheid, Julius se waarheid of Helen se waarheid nie, maar die volle, onafhanklike, onbevooroordeelde waarheid vanuit 360 grade belig, skryf Gert Coetzee.

Gert Coetzee.

Gits, Magdaleen, waarin begeef jy jou nou? Dít was my gedagte toe Magdaleen Kruger, stasiebestuurder van RSG, Donderdag self agter die Praat Saam-mikrofoon inskuif en luisteraars uitnooi om te laat weet wat hulle graag op die radiostasie sou wou hoor.

Tóé is dit ook so. Die eerste inbellers laat waai met veralgemenings oor waarvan hulle nie hou nie. Daar’s te veel klassieke musiek en te min ligte musiek; elke paar ure moet ’n boeremusiek-nommertjie gespeel word; meer country-musiek, assblief!; die nuus word nooit opgevolg nie. Meer stories, asseblief! Ensovoorts.

Magdaleen wys hulle onseremonieel tereg, en die gesprek kry koers. En lewer vir RSG heelwat stof tot nadenke. Hoewel dit onmoontlik is om almal tevrede te stel.

Elke nuusmedium beleef kritiek of wensdenkery oor inhoudskeuse.

Vinnige voorbeeld: Hier kry ons daagliks SMS’e van dieselfde nommer, soms onder die naam Kallie Keelvol, soms onder Sir John en soms as komende van Oom Daan Diknek, waarin hy – as dit ’n hy is – gal afgaan omdat nóóit oor plaasmoorde berig word nie. Wat gewoon onwaar is.

Inhoudskeuse is ’n daaglikse wiggeltoer. Ongeag die aard of mandaat van die nuusmedium. Hetsy dit plaaslike koerant, openbare uitsaaier, digitale nuusbreker of diepte-ondersoeker is.

Ook – of weer – in die tyd van fopnuus, wat so oud soos Adam is. Joseph Goebbels, propagandameester van Hitler, het gesê as jy ’n leuen genoeg herhaal, gaan mense dit later glo. Soos Stalin, was Goebbels ten gunste van spraakvryheid – vir menings waarvan hy gehou het.

Nes Hlaudi Motsoeneng, uitgewerkte SAUK-propagandis van die ANC, wat fopnuus as nuus wou voorhou. Omdat die nasie moes glo dat wat gebeur eintlik nie gebeur nie. Nes geglo moet word dat Jacob Zuma eintlik ’n goedige oompie en Nkandla sy herereg is.

'Onafhanklike nuus' is nie ’n lukrake besigheid nie.

As Richard Nixon sy sin gekry het, was dit asof Watergate nooit gebeur het nie. Die Inligtingsdebakel het apartheid probeer vergoeilik. En sommiges wil ons wys maak staatskaping gebeur nie.

Nuusverslaggewing gaan oor die weergee van die waarheid; nie Hlaudi se waarheid, Nommer Een se waarheid, Julius se waarheid of Helen se waarheid nie, maar die volle, onafhanklike, onbevooroordeelde waarheid vanuit 360 grade belig.

Wat ’n ontwykende ideaal is, maar die toewyding daartoe moet daar wees.

Al is RSG as deel van His Master’s Voice nie ’n “onafhanklike” medium nie (en nuus net deel van sy mandaat om die nasie in te lig, op te voed en te vermaak), het dit die afgelope jaar met die SAUK-8 aan die spits staal getoon deur die regering se aandrang op liegnuus teen te staan. Noodwendig betuig die joernalistieke gemeenskap solidariteit hiermee. En die suiwering van die SAUK is te verwelkom.

Die nuwe SAUK-raad wat Donderdag aangekondig is (ek dink nie Magdaleen se oggendpraatjie had iets daarmee te doen nie), is ook baie beter bevoeg om die mandaat van ’n openbare staatsuitsaaier – vir die volk – te dryf. Ja, daar ís lede met ANC-bande. En, nee, geen Afrikaanssprekende nie – maar ons het RSG.

Nietemin, “onafhanklike nuus” is nie ’n lukrake besigheid nie. Vir ’n primêre nuusmedium gaan dit nie oor publiseer of nié publiseer nie (dit sou selfsensuur kon wees), maar oor hóé om te publiseer. Of uit te saai.

Ingevolge beginselvaste merkstene, waaroor ek nie nou uitwei nie. Die Kallie Keelvols, Oom Daan Diknekke en sommige inbellers weet in elk geval alles en gaan nie oortuig word nie.

As ’n mens kyk na wat die media, ondanks gebreke, die laaste tyd in Suid-Afrika regkry, ook in samehang (soos met #Guptaleaks), is spraakvryheid en joernalistiek, as ’n demokratiese teenwig, in ons land relatief gesond.

Ek is ’n Netwerk24-leser, maar luister graag RSG, meestal vroeg soggens, laat saans en op Sondae, ook na musiek en politieke kommentaar. En het waardering vir die inhoudsgesprek met luisteraars.

* Coetzee is die redakteur van Volksblad.

Meer oor:  Rsg  |  Gert Coetzee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.